[Bron: Die ontstaan en ontwikkeling
van Boeremusiek - W.A. Schultz]
Die term boeredans word in hierdie verband
gebruik as 'n kollektiewe term omdat dit die kenmerkende dansvorms
behels wat aan die betrokke boeremusiekwysies gekoppel word. lnderwaarheid
kom al hierdie danse, behalwe die vastrap, vanaf oorsee. Maar
al het die danse oorsee ontstaan, het hulle hier ingeburger geraak
en 'n besondere karakter aangeneem as gevolg van die kenmerkende
eienskappe van boeremusiek.
Die danse wat in Europa se balsale gewild geraak
het, het stadig versprei en Engeland die laaste bereik. Daarvandaan
het dit betreklik gou na Amerika en Suid-Afrika versprei. In Engeland
het verskeie groot danssale gedurende die 18de eeu tot stand gekom,
waarvan Almack's die bekendste was. Dit sal interessant wees om
te let op die danse wat teen die middel van die 19de eeu in Engeland
se balsale gedans was, want dit sal ongetwyfeld 'n weerspieëling
vind in die danse wat in Kaapstad gewild was.
Die vernaamste danse in hierdie genre is die wals, polka, seties
en masurka, maar daar is 'n ander "indringer", waarvan
die ouers onbekend is, en wat in die omgangstaal die vastrap genoem
word.
Die Wals
Die wals is 'n dansvorm
in drieslagmaat, wat die gewildste balsaaldans in Europa geword
het gedurende die 19de eeu. Die dans het vir langer as 'n eeu
gewild gebly en het ook die belangstelling gewek van die komponiste
van klassieke musiek gedurende die 19de en die begin van die 20ste
eeu, wat die opgewekte walsmusiek in baie van hulle komposisies
ingeweef het. As 'n dansvorm is die musiek tot 'n buitengewone
hoë peil verhef.
Alhoewel daar 'n vroeë musiekstuk van 1754 in die walsvorm
bestaan, het die dans op walsmaat eers teen die einde van die
18de eeu ontwikkel. In die suide van Duitsland, in Beiere, Oostenryk
en Bohemië was danse in drieslagmaat wat bekend was onder
name soos Deutscher, Dreher, Weller, en Ländler, gedans.
Die eenvoudige, ongesofistikeerde Duitse danse, in teenstelling
met die statige minuet, het toegeneem in gewildheid. Die gly-
en draaibewegings van die dansvorm het mettertyd gelei tot die
naam waltz vir die
besondere dansvorm.
In die balsale was 'n onderskeid gemaak tussen die wals en die
versamelnaam deutscher vir verskillende danse in drieslagmaat.
Amadeus Mozart, wat baie deutscher-en Ländlerwerke gekomponeer
het, het nie na een daarvan as waltz
verwys nie. In 1786 het egter 'n publikasie met 'n versameling
danse, wat ook walse insluit, verskyn.
Gedurende die laaste dekade van die 18de eeu het baie verslae
in nuusblaaie verskyn oor die gewildheid van die wals. Daar word
op gewys dat die wals die kontradans vervang het. Die gewildheid
van die wals het, soos verwag kan word, ook besware van sekere
kringe uitgelok.
Weenen, die hoofstad van Oostenryk, het die stad van die wals
geword, want daar het die dans alle ander danse in gewildheid
oortref. Die wals het alle nasionale grense oorgesteek, en in
1804 is berig dat die Franse dolverlief is op hierdie ligtende,
swewende dans. " 'n Wals, 'n wals!" was telkens die
uitroep vanaf die dansvloer, want die Franse kon net nie genoeg
van hierdie dans kry nie.
Sommige sedewagters oor die openbare moraliteit het natuurlik
hulle afkeur oor hierdie "malle gedraaiery" van die
wals uitgespreek en dit het eers in 1812 in Engeland posgevat.
In die Pruisiese Hof in Berlyn was dit verbied en is eers in 1818
toegelaat, alhoewel Koningin Luis dit reeds in 1794 gedans het
terwyl sy nog 'n prinses was.
