Die Vyf Vatrappers kan waarlik beskou word as die enkele groep
persone wat Tradisionele Boeremusiek, soos ons dit vandag ken
en lief het, vir die nageslag gedefiniëer het.

Die Vyf Vastrappers was:
| Hans Bodenstein (leier) |
: Konsertina |
| Henry Zeller (mede-leier) |
: Konsertina, kitaar, banjo |
| Henry Kruger |
: Kitaar |
| Carolina Leeson |
: Klavier |
| Stol Leeson |
: Banjo |
Carolina Leeson en haar man, Stol, het dikwels saam opgetree.
Carolina het haar kleinneef, Henry Zeller, genader wat op sy beurt
weer vir Hans Bodenstein betrek het. Henry Kruger was bevriend
met Hans en so het die Vyf Vastrappers ontstaan.
Johannes Pieter (Hans) Bodenstein was die leier en het die konsertina
gespeel. Henry Zeller was die medeleier en het ook die konsertina,
kitaar en banjo gespeel. Henry Kruger was die kitaarspeler terwyl
Stol Leeson die banjo gekielie het. Laasgenoemde was ook 'n goeie
kitaarspeler. Carolina Margaretha Leeson (gebore Ferreira) het
die klavier getokkel.
Carolina is op 13 September 1901, in Jamestown gebore. Van kleins
af het haar moeder haar op die traporrel touwys gemaak. Vanaf
haar agtste jaar kon sy al redelik goed speel en sy het toe al
saam met haar ouers op huispartytjies en konserte begin optree.
Haar vader, Gert Marthinus Ferreira, was ook 'n goeie musikant
en kon die viool en konsertina speel. Hy was aan die spoorweë
verbonde en Carolina het haar jeugjare in Waterval-Boven se wêreld
deurgebring. Na skool het sy haar in die verpleegkunde bekwaam
en het hierdie edele beroep vir baie jare beoefen. Die syfer 13
het, volgens haar, 'n groot rol in haar lewe gespeel soos ook
in die geval van ons oorlye staatspresident, advokaat John Vorster.
Sy is op 13 September gebore en is op 13 Oktober 1917, in die
kerk as lidmaat aangeneem en daarna op 13 November 1917, met Christoffer
John (Stol) Leeson getroud.
Sy vertel dat Stol nie 'n musiekinstrument kon speel toe hulle
mekaar ontmoet het nie. Sy het hom die kitaar leer speel en hulle
het daarna dikwels saamgespeel. Die aanvraag na dansmusiek was
groot en sy het besluit om 'n orkes te stig. Hulle het destyds
aan die Oos-Rand gewoon. Sy het met Henry Zeller, haar kleinneef,
gepraat wat op sy beurt met Hans Bodenstein bevriend was. Terloops,
laasgenoemde is 'n oom van Manie Bodenstein wat vandag nog steeds
'n uitmuntende eksponent van boeremusiek is. Henry Kruger, die
kitaarspeler, was weer 'n vriend van Hans en die groepie wat almal
destyds in Brakpan gewoon het, het besluit om 'n dansorkes te
stig en so het die Vyf Vastrappers ontstaan.
In 1925 het die orkes een aand op 'n partytjie in Brakpan gespeel.
Daar was twee onbekende mans wat hulle aandagtig dopgehou het.
Later die aand is hulle deur die twee mans genader en versoek
om 'n plaat te maak! Hulle stel toe vas dat hierdie manne aan
die Regal Plaatmaatskappy verbonde is en seker eers goed na hulle
musiek geluister het voordat hulle met die voorstel na hulle gekom
het. Die orkes het ingestem en op die eerste dag het hulle twaalf
nommers by hierdie maatskappy gemaak! Carolina onthou nog die
naam van die regisseur en ingenieur wat betrokke was tydens die
opnames. Hy was 'n sekere meneer Matthews. Die musiek is eers
op wasplate opgeneem en later is dit na Engeland gestuur waar
dit op gewone plate vasgelê is om die GR reeks te vorm.
Hulle het later ook opnames by die Columbia Plaatmaatskappy gemaak
en die nommers het met AE begin.
Carolina vertel dat sy een besondere nag van 'n mooi melodie gedroom
het. Toe sy na die droom wakker word, is sy reguit klavier toe.
Sy het daarop begin tokkel en nie te lank nie of sy speel die
droomwysie! Hierdie pragtige nommer is as My mooi Carolina bekend
en word vandag nog dikwels uitgevoer. Sy het ook baie wysies uit
haar kinderjare onthou wat sy by haar ouers gehoor het en dit
is gelukkig ook op plaat opgeneem. Toe sy na hulle pragtige Fluister-wals
uitgevra is, het sy vertel dat die wals onder hulle orkeslede
as die Skelmvry-wals bekend was. Dit is 'n besondere mooi wals
en verliefde paartjies op die dansvloer was altyd geneig om in
mekaar se ore te fluister wanneer dit gespeel is. Later het hierdie
wals as die Fluister-wals bekend geword en is ook so op plaat
opgeneem.
Connie met die rooi rokkie
is 'n wysie wat na een van Hans se vriendinne vernoem is. Meneer
Johnny Driver van Benoni het meegedeel dat die beroemde en bekende
Connie sy oupa se suster is. Haar nooiensvan was Driver en sy
is later met Sam Warren getroud. Hulle het gereeld gaan dans waar
die Vyf Vastrappers gespeel het. Connie het baie van die wysie
gehou en was baie lief om in 'n rooi rokkie te dans. Hans het
die besondere settees gekomponeer en na haar vernoem. Dit is vandag
nog die Konsertinaklub van die SAUK se kenwysie. Die bekende Twee-stap
Sammy is na Sammy vernoem.

