English
Version
Nuus Boere
musiek
Die
Klub
Biografie Leer
Speel
Handels
ware
Skakels Soek Kontak
Bewaar - Behou - Uitbou
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly
Karakter
Oorsprong
Instrumente
Danse
Musiek Video
Uitbou
 
Boere Danse

[Bron: Die ontstaan en ontwikkeling van Boeremusiek - W.A. Schultz]

Die term boeredans word in hierdie verband gebruik as 'n kollektiewe term omdat dit die kenmerkende dansvorms behels wat aan die betrokke boeremusiekwysies gekoppel word. lnderwaarheid kom al hierdie danse, behalwe die vastrap, vanaf oorsee. Maar al het die danse oorsee ontstaan, het hulle hier ingeburger geraak en 'n besondere karakter aangeneem as gevolg van die kenmerkende eienskappe van boeremusiek.

Die danse wat in Europa se balsale gewild geraak het, het stadig versprei en Engeland die laaste bereik. Daarvandaan het dit betreklik gou na Amerika en Suid-Afrika versprei. In Engeland het verskeie groot danssale gedurende die 18de eeu tot stand gekom, waarvan Almack's die bekendste was. Dit sal interessant wees om te let op die danse wat teen die middel van die 19de eeu in Engeland se balsale gedans was, want dit sal ongetwyfeld 'n weerspieëling vind in die danse wat in Kaapstad gewild was.

Die vernaamste danse in hierdie genre is die wals, polka, seties en masurka, maar daar is 'n ander "indringer", waarvan die ouers onbekend is, en wat in die omgangstaal die vastrap genoem word.

Die Wals
Die wals is 'n dansvorm in drieslagmaat, wat die gewildste balsaaldans in Europa geword het gedurende die 19de eeu. Die dans het vir langer as 'n eeu gewild gebly en het ook die belangstelling gewek van die komponiste van klassieke musiek gedurende die 19de en die begin van die 20ste eeu, wat die opgewekte walsmusiek in baie van hulle komposisies ingeweef het. As 'n dansvorm is die musiek tot 'n buitengewone hoë peil verhef.

Alhoewel daar 'n vroeë musiekstuk van 1754 in die walsvorm bestaan, het die dans op walsmaat eers teen die einde van die 18de eeu ontwikkel. In die suide van Duitsland, in Beiere, Oostenryk en Bohemië was danse in drieslagmaat wat bekend was onder name soos Deutscher, Dreher, Weller, en Ländler, gedans. Die eenvoudige, ongesofistikeerde Duitse danse, in teenstelling met die statige minuet, het toegeneem in gewildheid. Die gly- en draaibewegings van die dansvorm het mettertyd gelei tot die naam waltz vir die besondere dansvorm.

In die balsale was 'n onderskeid gemaak tussen die wals en die versamelnaam deutscher vir verskillende danse in drieslagmaat. Amadeus Mozart, wat baie deutscher-en Ländlerwerke gekomponeer het, het nie na een daarvan as waltz verwys nie. In 1786 het egter 'n publikasie met 'n versameling danse, wat ook walse insluit, verskyn.

Gedurende die laaste dekade van die 18de eeu het baie verslae in nuusblaaie verskyn oor die gewildheid van die wals. Daar word op gewys dat die wals die kontradans vervang het. Die gewildheid van die wals het, soos verwag kan word, ook besware van sekere kringe uitgelok.

Weenen, die hoofstad van Oostenryk, het die stad van die wals geword, want daar het die dans alle ander danse in gewildheid oortref. Die wals het alle nasionale grense oorgesteek, en in 1804 is berig dat die Franse dolverlief is op hierdie ligtende, swewende dans. " 'n Wals, 'n wals!" was telkens die uitroep vanaf die dansvloer, want die Franse kon net nie genoeg van hierdie dans kry nie.

Sommige sedewagters oor die openbare moraliteit het natuurlik hulle afkeur oor hierdie "malle gedraaiery" van die wals uitgespreek en dit het eers in 1812 in Engeland posgevat. In die Pruisiese Hof in Berlyn was dit verbied en is eers in 1818 toegelaat, alhoewel Koningin Luis dit reeds in 1794 gedans het terwyl sy nog 'n prinses was.