Toestande in Europa gedurende die laaste kwart van die 18de eeu
was maar bra onstabiel en dit is onwaarskynlik dat die dans voor
die einde van die eeu na die Kaap sou gekom het. Daar word nie
in enige literatuur van die vroee 19de eeu wat oor die Kaap handel
na die wals verwys nie. Soos hierbo aangedui, is die wals eers
in 1812 in Engeland bekend gestel en dit is hoogs waarskynlik
dat die Britse militêre orkeste dit kort na die datum in
die Kaapkolonie bekend sou gestel het. Die eerste skrywer wat
na die wals verwys is Bird. Hy skryf dat die wals daardie tyd
(1822) baie gewild was.
Van die beroemdste komponiste van die 19de eeu, onder andere
Beethoven, Schubert, List, en Von Weber, het walse in hulle komposisies
ingesluit. Von Weber se meevoerende "Uitnodiging tot die
dans" (1819) is welbekend. Hulle komposisies is egter verhoogwerke
en nie vir die dansvloer bedoel nie.
Joseph Lanner (1801 - 1843) en Johann Strauss sr. (1804 - 1840)
was twee komponiste van die nuwe orde wat werke gekomponeer het
wat die wals op 'n hoë vlak geplaas het, wat musikale komposisie
sowel as dansvorm betref. Hulle het 'n aantal jare saamgewerk
maar die venootskap is in 1825 beëindig. Voordat hulle paaie
geskei het, was Lanner se komposisies hoofsaaklik in die Ländlerstyl.
Nadat hulle geskei het, het albei hulle op die wals toegelê.
In Weenen het die gewildheid van dans so toegeneem dat groot
danssale soos die Sperl in 1807 en die Apollo in 1808 geopen is,
laasgenoemde met dansruimte vir 6000 dansers.
Gedurende die dertigerjare het Johann Strauss sr. toere onderneem,
na ander Europese lande en sodoende is die wals in al die lande
wat hy besoek het goed gevestig. Na Lanner se dood in 1843 is
sy mededinger, J. Strauss sr., se plek geneem deur laasgenoemde
se seun Johann jr., wat spoedig die bekendste komponis en aanbieder
van ligte musiek geword het, wat daar ooit geleef het. Sy musiekstyl
het moontlik meer ooreengestem met die van Lanner as die van sy
Vader, met die klem oorwegend op melodie instede van op ritme.
Na die dood van J. Strauss sr. is die Strauss-familie tot nog
'n groter mate met die wals verbind met die toetrede van die ander
twee seuns, Joseph in 1853 en Eduard in 1859. 'n Menigte komposisies
is deur die broers geskep maar dit was onder Johann en Joseph
dat die wals gedurende die sestigerjare 'n hoogtepunt bereik het,
beide wat die dansvorm en musikale komposisie betref het, en ook
as simbool van 'n vrolike en elegante eeu.
Johann Strauss jr. se "Blou Donou" en "Verhale
van die Weense Woude" is twee musiekwerke wat waarskynlik
meer as enige ander klassieke komposisie oor die hele wêreld
opgevoer word.
Richard Strauss (11 Junie 1864 - 8 September 1949) het tot gedurende
die eerste kwart van die 20ste eeu meesterlike werke wat op die
walsvorm gebaseer is gekomponeer, en wat hoë lof verdien
as verhoogwerke. Hierdie komponis was nie verwant aan bogemelde
"walskonings" nie. Die goue tydperk van die wals as
'n dansvorm het ten einde geloop toe die Oostenryk-Hongaarse monargie
gedurende die eerste wêreldoorlog vernietig is.
Die historiese agtergrond van die wals, met beklemtoning van
die bydrae van die Strauss-walskonings, word enigsins volledig
geskets, aangesien daar waarskynlik 'n spesiale betekenis geheg
kan word aan die feit dat geeneen van hulle mooi walse en ander
musiekstukke in die boere-musiekrepertorium opgeneem is nie.
Die wals het 'n groot verskeidenheid afstammelinge deur die hele
Europa gehad. In Duitsland is sulke variante as die schottische
ontwikkel, met draaibewegings soos die van die wals. Frankryk
het sy eie balance valse
gehad. In Amerika het later hulle eie Boston-waltz
ontwikkel- 'n stadiger, swewende variasie. Ongeveer 1840 het die
wals 'n sterk mededinger gekry in die polka;
die naam is afgelei van die woord polka, 'n "halwe pas".
