Samuel (Sampie) Viljoen en Gerrie Snyman was die leiers van die
Ses Hartbrekers wat uit die volgende lede bestaan het:
| Sampie Viljoen
(Leier) |
: Konsertina |
| Gerrie Snyman (Mede Leier) |
: Klavier |
| Berthie Wynn |
: Banjo |
| Piet Ungerer |
: Kitaar |
| Gus Matthews |
: Tromme |
| Jannie Ungerer |
: Basviool |
Oom Piet Bester het die voorreg gehad om op 19 September 1985,
by Gerrie Snyman te kuier. Dit was aangenaam om met hierdie groot
Christen te gesels en hy het baie van die ou dae in ons musiekwêreld
vertel.
Gert Christoffel (Gerrie) Snyman is op 26 April 1906, in Greymont,
Johannesburg, gebore. Hy was ongeveer tien jaar oud toe hy die
traporrel begin speel het. Hy het dit baie gou bemeester en sy
musiektalent het duidelik na vore gekom. Dit was nie lank daarna
nie of hy kon die volgende instrumente bespeel: klavier, traporrel,
kitaar, konsertina, Hawailese kitaar, trekklavier en saksofoon.
Hy het geen musieklesse gehad nie.
Sy eerste orkes het in 1925 tot stand gekom en hulle het gereeld
in die "Labour Party Club" op die hoek van Harrisson-
en Kerkstraat, Johannesburg, gespeel. Die manne wat destyds saam
met hom gespeel het, was Bertie Wynn, banjo, Piet Ungerer, kitaar,
Jannie Ungerer, basviool en Gus Matthews, tromme.
In die begin van die dertigerjare het al die musikante van Johannesburg
die gewoonte gehad om bymekaar te kom en so het Gerrie vir Chris
Blignaut, Boet Herbst, Sewes van Rensburg en al die ander groot
musikante van daardie tyd ontmoet. Gerrie het dikwels vir Chris
Blignaut op die klavier begelei wanneer hy konserte aangebied
het.
Chris het toe op 'n mooi dag na Gerrie gekom en hom meegedeel
dat 'n plaatmaatskappy belangstel om boeremusiek op te neem. Chris
het in daardie jare nie al die boere-orkeste geken nie en aan
Gerrie gevra om al die orkeste bymekaar te kry sodat opnames gemaak
kon word. Gerrie het aan die werk gespring en kort voor lank het
hy die volgende spelers gehad:
Nou volg 'n baie interessante brokkie: Die orkeste het nie name
gehad nie en volgens Gerrie het Chris Blignaut wat teenwoordig
was, die name aan die verskillende orkeste gegee. Ou Chris was
voorwaar 'n doring, want wie kon meer gepaste name aan hulle
gee! Dis so eg-Afrikaans soos boeretroos in die oggend!
Hierdie orkes het die volgende plate gemaak:
Askoek-setees
Uit die Boland - wals |
His Master's Voice GX 11 |
Eina, jy maak my seer - polka
Môrester-wals |
His Master's Voice GX 20 |
Sarie Marais - mars
Die Boesmandraf-polka |
His Master's Voice GX 25 |
Deurmekaartrap-settees
My Oupa se perd - polka |
His Master's Voice GX 31 |
Lettie se wals
Maanskyn-wals |
His Master's Voice GX 38 |
Die Blydskap-settees
Boskop se Dagbreek - wals |
His Master's Voice GX 45 |
| Bobbejaan klim die berg - polka |
His Master's Voice GX 51 |
Ons Troudag-wals
Gertjie-polka |
His Master's Voice GX 57 |
Die plaat GX 51 het op die keersy is 'n opname van die Vier Hugenote.
Om kommentaar oor hierdie egte tradisionele musiek te lewer,
is oorbodig. Dis met een woord pragtig en ons is trots om so 'n
erfenis te hê en ook omdat ons al hierdie plate kon opspoor
en bewaar. Hierdie opnames is destyds by MacCabe Brothers in Johannesburg
gemaak.
Gerrie is natuurlik ook 'n sanger van formaat en dis sy stem wat
u op sommige van die plate hoor! Dis ook onnodig om te sê
dat Sampie een van die beste konsertinaspelers van daardie dae
was.