Toestande in Europa gedurende die laaste kwart van die 18de eeu was maar bra onstabiel en dit is onwaarskynlik dat die dans voor die einde van die eeu na die Kaap sou gekom het. Daar word nie in enige literatuur van die vroee 19de eeu wat oor die Kaap handel na die wals verwys nie. Soos hierbo aangedui, is die wals eers in 1812 in Engeland bekend gestel en dit is hoogs waarskynlik dat die Britse militêre orkeste dit kort na die datum in die Kaapkolonie bekend sou gestel het. Die eerste skrywer wat na die wals verwys is Bird. Hy skryf dat die wals daardie tyd (1822) baie gewild was.

Van die beroemdste komponiste van die 19de eeu, onder andere Beethoven, Schubert, List, en Von Weber, het walse in hulle komposisies ingesluit. Von Weber se meevoerende "Uitnodiging tot die dans" (1819) is welbekend. Hulle komposisies is egter verhoogwerke en nie vir die dansvloer bedoel nie.

Joseph Lanner (1801 - 1843) en Johann Strauss sr. (1804 - 1840) was twee komponiste van die nuwe orde wat werke gekomponeer het wat die wals op 'n hoë vlak geplaas het, wat musikale komposisie sowel as dansvorm betref. Hulle het 'n aantal jare saamgewerk maar die venootskap is in 1825 beëindig. Voordat hulle paaie geskei het, was Lanner se komposisies hoofsaaklik in die Ländlerstyl. Nadat hulle geskei het, het albei hulle op die wals toegelê.

In Weenen het die gewildheid van dans so toegeneem dat groot danssale soos die Sperl in 1807 en die Apollo in 1808 geopen is, laasgenoemde met dansruimte vir 6000 dansers.

Gedurende die dertigerjare het Johann Strauss sr. toere onderneem, na ander Europese lande en sodoende is die wals in al die lande wat hy besoek het goed gevestig. Na Lanner se dood in 1843 is sy mededinger, J. Strauss sr., se plek geneem deur laasgenoemde se seun Johann jr., wat spoedig die bekendste komponis en aanbieder van ligte musiek geword het, wat daar ooit geleef het. Sy musiekstyl het moontlik meer ooreengestem met die van Lanner as die van sy Vader, met die klem oorwegend op melodie instede van op ritme. Na die dood van J. Strauss sr. is die Strauss-familie tot nog 'n groter mate met die wals verbind met die toetrede van die ander twee seuns, Joseph in 1853 en Eduard in 1859. 'n Menigte komposisies is deur die broers geskep maar dit was onder Johann en Joseph dat die wals gedurende die sestigerjare 'n hoogtepunt bereik het, beide wat die dansvorm en musikale komposisie betref het, en ook as simbool van 'n vrolike en elegante eeu.

Johann Strauss jr. se "Blou Donou" en "Verhale van die Weense Woude" is twee musiekwerke wat waarskynlik meer as enige ander klassieke komposisie oor die hele wêreld opgevoer word.

Richard Strauss (11 Junie 1864 - 8 September 1949) het tot gedurende die eerste kwart van die 20ste eeu meesterlike werke wat op die walsvorm gebaseer is gekomponeer, en wat hoë lof verdien as verhoogwerke. Hierdie komponis was nie verwant aan bogemelde "walskonings" nie. Die goue tydperk van die wals as 'n dansvorm het ten einde geloop toe die Oostenryk-Hongaarse monargie gedurende die eerste wêreldoorlog vernietig is.

Die historiese agtergrond van die wals, met beklemtoning van die bydrae van die Strauss-walskonings, word enigsins volledig geskets, aangesien daar waarskynlik 'n spesiale betekenis geheg kan word aan die feit dat geeneen van hulle mooi walse en ander musiekstukke in die boere-musiekrepertorium opgeneem is nie.