Dit was 'n vurige dans.
Die Polka
Die polka is 'n lewendige dans vir pare op 2/4 tydmaat. Die dans
word gekenmerk deur drie vinnige passe en 'n huppelpas. Die danspare
beweeg teen 'n vinnige tempo terwyl hulle rondom die dansvloer
dans. Die dans het in Bohemië ontstaan as 'n groepdans, en
het een van die gewildste balsaaldanse geword gedurende die 19de
eeu. Musiek met die polka-eienskappe was reeds aan die begin van
die eeu deur verskeie dorpsmusikante geskryf vir praktiese gebruik.
Die dans is in 1837 in Praag bekend gestel en het dieselfde jaar
in druk verskyn in 'n bundel met die titel "Prager Lieblings-Galoppen
für Pianoforte". Gedurende die daaropvolgende jare is
talle polkas geskryf deur verskillende komponiste en gepubliseer
in bundels van dansmusiek. In 1839 het 'n Boheemse regimentsorkes
die polka na Weenen geneem en daardie selfde jaar het dit St Petersburg
in Rusland bereik. Die Praagse dansmeester Johann Raab het dit
in 1840 in Parys ingevoer, maar dit het eers gedurende 1843-44
'n gunstelingdans onder die Paryse gemeenskap geword.
Die dans is op 11 April 1844 die eerste keer in Londen as 'n
verhoogdans in Her Majesty's Theatre
aangebied. Die volgende jaar verskyn dit in die V.S.A., waar dit
baie grappies om die persoon van die Presidensiële kandidaat,
J.K.Polk, uitgelok het. In 1845 is die polka gedans op 'n bal
wat die Goewerneur-Generaal ter ere van Koningin Elizabeth aangebied
het. Die polka het soveel aandag getrek dat tydskrifte en nuusblaaie
vol berigte, beskrywings, illustrasies en advertensies daaroor
was. Die dans se triomfantlike reis om die wêreld het gepaard
gegaan met verwante Boheemse danse onder verskillende name. Daar
het ook baie variasies ontstaan; gedurende die veertigerjare was
'n polka-mazurka,
wat die polkapassies met die musiekmaat van die masurka verbind,
baie gewild.
In Parys, Frankryk, is die dansmeesters oorval deur die dansende
publiek wat die nuwe dans wou aanleer. Cellarius, 'n vooraanstaande
dansmeester (na wie die stadige Cellarius-wals vernoem is) het
selfs lede van 'n balletgeselskap aangestel as dansmaats vir sy
leerlinge, om aan hulle die regte passies te leer.
The Illustrated London News
het in April I844 baie krities geskryf oor die polka: "The
Parisians had never imported anything more ridiculous or ungraceful
than this polka". Binne 'n maand het hulle egter hulle wysie
verander nadat die dans in Engeland bekend geraak het. Toe skryf
die koerant van die "veritable, or Drawing Room Polka, as
danced at Almack's and at balls of the nobility of this country".
Gedurende die laaste helfte van die eeu het bekende komponiste
van klassieke musiek, soos Chopin en Waldteufel die polka in hulle
komposisies opgeneem. Die Strauss-walskonings het self ook verskeie
polkas gekomponeer. 'n Ligte liedjie soos "See me dance the
polka" (1886) van George Grossmith was maar een van vele
wat op die polka gebaseer is. Die Tjeggiese liedjie "Skoda
Lasky" van Jaromir Vejvoda (geb. 1902), wat ook bekend is
as "Rosamunde Polka" of, soos ons dit geleer ken het,
"Beer Barrel Polka, was oor baie jare 'n gewilde danswysie
in Suid-Afrika. Die sanger Dawid de Lange het 'n plaatopname met
die titel "Biervat-polka" gemaak (Singer GE334).
Volgens Sam Sly was die polka die oorheersende dans op 'n "Bachelors'
Ball" wat in Augustus 1845 in Kaapstad gehou was. Die dans
het dus in minder as anderhalfjaar nadat dit in Engeland bekend
gestel is in Kaapstad gewild geraak.
