Dit is bykans onmoontlik om die ryk verskeidenheid van gevoelselemente,
nuanses en klanke wat die grondslag van boeremusiek vorm in woorde
te sit. Dit is 'n "ervaring" van sterk en unieke karakter
wat nie met musikale terme beskryf kan word nie.
In die woorde van wyle Dr. Hans la Grange: "Boeremusiek skakel
in by die vryheid van Suid-Afrika se vlaktes. Dit is soos die
deur van 'n vars omgeploegde land. Dit is soos 'n jong Afrikaner-os
wat vir die eerste keer die riem om sy kop kry, of soos 'n jong
perd wat ingebreek word. Dit is soos geel grasvlaktes in die laat
herfs, waardeur die wind gange waai..."
Die konsertina was, en is steeds vandag, die hoof instrument
in Boeremusiek. Dit word ondersteun deur sterk bespeelde ritme
kitare en 'n bas instrument soos die basviool, tjello of akoestiese
baskitaar. Behalwe vir die verskillende tipes konsertinas wat
in Boeremusiek gebruik word, is daar 'n verskeidenheid van dans
ritmes en variasies in begeleiding. Dit is opmerklik hoe elke
kunstenaar dikwels 'n unieke en herkenbare styl ontwikkel. Ewe
verstommend is hoe die verskillende tipes konsertinas asook die
geografiese streke binne Suid-Afrika divergerende disiplines binne
boeremusiek vorm.