Die wals het 'n groot verskeidenheid afstammelinge deur die hele Europa gehad. In Duitsland is sulke variante as die schottische ontwikkel, met draaibewegings soos die van die wals. Frankryk het sy eie balance valse gehad. In Amerika het later hulle eie Boston-waltz ontwikkel- 'n stadiger, swewende variasie. Ongeveer 1840 het die wals 'n sterk mededinger gekry in die polka; die naam is afgelei van die woord polka, 'n "halwe pas". Dit was 'n vurige dans.

Die Polka
Die polka is 'n lewendige dans vir pare op 2/4 tydmaat. Die dans word gekenmerk deur drie vinnige passe en 'n huppelpas. Die danspare beweeg teen 'n vinnige tempo terwyl hulle rondom die dansvloer dans. Die dans het in Bohemië ontstaan as 'n groepdans, en het een van die gewildste balsaaldanse geword gedurende die 19de eeu. Musiek met die polka-eienskappe was reeds aan die begin van die eeu deur verskeie dorpsmusikante geskryf vir praktiese gebruik.

Die dans is in 1837 in Praag bekend gestel en het dieselfde jaar in druk verskyn in 'n bundel met die titel "Prager Lieblings-Galoppen für Pianoforte". Gedurende die daaropvolgende jare is talle polkas geskryf deur verskillende komponiste en gepubliseer in bundels van dansmusiek. In 1839 het 'n Boheemse regimentsorkes die polka na Weenen geneem en daardie selfde jaar het dit St Petersburg in Rusland bereik. Die Praagse dansmeester Johann Raab het dit in 1840 in Parys ingevoer, maar dit het eers gedurende 1843-44 'n gunstelingdans onder die Paryse gemeenskap geword.

Die dans is op 11 April 1844 die eerste keer in Londen as 'n verhoogdans in Her Majesty's Theatre aangebied. Die volgende jaar verskyn dit in die V.S.A., waar dit baie grappies om die persoon van die Presidensiële kandidaat, J.K.Polk, uitgelok het. In 1845 is die polka gedans op 'n bal wat die Goewerneur-Generaal ter ere van Koningin Elizabeth aangebied het. Die polka het soveel aandag getrek dat tydskrifte en nuusblaaie vol berigte, beskrywings, illustrasies en advertensies daaroor was. Die dans se triomfantlike reis om die wêreld het gepaard gegaan met verwante Boheemse danse onder verskillende name. Daar het ook baie variasies ontstaan; gedurende die veertigerjare was 'n polka-mazurka, wat die polkapassies met die musiekmaat van die masurka verbind, baie gewild.

In Parys, Frankryk, is die dansmeesters oorval deur die dansende publiek wat die nuwe dans wou aanleer. Cellarius, 'n vooraanstaande dansmeester (na wie die stadige Cellarius-wals vernoem is) het selfs lede van 'n balletgeselskap aangestel as dansmaats vir sy leerlinge, om aan hulle die regte passies te leer.

The Illustrated London News het in April I844 baie krities geskryf oor die polka: "The Parisians had never imported anything more ridiculous or ungraceful than this polka". Binne 'n maand het hulle egter hulle wysie verander nadat die dans in Engeland bekend geraak het. Toe skryf die koerant van die "veritable, or Drawing Room Polka, as danced at Almack's and at balls of the nobility of this country".

Gedurende die laaste helfte van die eeu het bekende komponiste van klassieke musiek, soos Chopin en Waldteufel die polka in hulle komposisies opgeneem. Die Strauss-walskonings het self ook verskeie polkas gekomponeer. 'n Ligte liedjie soos "See me dance the polka" (1886) van George Grossmith was maar een van vele wat op die polka gebaseer is. Die Tjeggiese liedjie "Skoda Lasky" van Jaromir Vejvoda (geb. 1902), wat ook bekend is as "Rosamunde Polka" of, soos ons dit geleer ken het, "Beer Barrel Polka, was oor baie jare 'n gewilde danswysie in Suid-Afrika. Die sanger Dawid de Lange het 'n plaatopname met die titel "Biervat-polka" gemaak (Singer GE334).

Volgens Sam Sly was die polka die oorheersende dans op 'n "Bachelors' Ball" wat in Augustus 1845 in Kaapstad gehou was. Die dans het dus in minder as anderhalfjaar nadat dit in Engeland bekend gestel is in Kaapstad gewild geraak.

