Gedurende 1980 het Piet
Bester by Hannes Viljoen, die bekende konsertina bouer
en speler gekuier. Hannes het vir Piet gevra om met die oprigting
van 'n grafsteen vir Faan Harris, die leier van die Vier Transvalers,
te help. Navrae rondom die taak het Piet Bester by Callie de Jager
uitgebring, en hulle het die saak ook met Manie Bodenstein, Jimmy
Henning en Danie Erasmus bespreek. Hulle het besluit on nie net
die grafsteen op te rig nie, maar om 'n klub te stig met die volgende
oogmerke: "Die versameling, behoud en uitbouing van tradisionele
boeremusiek. Om navorsing te doen met betrekking tot die historiese
ontwikkeling daarvan en om die veilige bewaring van alle versamelstukke
vir die nageslag te verseker." Hieruit is die Konsertinaklub
van Suid-Afrika op 12 Maart 1981 in die kantore van die SAUK in
Johannesburg deur bogenoemde persone gestig. Later is besluit
om die naam van die klub te verander na die "Tradisionele
Boeremusiekklub van Suid-Afrika" sodat een instrument nie
bo enige ander uitgesonder word nie.