1. Naam :
Die naam van die klub sal wees die "TRADISIONELE BOEREMUSIEKKLUB
VAN SUID-AFRIKA" , hierna die KLUB genoem.
2. Doelstellings :
2.1 Die versameling en uitbou van tradisionele boeremusiek.
2.2 Om die onvervreembare en unieke karakter van tradisionele
boeremusiek ongeskonde te bewaar. (hierna afgekort na TBM)
3. Uitvoer van doelstellings :
Die klub sal streef om sy doelstellings aktief te bevorder deur
:
3.1 Persone, wat die doelstellings onderskryf, byeen te bring.
3.2 Die be-oefening van TBM aan te moedig en leiding aan voornemende
musikante te verskaf.
3.3 Toe te sien dat TBM die nodige publisiteit in die media geniet.
3.4 Te reël, of om te onderneem, afhangende van die omstandighede,
dat laserskywe (CD's) en kassette van sowel ou 78-spoed plate
as van nuwe vertolkings van TBM gemaak en versprei word.
3.5 Navorsing oor die historiese ontwikkeling van TBM te stimuleer
of te onderneem.
3.6 Die komponeer van nuwe stukke in die TBM-idioom aan te moedig.
3.7 Die veilige bewaring van alle versamelstukke te verseker.
3.8 'n Nuusbrief uit te gee.
3.9 Fondse in te samel om die doelstellings te bereik.
3.10 Takke te stig om lede in verskillende geografiese sentra
bymekaar te bring.
3.11 Die bedrywighede van die klub sal geheel en al slegs daarop
gemik wees om die doelwitte te bevorder.
4. Samewerking en affiliasie met ander
organisasies:
4.1.1 Hulp, in die vorm van advies en morele bystand, maar nie
geldelike ondersteuning nie, kan aan organisasies, met oogmerke
wat aansluit by die van die klub, verleen.
4.2 Enige vorm van samewerking en/of affiliasie kan slegs oorweeg
word indien die naam en beginsels van die klub, soos vervat in
Artikel 1 en 2 van hierdie grondwet, sowel as sy apolitiese karakter,
nie gekompromitteer word nie.
5. Lidmaatskap :
5.1 Geen kategorie van lidmaatskap is aan 'n ander persoon oordraagbaar
nie.
5.2 Elke lid sal 'n agenda, 'n notule van die vorige Algemene
Jaarvergadering (AJV) en 'n finansiële staat een-en-twintig
(21) dae voor 'n AJV ontvang.
5.3 Daar sal drie kategorieë van lidmaatskap wees:
5.3.1 Gewone lidmaatskap: Aansoek om lidmaatskap moet skriftelik
aan die komitee gerig word vir goedkeuring.
In die geval van 'n onsuksesvolle aansoek, hoef geen rede verskaf
te word nie. 'n Gewone lid is geregtig op alle voordele en fasiliteite
wat die klub bied en hy/sy kan een stem uitbring op vergaderings.
'n Persoon se toetrede tot die klub is onderhewig aan die vooruitbetaling
van jaarlikse ledegeld. Voorsiening word gemaak vir 'n spesiale
ledegeld-tarief vir gesinne en groepe persone, bv. skole. Slegs
die senior lid hoef aansoek om lidmaatskap te doen en die voorregte
van so 'n gesin, of groep, sal dieselfde as die van 'n gewone
lid wees, met die uitsondering dat slegs die genomineerde lid
mag deelneem aan bespekings en beslissings op vergaderings, waar
hy/sy op een stem geregtig is. Die spesiale ledegeld tarief vir
gesinne en groepe beloop 150% (een honderd-en-vyftig persent)
van die vir gewone lede.