Een van die vroegste Suid-Afrikaanse komposisies in die polkamusiekmaat is Charles Holt se "The Cape Colony's Constitution Polka", wat in 1854 deur Saul Solomon en Kie in Kaapstad gedruk is. In laterjare het daar nog verskeie Suid-Afrikaanse komposisies wat as polkas aangedui is verskyn. Die volgende is enkeles daarvan:

G. Groenewald: Genadendal polka (g.d.)
Henry Hess : Gemini polka (g.d.)
Lisida Marion: Bourbonia polka (1856)
J.C. Roome : The Railway polka (1859)
A.B. Woodcock: The KWT polka (1884)

Besonderhede van die bladmusiek is gelys in alfabetiese volgorde van die komponiste in die Suid-Afrikaanse Musiekbibliografie. In hierdie naslaanwerk verskyn 'n inskrywing onder die naam Meryl T. Meryl. Dit is die skuilnaam van James Hyde, wat 'n belangrike rol in Suid-Afrika se musieklewe gespeel het vanaf 1875 tot 1908. Besonderhede van die komposisie waarna verwys word is soos volg:

Meryl T. Meryl: Oom Paul Polka, most respectfully dedicated to His Honour the President of the South African Republic, PAUL KRUGER, Esq.

Die werk bestaan uit twee dele: 1. Polka (Vaalhaar), 2. Vat jou goed en trek Ferreira.

Die volgende voetnoot verskyn op p.1 van Vaalhaar: "To fully appreciate this exhilarating melody one must hear it played by a Transvaal Boer upon a German Concertina!!" Dit is dus een van die oudste boeremusiek-wysies wat deur die komponis getoonset is!

Volgens Jan Bouws is die betrokke musiekstuk in 1891 gekomponeer. In Hoofstuk 8 word verder ingegaan op die tweede gedeelte van die komposisie.

Die Masurka
Grove beskryf die mazurka as 'n Poolse volksdans wat op die vlaktes van Mazovië rondom Warskou ontstaan het. Die bewoners van die gebied was bekend as Mazurs, en hulle danse wat uit die argaïse polska ontwikkel het, was in ander lande as mazurkas bekend. Die musiek van die dans is in 3/4-maat, met 'n kragtige beklemtoning van of die tweede, of die derde maatslag, wat gepaard gaan met 'n klop van die dansers se skoen. Gewoonlik neem die danser 'n statiger houding in as by die wals. Die dansers improviseer hulle eie bewegings; daar bestaan geen gevestigde voorskrifte in verband met danspatrone nie. Daar is gewoonlik 'n groep van 8 of 12 pare dansers, maar soms enige onbepaalde getal danspare. Die begeleiding van die vroegste masurkas was op 'n duda, 'n soort doedelsak, gespeel. Oorspronklik was daar ook by die dans gesing. Die dans het reeds gedurende die l6de eeu ontstaan en gedurende die 17de eeu deur die hele Pole en omliggende lande versprei. Nadat die dans deur die hoër klasse van Parys aanvaar is, het die dans Engeland vroeg in die 19de eeu bereik. The Observer van 25 April 1830 skryf asof die dans onlangs ingestel was, of binekort bekend gestel sou word. Rust beweer egter dat die dans eers in 1845 in Engeland bekend geraak het. Miskien is dit waar dat die dans reeds in 1830 in Engeland bekend gestel is en dat dit eers teen 1845 algemeen bekend en gewild geraak het. Vanaf Londen het die dans ook na die VSA versprei. Na die verdeling van Pole het die dans ook in Rusland bekend geraak.

Die groot aantal masurkas wat Chopin gekomponeer het gee 'n aanduiding van hoe gewild die musiekstyl van die masurka was. Ander Poolse en Russiese komponiste het ook klassieke musiek in die masurkastyl gekomponeer.

Daar bestaan 'n advertensie van Monsieur Hus, wat aandui dat die masurka teen 24 April 1848 in die Kaap bekend was. Dit is natuurlik moontlik dat die Britse militêre orkeste bladmusiek van die jongste musiekstukke sou ontvang het, sodat ons met 'n redelike mate van sekerheid kan aanvaar dat die dans ongeveer dieselfde tyd wat dit in die VSA bekend geraak het na die Kaap gekom het.