Een van die vroegste Suid-Afrikaanse komposisies in die polkamusiekmaat
is Charles Holt se "The Cape Colony's Constitution Polka",
wat in 1854 deur Saul Solomon en Kie in Kaapstad gedruk is. In
laterjare het daar nog verskeie Suid-Afrikaanse komposisies wat
as polkas aangedui is verskyn. Die volgende is enkeles daarvan:
G. Groenewald: Genadendal polka (g.d.)
Henry Hess : Gemini polka (g.d.)
Lisida Marion: Bourbonia polka (1856)
J.C. Roome : The Railway polka (1859)
A.B. Woodcock: The KWT polka (1884)
Besonderhede van die bladmusiek is gelys in alfabetiese volgorde
van die komponiste in die Suid-Afrikaanse Musiekbibliografie.
In hierdie naslaanwerk verskyn 'n inskrywing onder die naam Meryl
T. Meryl. Dit is die skuilnaam van James Hyde, wat 'n belangrike
rol in Suid-Afrika se musieklewe gespeel het vanaf 1875 tot 1908.
Besonderhede van die komposisie waarna verwys word is soos volg:
Meryl T. Meryl: Oom Paul Polka, most respectfully
dedicated to His Honour the President of the South African Republic,
PAUL KRUGER, Esq.
Die werk bestaan uit twee dele: 1. Polka (Vaalhaar), 2. Vat jou
goed en trek Ferreira.
Die volgende voetnoot verskyn op p.1 van Vaalhaar: "To fully
appreciate this exhilarating melody one must hear it played by
a Transvaal Boer upon a German Concertina!!" Dit is dus een
van die oudste boeremusiek-wysies wat deur die komponis getoonset
is!
Volgens Jan Bouws is die betrokke musiekstuk in 1891 gekomponeer.
In Hoofstuk 8 word verder ingegaan op die tweede gedeelte van
die komposisie.
Die Masurka
Grove beskryf die mazurka
as 'n Poolse volksdans wat op die vlaktes van Mazovië rondom
Warskou ontstaan het. Die bewoners van die gebied was bekend as
Mazurs, en hulle danse wat uit die argaïse polska
ontwikkel het, was in ander lande as mazurkas bekend. Die musiek
van die dans is in 3/4-maat, met 'n kragtige beklemtoning van
of die tweede, of die derde maatslag, wat gepaard gaan met 'n
klop van die dansers se skoen. Gewoonlik neem die danser 'n statiger
houding in as by die wals. Die dansers improviseer hulle eie bewegings;
daar bestaan geen gevestigde voorskrifte in verband met danspatrone
nie. Daar is gewoonlik 'n groep van 8 of 12 pare dansers, maar
soms enige onbepaalde getal danspare. Die begeleiding van die
vroegste masurkas was op 'n duda,
'n soort doedelsak, gespeel. Oorspronklik was daar ook by die
dans gesing. Die dans het reeds gedurende die l6de eeu ontstaan
en gedurende die 17de eeu deur die hele Pole en omliggende lande
versprei. Nadat die dans deur die hoër klasse van Parys aanvaar
is, het die dans Engeland vroeg in die 19de eeu bereik. The
Observer van 25 April 1830 skryf asof die dans onlangs
ingestel was, of binekort bekend gestel sou word. Rust beweer
egter dat die dans eers in 1845 in Engeland bekend geraak het.
Miskien is dit waar dat die dans reeds in 1830 in Engeland bekend
gestel is en dat dit eers teen 1845 algemeen bekend en gewild
geraak het. Vanaf Londen het die dans ook na die VSA versprei.
Na die verdeling van Pole het die dans ook in Rusland bekend geraak.
Die groot aantal masurkas wat Chopin gekomponeer het gee 'n aanduiding
van hoe gewild die musiekstyl van die masurka was. Ander Poolse
en Russiese komponiste het ook klassieke musiek in die masurkastyl
gekomponeer.
Daar bestaan 'n advertensie van Monsieur Hus, wat aandui dat
die masurka teen 24 April 1848 in die Kaap bekend was. Dit is
natuurlik moontlik dat die Britse militêre orkeste bladmusiek
van die jongste musiekstukke sou ontvang het, sodat ons met 'n
redelike mate van sekerheid kan aanvaar dat die dans ongeveer
dieselfde tyd wat dit in die VSA bekend geraak het na die Kaap
gekom het.
