
vlnr: Freek Potgieter, Chris Wentzel, Hendrik Wentzel
Die orkes het so daaruit gesien:
| Chris Wentzel |
: konsertina |
| Hendrik Wentzel |
: banjo |
| Freek Potgieter |
: kitaar |
Die leier van hierdie orkes was Christiana Lodewikus Wentzel
en hy is op 11 Desember 1886, in die Vrystaat gebore. Hy was eers
'n myner, maar die Hoëveld het hom geroep en hy het daar
gaan boer. Ek haal Toon van den Heever aan:
Chris, soos hy bekend was, het op die plaas Hendrikspan in Morgenzon
se wêreld geboer. Hy het daar vir meneer J.P. Buitendag
ontmoet wat saam met hom kitaar gespeel het. Later het Chris se
seun Hennie, bygekom asook Freek Potgieter. Meneer Buitendag,
wat so mooi met die inligting gehelp het, het vanaf 1933 tot 1939
saam met hierdie orkes gespeel. Hy vertel dat Chris met 'n tweery
Lachenalkonsertina gespeel het en dat hy (Buitendag) nie saamgespeel
het toe hulle die plaat gemaak het nie. Hulle het ongelukkig net
een plaat gemaak, naamlik:
Die Rooi-vlerk wals
Die Trein na Transvaal |
Singer GE 268 |
Terwyl ek hier skryf, het ek weer na Die Trein na Transvaal geluister.
Dis 'n prosedure wat ek gewoonlik volg, want as ek die orkes se
musiek waaroor ek skryf, hoor dan is die ou gees daar tussen hulle!
Hierdie mooi nommer het my op 'n trein geplaas wat ewe vrolik
na die Oos-Transvaal gestoom het. Jy kan duidelik, in die verbeelding,
die trein hoor wat vanaf die myne aan die Rand na Chris se geliefde
Hoëveld stoom!
Hierdie groepie was baie gewild in die Oos-Transvaal en het werklik
op al die dorpies in hulle omgewing opgetree. Die Boeresaal met
die gepaste Boerenaam, "Sukkelaarsaal", was die plek
waar hulle baie keer tydens funksies opgetree het. Chris is op
15 Augustus 1947, oorlede. Sy seun Hendrik Russel Wentzel, wat
op 14 Desember 1914 gebore is, is ook reeds oorlede. Freek het
ons ook al vooruitgegaan.
Ons dank aan meneer C.L. Wentzel, meneer J.P. Buitendag en mevrou
E. Pieterse vir hulle bydrae en die fotos. Dit word waardeer,
want nou kan dit vir die nageslag bewaar word.