Die oorspronklike Vier Transvalers kan beslis beskou word as
een van die beste en gewildste orkeste wat ooit Boeremusiek opgeneem
het. Die konsertinaklanke van Faan Harris en sy manne bly na al
die jare van die gewildste en mooiste in ons land. Letterlik honderde
orkeste het al hul wysies nagespeel, maar geeneen kan dieselfde
gevoelvolle uitvoerings optower soos die Vier Transvalers nie.
Alhoewel Faan verskillende instrumente kon speel, was hy by uitstek
'n baie goeie en gewilde konsertinaspeler en het tydens al die
plaatopnames dan ook die konsertina bespeel. Hy was die leier
van hierdie groep.
Die Vier Transvalers het uit die volgende spelers bestaan:
Kenmerkend van hulle musiek is die strelende klanke van die konsertina,
skitterend begelei deur die volryk suiwer klanke van die kitare
en tjello. Die besondere klank van Faan se orkes is op 'n unieke
wyse verkry. Die kitare is op verskillende toonhoogtes ingestem
wat pragtig met die tjello saamgevloei het om daardie kenmerkende
singende agtergrond daar te stel. Die instrumente vorm 'n klankryke
eenheid en bring die pragtige wysies en eenvoudige melodieë
pragtig na vore! Daardie tjello is aan Danie Labuschagne geskenk.
Dit was in 'n swak toestand maar hy het dit wonderbaarlik restoreer
en ten toon gestel op Pietersburg tydens die onthulling van die
Boereorkes
in brons.

vlnr Danie Labuschagne, Raadslid Pretorius Burgemeester van Pietersburg,
Piet Bester
[Foto Kopiereg voorbehou]
Vir hul eerste opname het hulle by Sewes van Rensburg se huis
geoefen. Hy het die lei-kitaar gespeel tydens al hul opnames.
Faan het 'n klein Lachenal Drie-ry hoë-toon konsertina bespeel.
Op sommige geleenthede het nog twee musikante vir die orkes gespeel,
maar nooit tydens hul opnames nie. Piet Bosman het soms op die
kitaar saamgetokkel, terwyl ene Steenberg saam gespeel het op
sy tuisgemaakte bas-instrument. Dis uit 'n teekas en 'n besemstok
vervaardig met net een snaar wat stywer en slapper
getrek is om die verlangde toonhoogte te verkry. Die klanke wat
hierdie instrument voortgebring het, was baie eg en effektief.
Die Vier Transvalers het hierdie tien plaatopnames by His Master's
Voice op 3 en 10 Oktober 1932 gemaak:
|
Zoutpansberg se polka
Zoutpansberg se settees
|
His Master's Voice GX 5 |
Wals van Tant Sannie
Rooidag-toe polka |
His Master's Voice GX 6 |
Hartseer wals
Plattoon polka |
His Master's Voice GX 10 |
Eileen Alannah-wals
Moenie, Oom Kool-settees |
His Master's Voice GX 16 |
Kroomdraai-Mazurka
Anna Pop-settees |
His Master's Voice GX 23 |
Hier jy-polka
Ek is Mama se kind-wals |
His Master's Voice GX 28 |
Laat my lekker kry-settees
Laat my los-polka |
His Master's Voice GX 35 |
Lief Fransie-wals
Warmpampoen-settees |
His Master's Voice GX 42 |
Transvaalse wals
Mienie in die mielieland-polka
|
His Master's Voice GX 48 |
Hartlam-wals
Neef Frans se polka
|
His Master's Voice GX 54 |
Faan was lief daarvoor om hul nommers met 'n uitroep van "Eina!"
af te sluit, natuurlik om sy lekkerkry uit te druk! Op hul oorspronklike
opname van Neef Frans se Polka
word die uitroep "Julle kry lekker né!" gehoor.
Dit is Frans Ebersohn wat op die geleentheid so lekker raas.
In 1936 het die orkes 'n tweede prys verower tydens 'n reuse
boeremusiekkompetisie by die Wembly Stadion in Johannesburg. Die
legendariese orkes van Hendrik Susan het tussen die 22 orkeste
met die louere weggestap. In 1937 het Die Vier Transvalers vir
hulle tweede opnamesessie by Frans Ebersohn se huis geoefen. Dié
plate is ongelukkig nooit in Suid-Afrika vrygestel nie. Hierna
het die orkes so te sê van die toneel af verdwyn en elkeen
het sy eie musiek padjie gevolg.
In die laat Sestigerjare is Die Vier Transvalers aangewys as die
beste Boereorkes ooit deur die luisteraars van die radioprogram
Konsertina-Klub. Dié program, aangebied deur wyle Dr. Hans
le Grange, het terselfdertyd Die
Hartseer Wals aangewys as die mooiste boeremusiekliedjie.
Gedurende 1979-80 is die musiek van Die Vier Transvalers sonder
uitsondering eerste geplaas deur die talle luisteraars van Lourens
Aucamp se radioprogram, Toeka se
treffers. Die kategorieë waarin hulle eerste geplaas
was sluit in die mooiste wals, settees en polka. Verder is hul
Lief Fransie Wals aangewys
as die algehele wenner in Boeremusiek, terwyl Faan Harris die
eer as beste konsertinaspeler ontvang het. Dat dié orkes
se Boeremusiek uniek en pragtig is, is geen twyfel nie. Terloops,
hierdie program "Toeka se treffers" was uiters gewild
en meer as 35 000 mense het aan Lourens geskryf in verband met
die kompetisie en ook om dankie te sê vir die baie interessante
praatjies oor ons boeremusiek.
Selfs wyle Dr. Anton Hartman het gesê dat hul Soutpansberg
se Settees iets uniek in ons tradisionele musiek is, en dat dit
feitlik onmoontlik is om die musieklyne daarvan neer te skryf,
en dat selfs 'n simfonie orkes dit nooit soos Die Vier Transvalers
sou kon uitvoer nie. Wat 'n reuse kompliment deur een van ons
land se groot reuse.
Van die orkes se komposisies het op interessante wyses hul oorsprong
gehad. Twee snitte, Zoutpansberg
se settees en Zoutpansberg
se Polka het vermoedelik hul ontstaan gehad tydens Faan
en 'n vriend, Bok Hamman, se reis deur Noord-Transvaal. Snags
het hulle in 'n tuisgemaakte tent geslaap, en dit met die pragtige
Soutpansberge om hulle. Genoeg om Faan se komponeertalente wakker
te kon maak! Die Hartseer Wals
is volgens Jimmy Henning, 'n goeie kennis en vriend van Faan Harris,
deur Faan gekomponeer as gevolg van 'n droom wat hy gehad het.
Die Eileen Alannah is 'n
Skotse wysie op die maat van 'n wals, terwyl Neef
Frans se Polka vernoem is na hul kitaarspeler Frans Ebersohn.
Die Wals van Tant Sannie
het hy na 'n tante van hom vernoem. Hierdie wals is natuurlik
ook bekend as die Shannon wals.
Die Vier Transvalers se musiek was en is nog steeds gewild en
byna elke konsertinaspeler speel vandag nog hierdie wysies.