Gerrie het hierna die bekende "Boereplaas Ontspanningsoord"
buite Johannesburg gebou. Hy het alles eiehandig gedoen en het
ses jaar aan die kompleks gewerk! Voorwaar 'n man van durf en
daad! Baie van ons ouer garde sal nog hierdie spoggerige dansplek
onthou. Dit was 'n deftige plek en slegs dansers met aanddrag
is daar toegelaat.
Gerrie is ook 'n uitstaande komponis en sê dat hy moontlik
die eerste Afrikaanssprekende is wat 'n Engelse liedjie gekomponeer
het, naamlik Drifting on the Vaal.
Hy het later sy orkes se naam verander na die Silwer-spelers.
Silver de Lange het ook later saam met hom opgetree en ook plate
saam met sy orkes gemaak. Veel later het die bekende Manie Bodenstein
ook in sy orkes gespeel. Hierdie orkes het ook baie radio-uitsendings
gedoen en was baie bekend.
Oom Gerrie is in 1929 met mejuffrou Phillipa Roux getroud en twee
dogters en een seun is uit die huwelik gebore. Hierdie mooi egpaar
geniet nog goeie gesondheid en dis 'n plesier om 'n paar uur by
hulle deur te bring.
Gerrie het op 'n stadium sestig komposisies in drie maande gemaak!
Dis seker 'n rekord! Hy is nou nog met musiek besig, maar spits
hom toe op Christelike liedjies en het nog vir my op sy trekklavier
gespeel. Ek het 'n knop in die keel gekry.
Op een van die nuutste langspeelplate, Kaapse
Nooi is al die nommers deur Oom Gerrie gekomponeer. Die
bekende James Norval het die volgende op die omslag van die plaat
geskryf:
"G. Snyman, leier en organiseerder van hierdie groep is 'n
ou bekende oor die lengte en breedte van die land vir sy aandeel
in die musiekwêreld. Ek twyfel of daar 'n mens is in die
land wat nie al op die een of ander tyd op die maat van sy musiek
gedans het nie. Hoewel 'n ou vriend van my, kan ek nie help om
Gerrie, die begaafde en veelsydige kunstenaar, te bewonder nie.
Afgesien van die feit dat hy sy eie musiek komponeer, bespeel
hy nie minder nie as ses (ek weet dis sewe) instrumente met die
grootste vaardigheid. Meer as dit nog, besef Gerrie terdeë
hoe die smaak van die publiek verander het en dus bring hy vir
u, die luisteraar, 'n splinternuwe groep musikante en sangers
. . . Die Harmoniste! Gerrie het hulle bymekaargemaak en hulle
afgerig om vir u Afrikaanse musiek op die Ray Conniff-styl aan
te bied. Nog nooit tevore was dit aangedurf nie. Om Afrikaanse
musiek op hierdie manier te rangskik, het natuurlik met baie moeilikhede
gepaard gegaan, maar met Gerrie se deursettingsvermoë, harde
werk en sy liefde vir musiek, slaag hy daarin om aan u hierdie
nuwe plaat te bring wat 'n plekkie in elkeen se hart sal verower."
Gerrie is natuurlik ook 'n baie welbekende kunsskilder. Hy het
al in 1926 begin en het al honderde pragtige skildery gemaak.
Hy het al twee maal in Amerika uitstallings gehou met groot sukses.
Hy het so 'n innemende geaardheid dat ek graag 'n brief wat hy
uit Amerika ontvang het, wil plaas. Dit sal die leser 'n aanduiding
gee hoe besiel hierdie man eintlik is en dat hy werklik 'n uitstaande
mens is.

Laaste, maar nie die minste nie! Gerrie en sy vrou het ons mooi
land vir tien jaar lank deurreis met 'n karavaan. Hy het die natuur
bewonder, skilderye gemaak en gepeins oor die lewe. Hy het ook
nog in sy lewe, wat werklik ten volle aan sy medemens gewei is,
drie rolprente gemaak, naamlik "Die swart mamba"; "Die
Skelm van die Limpopo" en "My hart is in die Bosveld".
Die ruimte is werklik te beperk om hierdie merkwaardige man se
werksvermoë en talente ten volle te beskryf. Hy is reeds
byna tagtigjaar oud en is nog steeds baie bedrywig. Ons dank die
Goeie Gewer vir hierdie man in ons volkslewe.