Die laaste van die Vyf Takhare, Dolf Britten, is op 19 September
1977, oorlede. Gelukkig het Kosie Landman en Jimmy Henning gedurende
1976 'n onderhoud met Oom Dolf gehad. Hy het interessant gesels
en vertel dat hy op 14-jarige ouderdom die kitaar begin speel
het terwyl hulle met ossewaens transport gery het.
Die orkes van die Vyf Takhare is ongeveer in 1930 in Potchefstroom
gestig waar al die lede destyds gewoon het. Die volgende persone
het in die orkes gespeel:
| Freek Stopforth |
: konsertina |
| Frans Graaff |
: kitaar |
| Jurg Graaff |
: kitaar |
| Doepie du Plessis |
: banjo |
| Andries Steenberg |
: bas |
Freek Stopforth was 'n afgetrede mynkaptein. Oom Dolf en die
bekende Boet Steyn het ook dikwels saam met hierdie groep gespeel
en Johnny Wat het soms saamgesing. Dis nie bekend watter kitaarspelers
saamgespeel het toe die plate gemaak is nie. Oom Dolf kon nie
onthou hoeveel plate hulle gemaak het nie, maar sover ons kon
vasstel en volgens Singer se katalogus het hulle slegs die volgende
twee gemaak:
|
Die Breek wals
Die Takhaar settees
|
GE 238 |
Die Wonder polka
Ou Frans se polka |
GE 239 |
Dolf Britten wat soms saam met Die Takhare kitaar gespeel het.
Hierdie orkes is 'n pragtige voorbeeld van hoe boeremusiekorkeste
van daardie tyd saamgestel was. Hierdie groepie se samespel was
puik en, hulle musiek, myns insiens van hoogstaande gehalte.