5.3.2 Erelidmaatskap: Die komitee, of 'n gewone lid, kan voorstel
dat enige persoon wat 'n besondere bydrae tot TBM gelewer het,
of spesiale diens aan die klub gelewer het, deur die doelstellings
aktief te bevorder, tot erelid benoem word. Die voorstel, wat
op skrif moet wees en 'n volledige uiteensetting van die persoon
se bydrae moet bevat, moet aan die sekretaris gestuur word vir
voorlegging aan die komitee. Die komitee sal die finale beslissing
hê. 'n Erelid sal:
5.3.2.1 Alle voorregte van 'n gewone lid geniet
5.3.2.2 Vrygestel wees van jaarlikse ledegeld
5.3.2.3 By 'n gepaste geleentheid 'n oorkonde ontvang
5.3.2.4 Hom/haarself onderwerp aan dissiplinêre maatreëls
volgens Artikel 12
5.3.3 Spesiale lidmaatskap: Enige organisasie, persoon of groep
persone, wat voldoen aan dieselfde vereistes hierbo gestel vir
erelidmaatskap, kwalifiseer om benoem te word vir spesiale lidmaatskap.
Die prosedure vir goedkeuring is dieselfde as vir erelidmaatskap.
Die voordele van 'n spesiale lid sal beperk wees tot 'n oorkonde
wat aan die hoof van die organisasie of groep aan wie die toekenning
gemaak word, oorhandig word.
6. Bestuur :
6.1 Die beheer en bestuur van die klub sal gesetel wees in 'n
komitee wat soos volg saamgestel is : Voorsitter, Onder-voorsitter,
Sekretaris, Penningmeester, vier (4) addisionele lede en die Voorsitters
van TBK takke.
6.2 Die voorsitter en komiteelede (uitgesonder die voorsitters
van TBK-takke) sal tydens 'n AJV of 'n Spesiale vergadering aangewys
word.
6.3 'n Onder-voorsitter, sekretaris en penningmeester sal deur
die komitee self uit verkose lede aangewys word.
6.4 Komiteelede word vir 'n termyn van een (1) jaar gekies.
6.5 Voorsitters van TBK-takke sal outomaties sitting op die komitee
hê.
6.6 Die plig van die komitee is om die klub te beheer en te bestuur
in 'n gees wat die doelstellings, soos in Artikel 2 vervat, verwesenlik.
6.7 Die komitee het die reg om 'n persoon/persone te ko-opteer
om 'n vakature wat mag ontstaan, te vul, of om vir 'n vooraf bepaalde
periode 'n spesifieke taak te verrig. In geen geval egter sal
die persoon/persone langer diens doen as die ampstermyn van die
volle komitee nie. So 'n persoon/persone sal stemreg op vergaderings
hê.
6.8 Vyf (5) lede sal tydens alle vergaderings 'n kworum vorm.
6.9 Beslissing sal by wyse van 'n stemming geskied en in die geval
van 'n gelykop verdeling, sal die voorsitter, naas sy gewone stem,
ook 'n beslissende stem hê.
6.10 Die komitee kan sub-komitees, saamgestel uit komiteelede,
aanwys om 'n spesifieke taak/take te verrig.
6.11 Aangaande klubverwante aangeleenthede wat as sensitief, kontroversieel
of as klubbeleid vertolk kan word : Geen komiteelid sal onder
enige omstandigheid namens die klub 'n mening in die openbaar
uitspreek sonder dat die aangeleentheid op 'n komiteevergadering
uitgeklaar is nie.
6.12 Slegs die komitee sal geregtig wees om kontrakte namens die
klub te sluit en goed te keur.
6.13 Slegs TBK-lede, wat nie lid is van 'n soortgelyke organisasie,
waarvan die doelstellings onversoenbaar is met dié van
die TBK, of as mededingend beskou kan word, is verkiesbaar vir
die bestuur van die TBK of enige TBK-tak.
6.14 Pligte van ampsdraers:
6.14.1 Voorsitter: Hy sal die leiding neem by alle vergaderings
en finale beheer oor finansies van die klub, asook oor die pligte
van die sekretaris uitoefen. Hy alleen is by magte om verklarings
aan die media uit te reik. Hy sal saam met die sekretaris 'n agenda
vir elke vergadering opstel. Hy is by magte om komitee vergaderings
van TBK-takke by te woon, maar beskik nie oor stemreg nie.
6.14.2 Onder-voorsitter: Indien die voorsitter nie beskikbaar
is nie, sal die onder-voorsitter in sy plek optree, in welke geval
hy alle funskies en magte van die voorsitter waarneem.
