Hierdie orkes het bestaan uit twee broers, hulle suster en hulle
moeder. Die name van die spelers was:
| Hugo Anton Fourie |
: Konsertina |
| Herman Christiaan (Manie)
Fourie |
: Kitaar |
| Aletta Hillegonda (Kintie)
Fourie |
: Kitaar |
| Mev Joanna Everharde (Jo)
Fourie |
: Tjello |
Hugo is op 12 Augustus 1915, op Bronkhorstpruit gebore en het
later die graad BSc (Meganies) aan die Universitieit van die Witwatersrand
behaal. Hy was aan die S.A. Vervoerdienste verbonde en het diens
verrig by die Padmotor-diensafdeling. Hy het in Johannesburg gewerk
en gewoon en het later na Florida verhuis. Hy was met Helen Gouws
van Port Elizabeth getroud en een dogter en twee seuns is uit
die huwelik gebore. Hy is in Julie 1966 oorlede.
Manie is op 4 Junie 1917, op Bronkhorstspruit gebore en behaal
die graad BA ook aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy
behaal ook die Onderwysdiploma aan die Universiteit van Natal.
Hy was 'n onderwyser en boer en het op Rooipoort, Babanango gewoon.
Hy is met Geesje van Rensburg getroud en twee dogters en twee
seuns is uit die huwelik gebore. Hy is in Junie 1979, oorlede.
Kintie is op 1 Maart 1921, in Zwolle, Nederland, gebore en is
later met George F. Malan, 'n LV van Humansdorp, getroud. Sy is
'n huisvrou en drie seuns en drie dogters is uit die huwelik gebore.
Jo is op 17 September 1884, in Zwolle, Nederland, gebore en was
die oudste van die vier kinders van Hugo en Helena la Rivière.
Sy het in Nederland gewoon en het haar toekomstige man, dr H.C.M.
Fourie, daar ontmoet toe hy 'n teologiese student was. Hulle het
in 1907 verloof geraak en is in 1910 getroud en het toe na Suid-
Afrika teruggekeer waar hulle gewoon en gewerk het. Kort nadat
Jo verloof geraak het, het sy haar begin bekwaam as predikantvrou.
Sy het ondermeer 'n diploma van die Toonkunstenaars-vereniging
in klavier verwerf.
Dr en mevrou Fourie se eerste standplaas was Bronkhorstspruit.
Jo het as orrelis in die kerk opgetree en haar ook besig gehou
met allerlei koorgroepies en ander musiek-aktiwiteite. In 1924
het hulle na Johannesburg verhuis waar sy natuurlik meer geleentheid
gehad het om haar musiek te bevorder. Sy het deelgeneem aan die
Asaf- en Philharmonie-kore, aan die Afrikaanse Kunswedstryde en
het ook weer begin om klavierles te neem. Sy het ook klavierles
aan verskeie leerlinge gegee.
In 1931 het hulle na Groot Marico verhuis. Hier het sy regtig
eers in aanraking gekom met boeremusiek soos met die konsertina
en viool gespeel. In 1934 besoek sy 'n familielid op Java en luister
na 'n radioprogram uit Suid-Afrika. Die program word met die volgende
woorde afgesluit: "Hierdie musiek is tog die musiek waarvan
ons die meeste hou . . . boeremusiek uit die Transvaal".
Met haar terugkeer na Groot Marico het sy haar eie boereorkes
gestig en ook al die boerewysies wat sy gehoor het, opgeteken.
Daar was destyds nie bandopnamemasjiene nie. Dit was die begin
van 'n pragtige versameling van etlike honderde volkliedjies en
-wysies wat sy vir ons nagelaat het.
In 1939, na haar man se dood, het sy en haar kinders hulle in
Johannesburg gaan vestig. Hugo het vir hom 'n Engelsekonsertina
aangeskaf en was baie lief vir die ou wysies. Die ander twee kinders,
soos hierbo genoem, kon ook al speel en hulle het 'n orkessie
gevorm wat tradisionele musiek gespeel het. Pieter de Waal van
die SAUK het van hulle gehoor en kort voor lank het hulle in Paul
Bothma se program, "Oom Piet Lekkerlieg en Gabriel Spekskiet
om die Kampvuur", deelgeneem. Hulle het langer as 'n jaar
elke tweede Saterdagaand in hierdie program opgetree.
Op aanbeveling van Pieter de Waal het hulle vyf nommers op plaat
opgeneem. Die opnames is in Johannesburg gemaak en die plate is
daarna in Engeland vervaardig. Hier volg 'n lys van die plate:
Marico settees
Marico wals |
A.C. 725 |
Kinta se polka
Pollie Wit-wals |
A.C. 735 |
| Draai Bobbejaan |
A.C. 746 |
Nadat haar kinders getroud en uit die huis is, het Jo deur die
land begin reis om al die ou en byna vergete wysies en liedjies
te probeer opspoor. Sy het veral na ou mense gesoek wat hierdie
liedjies nog kon speel of sing. Agter in haar motor het sy 'n
ou tweery konsertina gehad, want baie van die ou mense het nie
meer 'n instrument gehad waarop hulle kon speel nie. Hierdie soektog
van haar het ongeveer elf jaar geduur en was uiters suksesvol.
Sy was toe al redelik bejaard, maar het onvermoeid gewerk. Sy
kon later tien van die wysies verwerk vir orkes en het die musiek
laat druk onder die titel Oue en
Nuwe Boerewysies. Dit is uitgegee deur Gallo wat die kopie-
en alleenreg op die publikasie beheer. Dit was 'n groot taak om
al die ander versamelstukke oor te skryf in verstaanbare musiek,
maar sy het volgehou en die hele manuskrip later aan die SAUK
oorhandig. Deur onderhandelings tussen prof P. J. Nienaber en
die SAUK is die versameling in 1972 oorgeplaas na die Musiekdokumentasie
van die RGN.
Om en by 1950 was daar 'n radioprogram met die titel "Uit
die jaar vroeg". Onderhoude is in hierdie program met Jo
gevoer en sy kon interessant vertel hoe sy van die ou musiek opgespoor
het. Hansie van Loggerenberg en sy orkes het dan gewoonlik van
hierdie musiek gespeel.
Mevrou Kintie Malan het onlangs 'n interessante staaltjie gehoor
van 'n dame wat in Tulbach se wêreld gewoon het. Hierdie
dame het op 'n dag aan Jo gevra of sy ook van die ou musiek op
Tulbach kon opspoor, waarop sy geantwoord het: "Nee, op Tulbach
was dit net altyd kerk en werk!" Sy het bedoel dat predikante
in daardie wêreld nie boeremusiek toegelaat het nie en dit
letterlik dood gepreek het!
Jo is op 12 Maart 1973, oorlede en is langs haar man op die kerkgrond
van Groot Marico se Nederduitsch Hervormde Kerk, begrawe.
Kan ons Boerevolk ooit genoeg hulde bring aan hierdie edele vrou?
Sy was van Hollandse afkoms, maar het 'n Boer in murg en been
geword wat haar eie volksgoedere in die vreemde leer ken en leer
liefkry het! (Sy het in Java eers regtig bewus geword van ons
tradisionele musiek.) Haar reusebydrae kan nie misken word nie,
en ons tradisionele musiek sal bly lewe vir ons nageslag danksy
haar onvermoeide pogings en ten spyte van mense wat dit nie so
wil hê nie!