Connie Warren
Die Vyf Vastrappers se plate is nie net Africana nie, maar het
deur al die jare immergroen gebly. Dis onnodig om te se dat die
Dagbreek wals, Connie met die rooirokkie, Verlate op die Berge,
My mooi Carolina, Die Fluister wals, Hans se Gemmerdans en al
die ander so bekend is onder ons Boeremense, soos boeretroos in
die oggend.
Die musiek van hierdie orkes word gekenmerk deur die suiwer konsertina
klanke en duidelik uitkenbare wysie. DIt word ondersteun deur
twee sterk bespeelde kitare, meesterlike banjospel en afgerond
met foutlose klavierspel. Dit was ook die eerste orkes wat van
twee konsertinas gebruik gemaak het. Dis belangrik om daarop te
let dat die eerste plate van hierdie orkes nie titels gehad het
nie. Daar is na meeste van die wysies op die plaat etikette slegs
volgens die ritme verwys as "Wals", "Settees"
of "Polka". Hulle het hierdie kosbare erfgoed by ons
voorgelagte gaan haal en het ook sommige van die nommers in die
suiwere idioom van hierdie musiek gekomponeer.
Hier volg 'n lys van hulle plate:
|
Polka
Wals
|
Regal GR 27 |
Settees
Polka (vastrap) |
Regal GR 28 |
Majurka
Dagbreek wals |
Regal GR 41 |
Polka
Wals |
Regal GR42 |
Eenpas-dans One step
Wals |
Regal GR53 |
Polka
Setties (Schottishe) |
Regal GR54 |
Die Fluister wals
Ek en my Soetlief - setties |
Columbia AE513 |
Brentwood Park-wals
Twee stap Sammie (setties) |
Columbia AE514 |
Wals (Met twee konsertinas)
Connie met die rooi rokkie - polka
|
Columbia AE515 |
Verlate op die berge - setties
Barn dans (met twee konsertinas)
|
Columbia AE516 |
Jan Pierewiet - mazurka
Sarie Marais Medley
|
Columbia AE548 |
Die Lekker ding - polka
My Suikerpoppie (Barn dans)
|
Columbia AE571 |
My Vader was 'n Dopper -
wals
My Mooi Carolina - wals |
Columbia AE579 |
Dis 'n opwindende ervaring om weer 'n keer te besef dat al die
opnames van hierdie orkes, sedert 1930, steeds vir ons behoue
gebly het. Dit sal ons - hopelik so lank die Afrikanervolk bestaan
- as maatstaf vir tradisionele boeremusiek bestaan.
Die stigter van die orkes, Carolina Leeson, was ook die langslewende
lid.

Carolina Leeson ontvang Ere-lidmaatskap van Lourens Aucamp
[foto: Séan Minnie - Kopiereg voorbehou]
Stol en Carolina het ook met die banjo en traporrel die volgende
plate gemaak:
| Rooi Dagbreek vastrap |
Die Oudste-wals |
| Die Ou Kalkoen-settees |
Oom Willie se settees |
Nadat die Vyf Vastrappers ontbind het, het Carolina weer 'n ander
orkes gestig, met die naam van die
Plesier Speelers.