Gedurende 1980 het Piet
Bester by Hannes
Viljoen, die bekende konsertina bouer en speler gekuier. Hannes
het vir Piet gevra om met die oprigting van 'n grafsteen vir Faan
Harris, die leier van die Vier Transvalers, te help. Navrae
rondom die taak het Piet Bester by Kalie de Jager uitgebring,
en hulle het die saak ook met Manie Bodenstein, Jimmy
Henning en Danie Erasmus bespreek. Hulle het besluit on nie
net die grafsteen op te rig nie, maar om 'n klub te stig met die
volgende oogmerke:
"Die versameling, behoud en uitbouing van tradisionele
boeremusiek. Om navorsing te doen met betrekking tot die historiese
ontwikkeling daarvan en om die veilige bewaring van alle versamelstukke
vir die nageslag te verseker."
Hieruit is die Konsertinaklub van Suid-Afrika op 12 Maart 1981
in die kantore van die SAUK in Johannesburg deur bogenoemde persone
gestig. Later is besluit om die naam van die klub te verander
na die "Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika"
sodat een instrument nie bo enige ander uitgesonder word nie.