G.B.S. Darter het in 1853 'n musiekwinkel in Kaapstad geopen,
waar hy ingevoerde bladmusiek verkoop het. Die musiekwinkel van
Adney het reeds op 6 November 1845 bladmusiek van polkas kon voorsien.
Suid-Afrikaners sou dus die jongste oorsese dansmusiek kon bekom.
Daar bestaan altyd nog die moontlikheid dat die militêre
orkeste van die jongste gewilde wysies aan die breë publiek
sou bekendstel.
Die Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie
verstrek die volgende interessante inligting wat, onder andere,
betrekking het op die masurka:
R. Bands het moontlik saam met die Ryksmagte as 'n blaser na
Suid-Afrika gekom. Na sy ontslag het hy in Queenstown gaan woon,
waar die naam Bands 40 jaar lank opduik. Bands, die dorp se sipier,
was die eerste dirigent van die Queenstown Volunteer Band vanaf
1864, toe hulle maandeliks, of tweemaandeliks, promenadekonserte
gehou het in die bekende Hexagon, of in die park. Bands was 'n
komponis van dansmusiek; op die Queens Birthday Ball in Maart
1874 het die program van 21 items vier van sy werke ingesluit.
Hy het die volgende masurkas gekomponeer:
Traviata, mazurka 1874
Fanny, Mazurka 1874
Gem, mazurka 1874
Gedurende die tagtigerjare het verskeie ander Suid-Afrikaanse
komponiste masurkas gekomponeer byvoorbeeld:
| Hess, Henry: |
Forget me not mazurka +/-1884 (adv.)
Merry Christmas mazurka (adv.) |
| Mortimer, S.A.: |
Mazurka (datum onbekend) |
| Nathan, Maurice: |
Edith mazurka (1880-1883)
Uitgewer T&G Sheffield, Grahamstown |
| Whittaker, G |
Nellie mazurka (datum onbekend)
Uitgewer Hay Bros, King Williamstown |
Mazurka Voorbeeld Deel_1
Deel_2
Deel_3
Deel_4
Die Settees
Die herkoms van die settees
kan terug herlei word na die schottiche, met musiek soos die van
die polka, maar stadiger. Dit was 'n sosiale volks-dans vir pare,
wat waarskynlik in Duitsland ontstaan het. Dit was 'n gewilde
balsaaldans in Europa en Amerika gedurende die 19de eeu. Verskillende
dansvorms word beoefen maar die algemene danswyse is drie vinnige
passe en 'n huppelpas. Terwyl die dansers rondom die dans-vloer
beweeg, draai hulle om mekaar, of varieër hulle dansbewegings.
Die musiek is in 2/4 of 4/4 tydmaat.
Grové beskryf die schottisch as 'n rondedans, soos die
polka, maar stadiger. Daar is nie ooreenstemming oor die oorsprong
van die dans nie. Die dans kon moontlik ontwikkel het deur die
invoeging van walswysies in die ecossaice,
en na die verdwyning van laasgenoemde het dit voortbestaan as
'n wals in 2/4 tydmaat. Die dans is in 1848 in Engeland bekend
gestel as 'n Duitse polka.
Twee variante wat bekend was as die Schottisch Boheme en polka
tremblante was in 1840 in Parys bekend gestel. Die ecossaice was
'n soort kontradans wat gedurende die vroeë 19de eeu ontstaan
het. Dit was 'n vinnige, energieke dans; die musiek was gewoonlik
in 2/4 tydmaat. Daar was gewoonlik vier figure, in opeenvolgende
kombinasies, deur die danspare gedans. Mettertyd is dansbewegings
soos die van die wals uitgevoer.
Volgens Francis Rust was die schottisch in Engeland gewild vanaf
1848 tot 1880. Sy sê die dans was vroeër in Beiere
bekend onder die naam Rheinlander. Die schottisch was reeds in
1840 in Parys bekend, en dit was waarskynlik voor 1848 in Engeland
bekend gestel.
Daar bestaan 'n advertensie van Miss Woolf, wat vanaf 15 Maart
1849 onderrig in die schottisch (benewens ander danse) sou gee.
Geeneen van die advertensies van die ander dansmeesters verwys
na die schottisch nie, wat weereens daarop dui dat die dans eers
nadat dit in Engeland bekend geraak het na die Kaap gekom het.
