
[foto: kopiereg voorbehou]
Die eerste waarneming wat 'n mens maak is dat hierdie orkes die
naam "Voortrekker Danskwartet" verkies het bo "Orkes"
of "Boereorkes". Die Voortrekker Danskwartet het uit
die volgende lede bestaan:
| Boy Solomon (Leier) |
: Duet konsertina |
| Klaas Ehlers |
: Knoppiesakkordeon (fluitina) |
| Joe Snyman |
: Kitaar |
| Gert Victor |
: Kitaar |
Hierdie orkes het die volgende plate by Columbia gemaak en volgens
die reeksnommers daarop moes die groepie van die eerstes gewees
het om plate by die maatskappy te maak.
Voortrekker wals
Daar kom die Alibama |
Columbia LE 1 |
Vanaand gaan die volkies
koring sny
Lekker dans, oom Jan - Setees |
Columbia LE 2 |
Outydse Barn Dans
Dagbreek wals |
Columbia LE 3 |
Skoppelmaai (Swing) Polka
Kettings (Chains) Polka |
|
Uitskop polka
Die Blomkool polka |
|
Hierdie musikante het vir ons pragtige melodieë nagelaat.
Die Dagbreek wals, byvoorbeeld, was totaal onbekend aan feitlik
al die versamelaars en hedendaagse musikante. Onlangs was ons
gelukkig om 'n goeie opname daarvan in die hande te kry en dit
is saam met die ander opnames van die Voortrekker Danskwartet
hermeester en versprei. Dit kan met alle eerlikheid gesê
word dat hierdie besondere Dagbreek wals een van die mooistes
is wat tot ons tradisionele musiekskat toegevoeg is. Toe een van
boeremusiek se getroue ondersteuners vir die eerste keer hierdie
plaat gehoor het, het hy opgemerk: "Hierdie plaat is te mooi
om te dans. Die nommer het ook reeds die gepaste bynaam van "Engeltjies
wals" verdien. 'n Mens kan maar net weer en weer daarna luister
en mymer oor al die mooi dinge in die lewe, waarvan musiek sekerlik
een van die mooiste dinge is wat ons beskore is. "
Joe Snyman
Ons was in ons noppies toe ons in verbinding kon tree met Joe
Snyman se enigste kind, mejuffrou Ada Snyman, van Kimberley. Sy
het ons meer inligting in verband met haar vader gegee.
Joseph Petrus Snyman is op 6 Maart 1896, op Klipdam in die distrik
van Barkly-Wes, gebore. Hy het daar grootgeword en met die Eerste
Wereldoorlog het hy by die Weermag aangesluit en is oorsee. Na
sy terugkeer, is hy na Kaapstad waar hy by Evkom gaan werk het.
Hier het hy sy neef Gerrit Victor raakgeloop en hulle het by Boy
Solomon en Klaas Ehlers aangesluit om 'n briljante orkes te vorm.
Dis in daardie dae dat hulle die genoemde plate gemaak het. Hy,
Joe, het toe weer teruggekeer na sy geboorteplek en het by die
delwery gaan werk. Later is hy Postmasburg toe waar hy nie te
lank vertoef het nie. Daarvandaan is hy na Vaalharts waar hy by
SCP gewerk het tot en met sy aftrede. Hierdie plekkie by Vaalharts
was destyds Andalusia genoem, maar is later herdoop na Jan Kempdorp.
Joe was 'n goeie sanger, maar het ook die kitaar, konsertina,
mondfluitjie en klavier ewe goed bespeel. Hy was 'n baie gesogte
kunstenaar in daardie jare omdat hy ook 'n komediant en toneelspeler
was. Hy het op talle plekke opgetree en was veral gewild by ouetehuise
waar hy dikwels opgetree het. Hy was ook 'n uitstaande voordragkunstenaar
en Ada het nog bande waarop hy lang stukke voordra.
Joe het 'n hele paar sangplate gemaak waarop hy homself met die
kitaar begelei het. Die bekendste een is seker Hou jou roksak
toe en Die Aap se Bruilof op LE 4. U sal merk dat die drie eerste
plate van hierdie groepe vanaf LE 1 tot 3 genommer is en dat Joe
toe sommer terselfdertyd sy plaat ook gemaak het.