6.14.3 Sekretaris: Hy sal behoorlik kennis gee en 'n agenda van
vergaderings aan alle belanghebbendes verskaf. Hy sal notules
van alle vergaderings byhoue en toesien dat dit aan belanghebbendes
versprei word. Hy sal 'n volledige lys van alle lede byhou. Hy
sal alle korrespondensie waarneem.
6.14.4 Penningmeester: Hy is verantwoordelik vir die byhou van
alle finansiële rekords en moet te ally tye volledig verslag
kan lewer van alle klubgelde wat deur hom en/of persone met gedelegeerde
magte hanteer word. Hy sal jaarliks 'n ge-ouditeerde finansiële
verslag aan 'n AJV voorl vir insae en goedkeuring. Hy sal jaarliks
'n ge-ouditeerde finansiële verslag aan die Ontvang van Inkomste
te Pretoria of Bloemfontein stuur.
6.14.5 Komiteelede: Alle lede is verplig om, indien dit nie strydig
met die grondwet is nie, opdrag van die komitee uit te voer.
7. Finansies :
7.1 Die klubs sal by 'n erkende handelsbank 'n rekening open vir
die hantering van alle klubfondse.
7.2 Slegs die penningmeester en twee komiteelede, soos deur die
komitee aangewys, sal tekenmagte hê.
7.3 Alle uitbetalings sal per tjek, wat onderteken is deur twee
gemagtigde ampsdraers, geskied.
7.4 Alle gelde, wat ampsdraeers namens die klub insamel/hanteer,
sal in die rekening inbetaal word en volledige besonderhede van
die transaksies moet aan die penningmeester verskaf word.
7.5 Fondse wat namens die TBK-takke in trust gehou word, sowel
as fondse wat vir 'n spesiale doel ingesamel word, kan met die
instemming van die komitee, in aparte spaarrekenings by die bogenoemde
handelsbank belê word.
7.6 Die finansiële jaar sal strek van 01 April tot 31 Maart
van die daarop volgende jaar.
8. Beleggings/winste :
8.1 Fondse beskikbaar vir belegging, mag slegs belê word
by geregistreerde finansiële instellings, soos omskryf in
Artilel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Beleggings
van Fondse) 1984 en in aandele wat op 'n gelisensieerde effektebeurs,
soos in die Wet op Beheer van Effektebeurse 1985 (Wet no. 1 van
1985) omskryf, genoteer is.
8.2 Geen profyte of winste mag aan enige persoon uitgekeer word
nie. Fondse mag slegs vir belegging of om die oogmerke waarvoor
die klub ingestel is, te verwesenlik, gebruik word.
8.3 Die Tradisionele Boeremusiekklub mag geen handelsbedrywighede,
ander bedrywighede met wins oogmerk, be-oefen nie, of deelneem
aan enige besigheids-, professionele- of beroepsbedrywighede van
enige van sy lede of enige van sy lede voorsien gedelike hulp
perseel, aanhoudende dienste of fasiliteite wat deur sy lede benodig
is, vir be-oefening van besigheid, professie of beroep.
9. Ledegeld :
9.1 Ledegeld is jaarliks vooruit betaalbaar op die lid se datum
van toetrede tot die klub.
9.2 'n Lid wat versuim om binne ses (6) maande vanaf die vervaldatum
sy ledegeld te betaal, sal sy lidmaatskap outomaties verbeur.
9.3 Lidmaaskapfooie sal deur die komitee vasgestel word en op
'n AJV of SV aan die lede vir goedkeuring voorgelê word.
10. Vergaderings :
10.1 Komiteevergaderings: Sal minstens vier keer per jaar gehou
worden elke lid sal minstens een-en-twintig (21) dae voor die
tyd 'n kennisgewing en agenda ontvang.
10.2 Algemene Jaarvergadering (AJV):
10.2.1 'n AJV sal elke jaar gedurende September gehou word en
lede sal ten minste een-en-twintig (21) dae voor die tyd 'n kennisgewing
en agenda ontvang.
10.2.2 Tien persent (10%) van alle ingeskrewe gewone lede sal
'n kworum vorm.
10.2.3 Lede kan die sekretaris minstens ses (6) weke voor 'n AJV
skriftelik versoek om 'n besprekingspunt op die agenda te plaas.
10.2.4 Die agenda moet 'n item "Algemeen" bevat om aan
lede 'n geleentheid vir bespreking te bied.
