Hoe kan Tradisionele Boeremusiek uitgebou word sonder om die
karakter daarvan skade te doen?
Alleen deur dit te speel en beter te probeer speel. Daar is inderdaad
baie aan die ou nommers te verbeter sonder om die karakter daarvan
geweld aan te doen. Op die ou 78-spoed plate is vele voorbeelde
van slordige samespel, wanballans, vals note, verkeerde akkoorde
en blatante foute. As mens in gedagte hou dat die opnametegnieke
van daardie dae 'n mens een kans gegee het om die opname te maak
is dit vir niemand 'n rede om hierdie musiek te verwerp of minag
nie. Ons moet dit eerder as ons plig beskou om dit te louter en
te veredel sodat dit 'n volksmusiek kan word waarop elke Afrikaner
trots kan wees.
Wanneer ek sê "louter en veredel" bedoel ek beslis
nie "moderniseer" nie. Ek bedoel nie 'n mens moet die
sterk vloeiende melodie, wat so kenmerkend is van baie tradisionele
nommers, kort-kort onderbreek met allerhande steurende en wanklinkende
akkoorde nie. Ek bedoel ook nie die verskillende begeleidende
instrumente moet op 'n tipiese Jazz-styl elkeen hulle eie koers
inslaan en sodoende die leidende instrument ondermyn nie. 'n Ou
nommer verbeter oon nie wanneer 'n mens dit 'n nuwe naam of komponis
gee nie.
'n Mens moet eerder konsentreer op korrekte harmonie en as 'n
mens 'n tweede stem wil gebruik, moet dit aanvullend en tot ondersteuning
van die melodie plaasvind.
Tradisionele Boeremusiek kan vandag nog gekomponeer word en ongelowiges
kan gerus by oom
Hannes Viljoen en oom Boet Steyn gaan kersopsteek.
Oor die kwessie van instrumente heers uiteenlopende menings.
Akoestiese instumente het 'n ander aanslag en hierdie manier van
instrument hanteer kan nie met elektroniese instrumente nageboots
word nie. Klankversterking in 'n groot lokaal doen nie afbreuk
hieraan nie. Die basviool is 'n skaars artikel en baie ongemaklik
om te vervoer dus kan 'n mens sekerlik nie 'n orkes verkwalik
as hulle eerder 'n baskitaar wil gebruik as die volume nie die
balans van die ander instrumente oorheers nie.
-Stephaan van Zyl