G.B.S. Darter het in 1853 'n musiekwinkel in Kaapstad geopen, waar hy ingevoerde bladmusiek verkoop het. Die musiekwinkel van Adney het reeds op 6 November 1845 bladmusiek van polkas kon voorsien. Suid-Afrikaners sou dus die jongste oorsese dansmusiek kon bekom. Daar bestaan altyd nog die moontlikheid dat die militêre orkeste van die jongste gewilde wysies aan die breë publiek sou bekendstel.

Die Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie verstrek die volgende interessante inligting wat, onder andere, betrekking het op die masurka:

R. Bands het moontlik saam met die Ryksmagte as 'n blaser na Suid-Afrika gekom. Na sy ontslag het hy in Queenstown gaan woon, waar die naam Bands 40 jaar lank opduik. Bands, die dorp se sipier, was die eerste dirigent van die Queenstown Volunteer Band vanaf 1864, toe hulle maandeliks, of tweemaandeliks, promenadekonserte gehou het in die bekende Hexagon, of in die park. Bands was 'n komponis van dansmusiek; op die Queens Birthday Ball in Maart 1874 het die program van 21 items vier van sy werke ingesluit. Hy het die volgende masurkas gekomponeer:

Traviata, mazurka 1874
Fanny, Mazurka 1874
Gem, mazurka 1874

Gedurende die tagtigerjare het verskeie ander Suid-Afrikaanse komponiste masurkas gekomponeer byvoorbeeld:

Hess, Henry: Forget me not mazurka +/-1884 (adv.)
Merry Christmas mazurka (adv.)
Mortimer, S.A.: Mazurka (datum onbekend)
Nathan, Maurice: Edith mazurka (1880-1883)
Uitgewer T&G Sheffield, Grahamstown
Whittaker, G Nellie mazurka (datum onbekend)
Uitgewer Hay Bros, King Williamstown

Mazurka Voorbeeld Deel_1 Deel_2 Deel_3 Deel_4

Die Settees
Die herkoms van die settees kan terug herlei word na die schottiche, met musiek soos die van die polka, maar stadiger. Dit was 'n sosiale volks-dans vir pare, wat waarskynlik in Duitsland ontstaan het. Dit was 'n gewilde balsaaldans in Europa en Amerika gedurende die 19de eeu. Verskillende dansvorms word beoefen maar die algemene danswyse is drie vinnige passe en 'n huppelpas. Terwyl die dansers rondom die dans-vloer beweeg, draai hulle om mekaar, of varieër hulle dansbewegings. Die musiek is in 2/4 of 4/4 tydmaat.

Grové beskryf die schottisch as 'n rondedans, soos die polka, maar stadiger. Daar is nie ooreenstemming oor die oorsprong van die dans nie. Die dans kon moontlik ontwikkel het deur die invoeging van walswysies in die ecossaice, en na die verdwyning van laasgenoemde het dit voortbestaan as 'n wals in 2/4 tydmaat. Die dans is in 1848 in Engeland bekend gestel as 'n Duitse polka. Twee variante wat bekend was as die Schottisch Boheme en polka tremblante was in 1840 in Parys bekend gestel. Die ecossaice was 'n soort kontradans wat gedurende die vroeë 19de eeu ontstaan het. Dit was 'n vinnige, energieke dans; die musiek was gewoonlik in 2/4 tydmaat. Daar was gewoonlik vier figure, in opeenvolgende kombinasies, deur die danspare gedans. Mettertyd is dansbewegings soos die van die wals uitgevoer.

Volgens Francis Rust was die schottisch in Engeland gewild vanaf 1848 tot 1880. Sy sê die dans was vroeër in Beiere bekend onder die naam Rheinlander. Die schottisch was reeds in 1840 in Parys bekend, en dit was waarskynlik voor 1848 in Engeland bekend gestel.

Daar bestaan 'n advertensie van Miss Woolf, wat vanaf 15 Maart 1849 onderrig in die schottisch (benewens ander danse) sou gee. Geeneen van die advertensies van die ander dansmeesters verwys na die schottisch nie, wat weereens daarop dui dat die dans eers nadat dit in Engeland bekend geraak het na die Kaap gekom het.