Charles Holt, 'n Suid-Afrikaanse komponis, komponeer in 1854
'n musiekstuk met die titel "Darling Schottische" vir
die klavier, wat deur die Kaapstadse firma Saul Solomon &
Kie., Longmarketstraat 61, gedruk is.
Op 24 Julie 1860 het 'n Britse oorlogskip, die Euryalus, in Tafelbaai
aangekom met 'n vrag betonblokke wat vir die breekwater bestem
was. Daar het ook 'n belangrike besoeker aan wal gestap - Prins
Alfred, die seun van Koningin Victoria. Die hoofdoel van sy besoek
was om namens die Koningin die seremonie in verband met die aanleg
van die breekwater by te woon.
Die koms van die Prins het blykbaar die musikante geïnspireer
want verskeie komposies wat met die Prins, of met sy besoek in
verband staan, het die lig gesien. 'n Mej. Kannemeyer het die
"Euryalus Waltz" vir die geleentheid gekomponeer. Anna
Bender-Brink beskryf die komposisie as "verreweg die aantreklikste
stukkie musiek wat ooit van die Kapenaars in hierdie tyd verskyn
het". In dieselfde tydperk verskyn daar van WM Ireson in
een publikasie die volgende komposisies:
"Prince Alfred Polka" en "Euryalus
Schottische"
Hierdie twee werke is opgedra aan "Colonel Eustace and The
Officers of the Cape Royal rifles" Die voorafgaande gegewens
dui klaarblyklik daarop dat die seties teen 1854 so ingeburger
was dat plaaslike musikante in hierdie mussiekstyl gekomponeer
het.
Die Vastrap
In verskeie Afrikaanse geskrifte vanaf ongeveer 1880 tot 1930
word na verskillende danse wat destyds gewild was verwys: die
"horrelpyp", seties, kontradans, kotiljons, wals, riel,
(ook hotnotsriel), polka, kadriel, galop, en masurka. Dit is opvallend
dat die vastrap nie in die betrokke geskrifte vermeld word nie.
Die eerste verwysings na die vastrap as 'n dans kom voor in die
eerste kwart van die twintigste eeu. In 'n boek met die titel
Africanderisms (1913)
word die term so gedefinieer:
Vast-trap - D (trap, stap, tread, kick). The
name of a Hottentot dance.
"The vasttrap was performed by a number of nondescript characters,
who provided much amusement by their antics".
(East London Dispatch:
p5, 3 January 1913)
Die woord vastrap het reeds vroeg 'n idiomatiese betekenis in
Afrikaans verkry; "moed hou en aanhou." Die naam van
die dans is moontlik eerder verwant aan die idiomatiese betekenis
van die woord vastrap.
So laat as 1926 het 'n informant van Gansbaai verduidelik dat
die vastrap 'n soort riel is wat deur een persoon alleen gedans
word, deur eienaardige bewegings met die bene en voete te maak.
Toe die eerste boeremusiekplate gedurende die vroeë dertigerjare
gemaak is, was die vastrap-dansstyl blykbaar reeds ontwikkel.
Dit is egter insiggewend dat Die
Vyf Vastrappers slegs een opname gemaak het van 'n vastrap
naamlik GR28: Polka (Vastrap).
In 1932 het Die
Vyf Dagbrekers die volgende vastrap-opnames gemaak:
GX17- Militêre tweepas
GX19- Kom laat ons dans
GX30- Vir altyd by jou
GX36- Een druk en een soen
GX49- Die hele nag deur
GX50- Ruk en pluk
GX56- Dierbaar is jy
Die eerste 18 langspeelplate van die Tradisionele Boeremusiekklub
van Suid-Afrika (die TBK), met die nommers SLS 1-18, met heropnames
van 188 van die vroeë boeremusiekwysies van die dertiger-
en veertigerjare, bevat behalwe bogenoemde nommers slegs een ander
vastrap naamlik GE211- Noodhulp, van Die
Lydenburg Vastrappers.
Dit blyk dus dat alleenlik Silver de Lange van Die Vyf Dagbrekers
heelwat musiek in die vastrapstyl gespeel het, terwyl die ander
musikante van daardie tyd hoofsaaklik walse en polkas gespeel
het.
