Hierdie klompie uitstaande musikante se orkes was soos volg saamgestel:
| Christiaan Willem (Chris)
Chomse (Leier) |
: Konsertina |
| Klaas Alexander Erasmus |
: Klarinet |
| Geertruida Zacharyda Magdalena
(Baba) Winterbach (geb. Prinsloo) |
: Klavier |
| Christiaan Willem (Chris)
Winterbach |
: Kitaar |
Die orkeslede was almal verwant aan mekaar. Chris Chomse en Klaas
Erasmus was albei neefs van Baba, en Chris Winterbach en Baba
was man en vrou.
Meneer Dirk Winterbach van Witbank word sommer aan die begin
van hierdie hoofstuk bedank vir die volledige inligting en fotos
waarmee hy gehelp het. Hy vertel dat gerugte dit wil hê
dat nie een van die orkeslede eintlik enige musiekopleiding gehad
het nie. Hulle het hulle maar self leer speel en so goed gevorder
dat hulle later die orkes gestig het. Hulle was gou baie gewild
in Lydenburg en omgewing, en het by talle gesellighede opgetree.
In 1934 het hulle die volgende plate in Johannesburg gemaak wat
onder 'n Singeretiket verskyn het:
Bosveld Polka
Mampoer Settees |
Singer GE 208 |
Golfies Polka
Baba Wals (na Baba vernoem) |
Singer GE 209 |
Wissel Polka
Noodshulp - Vastrap |
Singer GE 211 |
Platina Polka
Loerie Wals |
Singer GE 466 |
Hierdie groepie se musiek het ietwat verskil van die gewone boeremusiek
van daardie jare omdat hulle 'n klarinet in die orkes ingesluit
het. 'n Groot kenner en eksponent van boeremusiek, wyle dr Hans
la Grange, het hulle musiek as puik beskou en het 'n groot
waardering daarvoor gehad. As 'n mens met die nodige aandag na
hierdie besonderse boeremusiek luister, kom jy dadelik onder die
indruk van hulle pragtige en vloeiende samespel. Die klarinet
se strelende klanke herinner dadelik aan 'n pragtige bewolkte
sonsondergang. Dis kunstig ingeweef by die melodie en sorg vir
die nodige versiering en afronding van 'n smaaklike musiekdis,
so reg uit ouma se geurige kombuis! Dis net 'n groot jammerte
dat hierdie kunstenaars nie meer plate nagelaat het nie. Dit kan
ook met groot sekerheid aanvaar word dat die meeste van hierdie
melodieuse wysies die skeppinge van die orkeslede was.
.
Chris Chomse se vader het uit Duitsland na Suid-Afrika gekom en
hom hier gevestig. Chris het hier in ons land grootgeword en
was 'n Boer in murg en been. Hy het egter in 1938 na Kenia geëmigreer
en is in 1947 daar oorlede en te Eldoret begrawe.
Dr Kobus Erasmus van Ladysmith het van sy vader, Klaas Erasmus,
vertel. Klaas is op 3 Julie 1902, op die plaas Grootboom, in Lydenburg
se distrik, gebore. Hy was die seun van die bekende Abel Erasmus
na wie die Abel Erasmuspas vernoem is. Reeds vroeg was dit duidelik
dat die jonge Klaas besonder intelligent is, en hy was dan ook
die eerste seun in daardie kontrei wat matriek geslaag het! Hierdie
prestasie het hom twee byname besorg! Sommige mense het hom
"Klaas Matriek" en ander weer "Slim Klaas"
genoem! Hy is vir verdere studies na die Universiteit Stellenbosch,
waar hy hom as onderwyser bekwaam het. Hy het egter nooit skoolgehou
nie, maar het saam met sy vader gaan boer.
Dr Kobus vertel die volgende staaltjie: Terwyl Klaas op universiteit
was, het die Groot Griep-epidemie uitgebreek. As gevolg van hierdie
siekte moes die universiteit tydelik sluit omdat so baie van die
studente en personeel siek was. Klaas het die "vakansie"
verwelkom en dadelik by sy ouers gaan kuier. Kort na sy aankoms
op die plaas het die epidemie ook sy kop daar uitgesteek! Dadelik
het arme Klaas die skuld daarvoor gekry en die mense het vertel
dat hy die "kieme" van die siekte daar versprei het!
Klaas is op 'n jeugdige ouderdom aan die einde van 1934 oorlede
en is te Lydenburg begrawe.
Hendrik Susan en Klaas was groot vriende en het dikwels saam
musiek gemaak. Dr Kobus het 'n foto van hierdie twee vriende gehad,
maar ongelukkig het dit verlore geraak.
Baba Winterbach is op 23 April 1899, op Lydenburg gebore en is
op 17 April 1960, te Pretoria oorlede. Sy is in Lydenburg begrawe.
Chris Winterbach is op 2 Septemer 1891, te Lydenburg gebore en
is op 21 Junie 1978, aldaar oorlede waar hy ook ter ruste gelê
is. Dus, laasgenoemde drie, is almal op Lydenburg begrawe. Ons
Klub het besluit om ook aan hierdie vier uitstaande musikante
hulde te bring en op 1 Maart 1986 is 'n gedenknaald ter ere van
hulle op die hoek van Voortrekkerstraat en Viljoenstraat opgerig.
Nog 'n mylpaal in ons Klub se bestaan waaroor ons baie trots is!
Volledigheids- en interessantheidshalwe moet die volgende brokkie
ingesluit word: Aan die einde van Die Platina polka skree iemand
lustig: "Regop, julle rooies". Al gewonder wie dit is?
Dit is die einste Chris Chomse wat, nadat hulle so lekker gespeel
het, hom net nie kon bedwing nie!