Charles Holt, 'n Suid-Afrikaanse komponis, komponeer in 1854 'n musiekstuk met die titel "Darling Schottische" vir die klavier, wat deur die Kaapstadse firma Saul Solomon & Kie., Longmarketstraat 61, gedruk is.

Op 24 Julie 1860 het 'n Britse oorlogskip, die Euryalus, in Tafelbaai aangekom met 'n vrag betonblokke wat vir die breekwater bestem was. Daar het ook 'n belangrike besoeker aan wal gestap - Prins Alfred, die seun van Koningin Victoria. Die hoofdoel van sy besoek was om namens die Koningin die seremonie in verband met die aanleg van die breekwater by te woon.

Die koms van die Prins het blykbaar die musikante geïnspireer want verskeie komposies wat met die Prins, of met sy besoek in verband staan, het die lig gesien. 'n Mej. Kannemeyer het die "Euryalus Waltz" vir die geleentheid gekomponeer. Anna Bender-Brink beskryf die komposisie as "verreweg die aantreklikste stukkie musiek wat ooit van die Kapenaars in hierdie tyd verskyn het". In dieselfde tydperk verskyn daar van WM Ireson in een publikasie die volgende komposisies:

"Prince Alfred Polka" en "Euryalus Schottische"

Hierdie twee werke is opgedra aan "Colonel Eustace and The Officers of the Cape Royal rifles" Die voorafgaande gegewens dui klaarblyklik daarop dat die seties teen 1854 so ingeburger was dat plaaslike musikante in hierdie mussiekstyl gekomponeer het.

Die Vastrap
In verskeie Afrikaanse geskrifte vanaf ongeveer 1880 tot 1930 word na verskillende danse wat destyds gewild was verwys: die "horrelpyp", seties, kontradans, kotiljons, wals, riel, (ook hotnotsriel), polka, kadriel, galop, en masurka. Dit is opvallend dat die vastrap nie in die betrokke geskrifte vermeld word nie. Die eerste verwysings na die vastrap as 'n dans kom voor in die eerste kwart van die twintigste eeu. In 'n boek met die titel Africanderisms (1913) word die term so gedefinieer:

Vast-trap - D (trap, stap, tread, kick). The name of a Hottentot dance.
"The vasttrap was performed by a number of nondescript characters, who provided much amusement by their antics".
(East London Dispatch: p5, 3 January 1913)

Die woord vastrap het reeds vroeg 'n idiomatiese betekenis in Afrikaans verkry; "moed hou en aanhou." Die naam van die dans is moontlik eerder verwant aan die idiomatiese betekenis van die woord vastrap.

So laat as 1926 het 'n informant van Gansbaai verduidelik dat die vastrap 'n soort riel is wat deur een persoon alleen gedans word, deur eienaardige bewegings met die bene en voete te maak.

Toe die eerste boeremusiekplate gedurende die vroeë dertigerjare gemaak is, was die vastrap-dansstyl blykbaar reeds ontwikkel. Dit is egter insiggewend dat Die Vyf Vastrappers slegs een opname gemaak het van 'n vastrap naamlik GR28: Polka (Vastrap).

In 1932 het Die Vyf Dagbrekers die volgende vastrap-opnames gemaak:

GX17- Militêre tweepas
GX19- Kom laat ons dans
GX30- Vir altyd by jou
GX36- Een druk en een soen
GX49- Die hele nag deur
GX50- Ruk en pluk
GX56- Dierbaar is jy

Die eerste 18 langspeelplate van die Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika (die TBK), met die nommers SLS 1-18, met heropnames van 188 van die vroeë boeremusiekwysies van die dertiger- en veertigerjare, bevat behalwe bogenoemde nommers slegs een ander vastrap naamlik GE211- Noodhulp, van Die Lydenburg Vastrappers.

Dit blyk dus dat alleenlik Silver de Lange van Die Vyf Dagbrekers heelwat musiek in die vastrapstyl gespeel het, terwyl die ander musikante van daardie tyd hoofsaaklik walse en polkas gespeel het.