Wyle mev.
Jo Fourie, wat deur die land gereis het en baie van die ou
boeremusiekwysies opgeteken het, vermeld slegs ses vastrappe:
Oom Jannie se vastrap
Ben Viljoen-vastrap
Piesang Komfyt-vastrap
Die vrolike vastrap,
Wals-vastrap
Vastrap? Baandans? Seties?
Die laasgenoemde item kan buite rekening gelaat word, aangesien
mev. Fourie die musiekstyl klaarblyklik nie kon bepaal nie. Die
"wals-vastrap" is klaarblyklik ook nie 'n suiwer vastrap
nie.
Die voorafgaande inligting skep die indruk dat die vastrap teen
die dertigerjare reeds in aanvraag was maar dat dit deur die ander
dansvorms oorheers was.
In 1945 skryf Dr A. Wypkema: "... In dieselfde genre is
nog 'n hele paar kleiner komposisies werd om genoem te word, naamlik
'So 'n kleinigheid', 'Bosgesels' en 'Koket' (woorde van J. van
Bruggen), almal in egte vastrapstyl, deur Connie Coetzee".
In dieselfde publikasie: "Die volksmusiek in Suid-Afrika,
soos in Ons Klyntji
en Die Patriot oorspronklik
verskyn, het met skerp lyne die volkseienaardighede in egte vastrapdans
opgeteken en is as sodanig van groot kultuurhistoriese waarde
en beskawings invloed gewees". Die term vastrapdans word
klaarblyklik as beeldspraak gebruik want, sover bekend, was daar
geen verwysing na die vastrap in die gemelde tydskrifte nie.
G.H. van Rooyen beweer die volgende oor die vastrap: "Die
vastrap wat met die barn dance ooreenstem, was besonder populêr
onder die lewenslustige jongmense, die opskoppassies het baie
in hulle smaak geval." Die vergelyking met die barn dance
(Afr. baandans) is baie interessant, maar as daar bedoel word
dat die Voortrekkers die vastrap gedans het, is die inligting
nie houdbaar nie, omdat die betrokke dansvorm toe nog- nie bestaan
het nie.
'n Veelseggende verwysing word deur die skrywer Lawrence Green
verstrek, wat daarop dui dat die term vastrap vroeër jare
gebruik is wanneer daar van 'n dansparty gepraat word: "A
country dance is often referred to as a vastrap or veldskoen".
Verder skryf hy: "Many of the tunes heard at a vastrap are
nameless, for they are composed on the farms by the players themselves.
The tempo mounts as the night wears on, dancers stamp with enthusiasm
and call: Laat deurloop dag toe!"
Volgens verskeie informante is die vastrap verwant aan die polka,
maar word effens stadiger gespeel. Waar die polka met drie vinnige
skuifpasse, met 'n huppelpas op die vierde noot, gedans word,
is daar nie 'n klem op die vierde noot in die geval van die vastrap
nie. As 'n mens mooi luister na die musiek van "Barn dans
(met twee konsertinas)", van Die Vyf Vastrappers (plaat AE516),
kry 'n mens die indruk dat die musiekstyl baie naby aan die van
'n mars is. G.H. van Rooyen mag dus reg wees as hy sê dat
die vastrap baie met die barn dance ooreenstem.
Baie van die polkas deur mev. Jo Fourie opgeteken is in die 4/8
musiekmaat, terwyl die Hennie-baandans ook in dieselfde musiekmaat
is, wat dui op 'n mate van ooreenkoms tussen die twee danse.
Die barn dance is afkomstig van Amerika. Dit het sy ontstaan
te danke aan die liedjie "Dancing in the barn", wat
by die dans gesing is. Die dans het teen die einde van die tagtigerjare
van die vorige eeu in Engeland gewild geraak. Volgens Grové
is die korrekte benaming van die dans die military
schottische. In Engeland was die dans beoefen op die
musiekstyl van die Pas de Quatre
wat toe gewild was. Musiek was spesiaal vir die barn
dance geskryf. In Suid-Afrika is die pas de quatre
herdoop tot Paddika.