10.3 Spesiale vergadering :
10.3.1 'n SV kan op besluit van die komitee of op skriftelike
versoek van minstens twintig (20) ingeskrewe lede belê word
10.3.2 Die komitee mag nie 'n versoek om 'n SV te belê weier
nie en die nodige reëlings vir 'n SV moet binne een-en-twintig
(21) dae ontvangs van 'n vrsoek, getref word.
10.3.3 Een-en-twintig (21) dae kennis van 'n SV, sowel as die
rede daarvoor, sal skriftelik aan alle lede gegee word.
10.3.4 Slegs die aangeleentheid(e) waarvoor 'n SV belê is,
mag bespreek word.
10.3.5 Tien persent (10%) van alle lede sal 'n kworum vorm.
10.4 Buitengewone vergadering:
10.4.1 'n Buitengewone vergadering kan slegs deur die komitee
belê word om die verskanste artikels 1,2,4,10.4 en 11 van
hierdie grondwet te wysig.
10.4.2 Een-en-twitig (21) dae kennis van die vergadering sal aan
alle lede gegee word en hulle sal volledige uiteensetting van
die voorgestelde wysiging(s) ontvang
10.4.3 Sestig persent (60%) van alle ingeskrewe lede sal 'n kworum
vorm.
10.4.4 Die voorgestelde wysiging(s) kan slegs aanvaar word indien
ten minste negentig persent (90%) van die aanwesige lede ten gunste
daarvan stem.
11. Grondwet :
11.1 Enige wysiging aan die grondwet kan slegs onder die volgende
voorwaardes plaasvind :
11.1.1 Met die uitsondering van artikels 1,2,4,10.4 en 11 van
hierdie grondwet, kan alle ander artikels gewysig word op 'n SV
wat vir die doel belê is.
11.1.2 Alle lede sal volledige inligting ontvang oor die voorgestelde
wysiging(s)
11.1.3 Die wysiging(s) sal aanvaar word slegs indien vyf-en-sewentig
persent (75%) van die aanwesige lede ten gunste daarvan stem.
11.1.4 In die geval van artikels 1,2,4,10.4 en 11, wat die naam,
doelstellings en karakter van die klub omskryf en as onvervreembaar
beskou word, kan enige wysiging slegs op 'n buitengewone vergadering,
soos in artikel 10.4 bepaal, geskied
11.1.5 Met elke wysiging van die grondwet, sal 'n kopie van die
nuwe weergawe aan die Kommissaris van Binnelandse Inkomste, Posbus
402, Pretoria 0001 voorgelê word.
12. Dissiplinêre maatreëls
:
12.1.1 Enige gewone, ere- of spesiale lid, wat deur sy handelinge
en/of uitlatings die doelstellings en/of naam van die klub skend,
of indien sy/haar voortgesette lidmaatskap nie in belang van die
klub is nie, kan deur die komitee van sy lidmaatskap ontneem word.
12.2 Die komitee kan versoek dat die betrokke lid 'n skriftelike
verduideliking oor die aangeleentheid indien voordat 'n beslissing
gemaak word.
13. Takke :
13.1 Indien daar 'n behoefte ontstaan, kan lede wat in 'n spesifieke
gebied woonagtig is, by die komitee aansoek doen om 'n take te
stig.
13.2 Goedkeuring sal verleen word, onderworpe daaraan dat die
grondwet van die betrokke tak deur die komitee goedgekeur word
en nie enigsins met hierdie grondwet bots nie.
14. Ontbinding van die klub :
14.1 Die klub sal as ontbind beskou word indien die aantal ingeskrewe
gewone lede minder as tien persent (10%) bedra, of indien 'n besluit
tot dien effekte deur 'n meerderheid van vyf-en-sewentig persent
(75%) van teenwoordige lede tydens 'n AJV of SV daartoe besluit.
14.1.1 By ontbinding van die klub sal alle skulde eers vereffen
word, voordat die restant van die bates oorgedra word aan 'n ander
vereniging of organisasie met oogmerke soortgelyk aan die van
die klub.
15. Regspersoonlikheid :
15.1 Die klub kan regte en verpligtinge aangaan en kan in sy naam
regsgeding(e) instel of verdedig.