Wyle mev. Jo Fourie, wat deur die land gereis het en baie van die ou boeremusiekwysies opgeteken het, vermeld slegs ses vastrappe:

Oom Jannie se vastrap
Ben Viljoen-vastrap
Piesang Komfyt-vastrap
Die vrolike vastrap,
Wals-vastrap
Vastrap? Baandans? Seties?

Die laasgenoemde item kan buite rekening gelaat word, aangesien mev. Fourie die musiekstyl klaarblyklik nie kon bepaal nie. Die "wals-vastrap" is klaarblyklik ook nie 'n suiwer vastrap nie.

Die voorafgaande inligting skep die indruk dat die vastrap teen die dertigerjare reeds in aanvraag was maar dat dit deur die ander dansvorms oorheers was.

In 1945 skryf Dr A. Wypkema: "... In dieselfde genre is nog 'n hele paar kleiner komposisies werd om genoem te word, naamlik 'So 'n kleinigheid', 'Bosgesels' en 'Koket' (woorde van J. van Bruggen), almal in egte vastrapstyl, deur Connie Coetzee". In dieselfde publikasie: "Die volksmusiek in Suid-Afrika, soos in Ons Klyntji en Die Patriot oorspronklik verskyn, het met skerp lyne die volkseienaardighede in egte vastrapdans opgeteken en is as sodanig van groot kultuurhistoriese waarde en beskawings invloed gewees". Die term vastrapdans word klaarblyklik as beeldspraak gebruik want, sover bekend, was daar geen verwysing na die vastrap in die gemelde tydskrifte nie.

G.H. van Rooyen beweer die volgende oor die vastrap: "Die vastrap wat met die barn dance ooreenstem, was besonder populêr onder die lewenslustige jongmense, die opskoppassies het baie in hulle smaak geval." Die vergelyking met die barn dance (Afr. baandans) is baie interessant, maar as daar bedoel word dat die Voortrekkers die vastrap gedans het, is die inligting nie houdbaar nie, omdat die betrokke dansvorm toe nog- nie bestaan het nie.

'n Veelseggende verwysing word deur die skrywer Lawrence Green verstrek, wat daarop dui dat die term vastrap vroeër jare gebruik is wanneer daar van 'n dansparty gepraat word: "A country dance is often referred to as a vastrap or veldskoen". Verder skryf hy: "Many of the tunes heard at a vastrap are nameless, for they are composed on the farms by the players themselves. The tempo mounts as the night wears on, dancers stamp with enthusiasm and call: Laat deurloop dag toe!"

Volgens verskeie informante is die vastrap verwant aan die polka, maar word effens stadiger gespeel. Waar die polka met drie vinnige skuifpasse, met 'n huppelpas op die vierde noot, gedans word, is daar nie 'n klem op die vierde noot in die geval van die vastrap nie. As 'n mens mooi luister na die musiek van "Barn dans (met twee konsertinas)", van Die Vyf Vastrappers (plaat AE516), kry 'n mens die indruk dat die musiekstyl baie naby aan die van 'n mars is. G.H. van Rooyen mag dus reg wees as hy sê dat die vastrap baie met die barn dance ooreenstem.

Baie van die polkas deur mev. Jo Fourie opgeteken is in die 4/8 musiekmaat, terwyl die Hennie-baandans ook in dieselfde musiekmaat is, wat dui op 'n mate van ooreenkoms tussen die twee danse.

Die barn dance is afkomstig van Amerika. Dit het sy ontstaan te danke aan die liedjie "Dancing in the barn", wat by die dans gesing is. Die dans het teen die einde van die tagtigerjare van die vorige eeu in Engeland gewild geraak. Volgens Grové is die korrekte benaming van die dans die military schottische. In Engeland was die dans beoefen op die musiekstyl van die Pas de Quatre wat toe gewild was. Musiek was spesiaal vir die barn dance geskryf. In Suid-Afrika is die pas de quatre herdoop tot Paddika. ...ik Hyde (24 Januarie 1858 - 15 Januarie 1917), 'n broer van James Hyde na wie ...lrs verwys word, het 'n klavierwerk gekomponeer met die titel "Vat jou goed en trek, Ferreira" wat ook die lirieke van die ou bekende liedjie bevat. Sy musiekstuk is aangedui as 'n "Vocal Barn Dance".