Oom Piet was baie gelukkig om Joe een aand in lewende lywe te
sien. Joe en twee vriende het in die ou bliksaal op Andalusia
opgetree. Joe het die konsertina gespeel en is deur twee kitare
begelei. Nadat hulle 'n paar pragtige nommers gespeel het, het
Joe ewe lustig begin sing en ek hoor vandag nog die nostalgiese
ou liedjie:
Voorwaar herinneringe wat goud werd is! Na sy aftrede, het Joe
na Kimberley verhuis waar hy gewoon het tot sy afsterwe op 17
November 1977. Ons innige dank aan Ada vir die foto's wat sy so
goedgunstiglik geskenk het. Hierdie stukkie geskiedenis was amper
verlore, want ons verstaan dat al die lede van hierdie orkes reeds
die tydelike met die Ewige verwissel het.
Oom Boy Solomon
Meneer J.H. Visser het die waardevolle inligting oor Oom Boy
gestuur:
Saul Benjamin Solomon is op 30 Desember 1878, in die Paarl gebore
en is op 9 Maart 1879, in die NG Kerk, Noorder-Paarl, gedoop.
Meneer Visser het sy dogter Elizabeth Jacoba Holl, oom Harry Bartz,
Mynie Reyes en Joe Sierra besoek en daaruit kon die volgende interessante
lewensgeskiedenis van hom saamgestel word.
Boy is met 'n Afrikaanse dame, Catharina du Toit, getroud en vier
dogters en twee seuns is uit die huwelik gebore. Sy dogter vertel
dat haar vader die konsertina bespeel het vandat sy haar verstand
gekry het. Hy was ook ewe vaardig met die klavier, orrel, trekklavier
en viool. Hy het hom later net op die konsertina toegelê.
Hy was in diens van die bekende musiekhandelaar, R. Muller, in
Kaapstad. Hy het musiekinstrumente herstel en ingestem. Dit was
dan ook in hierdie tyd dat hy 'n wonderlike instrument self gebou
het. Hy het een deel van 'n konsertina en een deel van 'n akkordeon
aanmekaar gelas en 'n uiters suksesvolle instrument op hierdie
manier tot stand gebring! Hy het dit baie goed bespeel en almal
wat hierdie eienaardige instrument ooit gesien het, het hulle
daaraan verwonder. Hy het ook toe twee Lachenal-konsertinas se
blaasbalke aanmekaar gelas om 'n groter blaasbalk te kry.
Volgens Joe Sierra was Oom Boy die beste konsertinaspeler wat
hy ooit ontmoet het. Hy was 'n ware meester met die instrument
wat hy met oorgawe gespeel het, en wat elke nommertjie op 'n ernstige
wyse aangepak het om net die beste daaruit te haal. Hy het 'n
baie groot repertoire gehad en kon vir aande aanmekaar speel sonder
om een nommer te herhaal. Ook Engelse nommertjies wat destyds
populer was, kon hy met die grootste gemak op meesterlike wyse
vertolk. Hy het op baie plekke in die openbaar opgetree en baie
vir liefdadigheid gedoen.
Die volgende spelers het dikwels saam met hom opgetree:
| Petrus Nortier |
: Kitaar |
Klaas Langeveld (hy is die
vader van die bekende Nico Langeveld)
|
: Kitaar |
| Klaas Ehlers |
: Knoppiesakkordeon |
| Mynie Reyes |
: Viool |
| Solly, sy seun |
: Viool |
| Johnny, seun |
: Banjo |
| Basie Daniels |
: Viool |
| Kalie Rix |
: Viool |
Hy het ook dikwels saam met die Ons Landers Orkes gespeel. Hy
was 'n sober mens en het geen drank gebruik nie. Sy dogter se
dat hy hulle streng opgevoed het, maar tog baie liefdevol was.
Tydens 'n verskeidenheidskonsert wat in die stadsaal gehou is,
het Sir Patrick Duncan 'n sertifikaat aan hom toegeken vir die
pragtige musiek wat hy verskaf het. Volgens sy dogter het hulle
vir jare al sy persoonlike dokumente in 'n trommel bewaar, maar
toe hulle in die Belgiese Kongo, waar hulle op 'n stadium gewoon
het, het dit verlore geraak tydens die opstande. Hulle moes vlug
voor die barbare en moes baie van hulle persoonlike eiendom net
so agterlaat.