...ik Hyde (24 Januarie 1858 - 15 Januarie 1917), 'n broer van
James Hyde na wie ...lrs verwys word, het 'n klavierwerk gekomponeer
met die titel "Vat jou goed en trek, Ferreira" wat ook
die lirieke van die ou bekende liedjie bevat. Sy musiekstuk is
aangedui as 'n "Vocal Barn Dance".
Ongelukkig bevat die bladmusiek nie die datum waarop die werk
verskyn het nie. 'n Ander komposisie van dieselfde komponis is
gedateer 1911; moontlik is "Vat jou goed en trek, Ferreira"
ongeveer dieselfde tyd geskep. Soos hierbo aangedui, het die barn
dance in Engeland uiteindelik die musiekstyl van die pas
de quatre aangeneem. Wat hier van belang is, is die
feit dat boereorkeste wat die wysie van "Vat jou goed en
trek, Ferreira" aanbied, dit as 'n polka
of vastrap speel:
Nog 'n interessante musiekstuk van die vroee 20ste eeu is Kate
M. Kruger se "Vasttrap - Pas de Quatre". Op die buiteblad
is 'n tekening in kleur van 'n groep vrolike dansers in Hollandse
drag voor 'n huis met 'n Hollandse gewel. Twee musikante word
aangetoon wat knoppiesakkordeons speel. Die musiekstuk was klaarblyklik
baie in aanvraag, want dit was vyf keer herdruk.
Hierdie musiekstuk is om verskeie redes belangrik: dit is een
van die weinige komposisies, indien nie die enigste nie, wat op
die vastrap gebaseer is, wat in bladmusiek opgeneem is. Dit het
reeds op 'n vroeë stadium na die ontstaan van die baandans
verskyn, wat dit moontlik maak om die tyd van die ontstaan van
die vastrap betreklik noukeurig te bepaal.
Die gedrukte musiekstukke van hierdie komponis is nie gedateer
nie. Die S.A. Musiekbibliografie dui nie 'n datum teenoor hierdie
item aan nie, maar die S.A. Musiekensiklopedie dui egter die datum
van hierdie komposisie aan as 1908.
Dit is van besondere belang dat Kate M. Kruger se musiekstuk,
wat sy Pas de Quatre noem in die 4/4 musiekmaat geskryf is, en
terselfdertyd as 'n vasttrap aangedui word. Die pas de quatre
het Suid-Afrika, waarskynlik gedurende die vroeë negentigerjare
van die 19de eeu bereik. Al hierdie gegewens versterk die vermoede
dat die dansstyl van die pas
de quatre, wat in Suid-Afrika die bynaam paddika
gekry het, uiteindelik gelei het tot die eiesoortige dansstyl,
wat as die vastrap
bekend geraak het.
Aangesien die paddika tot laat in die 19de eeu of selfs die begin
van die 20ste eeu nog taamlik gewild was, was die wysies waarskynlik
nog bekend aan die boereorkeste van die eerste kwart van die 20ste
eeu. Die term vastrap het blykbaar eers gedurende die twintigerjare
aan die vorm van die dansmusiek bly kleef. Teen die tyd dat die
eerste boeremusiekplate vervaardig is, was die benaming reeds
gevestig.
Francis Rust verstrek in haar boek Dances in Society (London,
1969) nog die volgende inligting in verband met danse in Engeland
gedurende die laat Victoriaanse tydperk:
Na die dood van die Kroonprins in 1860 en die onttrekking van
die Koningin uit die openbare lewe het die dansery agteruit gegaan.
Die baandans (barn dance) of "two-step" wat in Amerika
ontstaan het, het 'n tyd lank weer belangstelling gewek. Die dans
het tot ongeveer 1910 gewild gebly.
In 1891 het John Philip Sousa die 'Washington Post March"
gekomponeer. Die lewendige musiek het gou in Amerika gewild geraak.
Die tweepas waarvolgens dit gedans word, was nie veel meer as
'n vinnige mars nie. Dit het in 1894 in Engeland bekend geraak
en, alhoewel dit orals gedans was, het dit nie lank gewild gebly
nie. Die "Militaire-Twee-Pas-Vastrap", plaat No. GX
17, van Die Vyf Dagbrekers is waarskynlik deur hierdie dansvorm
geïnspireer.
Kwadriel
Kwadriel Vooorbeeld Deel_1
Deel_2
Deel_3
Deel_4
|