Ongelukkig bevat die bladmusiek nie die datum waarop die werk verskyn het nie. 'n Ander komposisie van dieselfde komponis is gedateer 1911; moontlik is "Vat jou goed en trek, Ferreira" ongeveer dieselfde tyd geskep. Soos hierbo aangedui, het die barn dance in Engeland uiteindelik die musiekstyl van die pas de quatre aangeneem. Wat hier van belang is, is die feit dat boereorkeste wat die wysie van "Vat jou goed en trek, Ferreira" aanbied, dit as 'n polka of vastrap speel:

Die Baanbrekers op AE509 - Polka

Nog 'n interessante musiekstuk van die vroee 20ste eeu is Kate M. Kruger se "Vasttrap - Pas de Quatre". Op die buiteblad is 'n tekening in kleur van 'n groep vrolike dansers in Hollandse drag voor 'n huis met 'n Hollandse gewel. Twee musikante word aangetoon wat knoppiesakkordeons speel. Die musiekstuk was klaarblyklik baie in aanvraag, want dit was vyf keer herdruk.

Hierdie musiekstuk is om verskeie redes belangrik: dit is een van die weinige komposisies, indien nie die enigste nie, wat op die vastrap gebaseer is, wat in bladmusiek opgeneem is. Dit het reeds op 'n vroeë stadium na die ontstaan van die baandans verskyn, wat dit moontlik maak om die tyd van die ontstaan van die vastrap betreklik noukeurig te bepaal.

Die gedrukte musiekstukke van hierdie komponis is nie gedateer nie. Die S.A. Musiekbibliografie dui nie 'n datum teenoor hierdie item aan nie, maar die S.A. Musiekensiklopedie dui egter die datum van hierdie komposisie aan as 1908.

Dit is van besondere belang dat Kate M. Kruger se musiekstuk, wat sy Pas de Quatre noem in die 4/4 musiekmaat geskryf is, en terselfdertyd as 'n vasttrap aangedui word. Die pas de quatre het Suid-Afrika, waarskynlik gedurende die vroeë negentigerjare van die 19de eeu bereik. Al hierdie gegewens versterk die vermoede dat die dansstyl van die pas de quatre, wat in Suid-Afrika die bynaam paddika gekry het, uiteindelik gelei het tot die eiesoortige dansstyl, wat as die vastrap bekend geraak het.

Aangesien die paddika tot laat in die 19de eeu of selfs die begin van die 20ste eeu nog taamlik gewild was, was die wysies waarskynlik nog bekend aan die boereorkeste van die eerste kwart van die 20ste eeu. Die term vastrap het blykbaar eers gedurende die twintigerjare aan die vorm van die dansmusiek bly kleef. Teen die tyd dat die eerste boeremusiekplate vervaardig is, was die benaming reeds gevestig.

Francis Rust verstrek in haar boek Dances in Society (London, 1969) nog die volgende inligting in verband met danse in Engeland gedurende die laat Victoriaanse tydperk:

Na die dood van die Kroonprins in 1860 en die onttrekking van die Koningin uit die openbare lewe het die dansery agteruit gegaan. Die baandans (barn dance) of "two-step" wat in Amerika ontstaan het, het 'n tyd lank weer belangstelling gewek. Die dans het tot ongeveer 1910 gewild gebly.

In 1891 het John Philip Sousa die 'Washington Post March" gekomponeer. Die lewendige musiek het gou in Amerika gewild geraak. Die tweepas waarvolgens dit gedans word, was nie veel meer as 'n vinnige mars nie. Dit het in 1894 in Engeland bekend geraak en, alhoewel dit orals gedans was, het dit nie lank gewild gebly nie. Die "Militaire-Twee-Pas-Vastrap", plaat No. GX 17, van Die Vyf Dagbrekers is waarskynlik deur hierdie dansvorm geïnspireer.

 

Kwadriel

Kwadriel Vooorbeeld Deel_1 Deel_2 Deel_3 Deel_4