Boy en sy orkes het ook baie uitsendings oor die radio gedoen.
Hulle het gewoonlik in Kaapstad opgetree. Sy dogter vertel dat
ene meneer Percy Applegates, 'n motorhawe-eienaar, darem destyds
al 'n radio kon bekostig en dat hulle altyd by hom gaan luister
het wanneer hulle pa se orkes uitsendings gedoen het. Kerstyd
het Oom Boy en sy seuns gewoonlik in hulle omgewing Kersliedere
vir die mense gaan speel. Sy dogter, Nellie, kon pragtig sing
en het dikwels saam met hulle opgetree. Laasgenoemde is reeds
tagtig jaar oud en woon tans in Oos-Londen.
Oom Boy se konsertina was 'n uiters groot dubbel-aksiemodel.
Hyself was klein van postuur en dit was nogal snaaks om so 'n
klein mannetjie met so 'n groot instrument te sien. Hy moes gewoonlik
sit as hy hierdie gewigtige instrument hanteer. (Dit was net die
omgekeerde met Chris Blignaut: Hy was weer die groot man wat die
klein dingetjie bespeel het!) Dit word ook beweer dat baie mense
nie gedans het wanneer Oom Boy op 'n plesier gespeel het nie,
maar net tevrede was om hierdie briljante virtuoos se vlugtige
vingers dop te hou en die wonderlike klanke te geniet.
Ander plate wat Oom Boy gemaak het, is die volgende:
| Boy Solomon's Trio |
Die Parel Duke March
See Saw wals |
| Boy Solomon en sy Konsertina |
Drie Vooruit
Winters Wals |
| Outydse Dansorkes |
Die Boerewals
Gesellige wals
Velddrifpolka
Mazurka |
Oom Boy is op 30 April 1950, te Woodstock oorlede en is in die
Woltemadebegraafplaas ter ruste gele. Volgens meneer Visser is
die graf, wat hy besoek het, nie van 'n steen voorsien nie. Slegs
'n muurtjie van ongeveer 15 cm hoog is daarom gebou. Moontlik
kan ons Klub later aan hierdie wonderlike mens die hulde betuig
wat hy so terdeë verdien het.
Klaas Ehlers
Ons bedank mev. Joyce Badenhorst wat vir ons die volgende inligting
omtrent haar pa, Klaas Ehlers verskaf het.
Nicolaas Everhardus Johannes (Klaas) Ehlers is gebore te Vredenburg
op die 22 Januarie 1905 en na skool is hy na Kaapstad, waar hy
by 'n padbou maatskappy gewerk het. Hy is daar getroud met Sophia
Theart uit die Hopefield distrik. Sy is op 15 Januarie 1911 gebore
en is op 16 Augustus 2003 in die rype ouderdom van op 92 jaar
oorlede.
Hulle het later verhuis na Velddrif waar hy hom as passer en
draaier bekwaam het, en by 'n inmaakfabriek in diens was. In sy
vrye tyd het hy trekklaviere gerestoureer en herstel.
Daarna is hy verplaas na St Helenabaai. Hy is op 17 Februarie
1961 deur 'n elektriese boor dood geskok en op Vredenburg begrawe.
Uit die huwelik is sewe kinders gebore en hulle sit die musiek
talente voort:
Frederick (Frikkie) is oorlede in Julie 1965 en hy het trekklavier
gespeel.
Nicolaas (Nickey) kan verskillende instrumente bespeel.
Jacobus (Koos) is oorlede in Julie 2000 was 'n kitaarspeler.
Helena Hendrina (Rina) Breytenbach is die oudste dogter.
Gert is ook baie veelsydig veral met klawerinstrumente.
Sophy Prins is die tweede-oudste dogter. Haar seun, Pieter, is
'n kitaar- en klawerbordspeler en sing ook.
Johanna (Joyce) Badenhorst bespeel nog orrel en klavier. Joyce
is met Willem Badenhorst getroud en hulle enigste kind, Sonja,
was tot onlangs onder andere musiekredakteur by Littnet.
Monique Basson, kleindogter van Nickey is vanjaar in die Hoërskool
en sing reeds op feeste.