Die Baanbrekers het uit die volgende drie lede bestaan:
| Joe Hooneberg (Leier) |
: Konsertina |
| Rupert Meyer |
: Kitaar |
| Dan Scholtz |
: Banjo |
Op 7 September 1978, was oom Piet Bester in verbinding met meneer
J.J. Hooneberg van Kerkstraat 694, Proklamasieheuwel, Pretoria,
die oudste seun van Oom Joe. Volgens hom is Oom Joe op 10 November
1877, gebore en is op 25-jarige ouderdom in 1902 getroud.
Volgens klein Joe kon sy vader feitlik alle musiekinstrumente
bespeel, maar het veral uitgeblink met die konsertina, orrel,
klavier, banjo en viool. Hy het glo nie in 'n mondfluitjie belanggestel
nie. Hy het 'n duet-konsertina gehad met twee en vyftig klawers
aan elke kant. Dit is daarom nie 'n wonder dat hy so 'n hoogstaande
virtuoos was nie!
Oom Joe het baie van gewere en jag gehou, maar het altyd sy musiek
eerste gestel. Hy het al in 1920 'n orkes op die been gebring
en gou bekendheid verwerf. Hierdie orkes was van die eerstes wat
plate gemaak het. Inligting is verkry dat hulle nie eintlik op
danse en ander gesellighede as 'n orkes opgetree het nie. Hulle
het slegs saamgespeel wanneer hulle plaatopnames gemaak het. Die
twee musikante wat Oom Joe begelei het, was van uitstaande gehalte.
Hulle kan vandag nog met ons bestes vergelyk word. Dan Scholtz
het altyd 'n tenoor Vegaphone banjo gebruik en Rupert Meyer het
wonderbaarlik aangepas by die styl van Oom Joe. Hulle pragtige
korrekte akkoorde is 'n plesier om na te luister. Baie van ons
hedendaagse spelers beskou hierdie groepie as van ons beste musikante
van weleer. Baie van hulle nommers word vandag nog gehoor en sal
vir die ware liefhebber
altyd immergroen bly. Hulle bekendste nommers is Sannie
gee my brood, Die Baanbrekers wals, Onder die Afrikaanse Maan,
Die Veleta wals, Pietersburg settees en vele ander. Ek
is van mening dat as enige liefhebber mooi gaan stilsit en luister
na Onder die Afrikaanse Maan
hy sommer vanself sy eie woorde vir hierdie pragtige melodie kan
maak! Oom Joe se konsertina kon regtig met 'n mens praat! Dit
is net 'n groot jammerte dat baie van hierdie unieke nommers later
deur jonger musikante verwerk is en toe ook sommer nuwe name in
die proses gekry het! Sommige van hierdie nommers het self ook
nuwe komponiste gekry! Kommentaar oorbodig.
Uit die volgende staaltjie blyk dit duidelik hoe goed Oom Joe
eintlik gespeel het. Hy het eendag stoksielsaligalleen met sy
konsertina by 'n hotel in Warmbad opgetree. 'n Ou dame wat aandagtig
na hom geluister het, het later in ekstase uitgeroep: "Dis
dan 'n hele 'band' wat speel!"
Mnr. Johan Burger van Kleinmond het ons meegedeel dat Joe Hooneberg
se kleindogter sedert 1988 die plaaslike bibliotekaresse was.
Volgens haar het Joe nege kinders gehad.
Ek was baie gelukkig om Dan Scholtz se vrou, Vera, op te spoor.
Sy kon baie inligting oor hom verskaf. Daniël Francois Scholtz
is op 16 April 1910, op Vrede in die OVS gebore. Hy is later saam
met sy ouers na Oos-Afrika, nou Kenia, waar hy skoolgegaan het.
Sy ouers het na 'n tyd teruggekeer na Vrede en Frank, soos hy
destyds bekend was, in Kenia agtergelaat om sy skoolopleiding
te voltooi. Hy en twee vriende - hulle was almal in matriek -
het egter besluit om na Suid-Afrika toe weg te loop. Hulle ouers
was baie ontsteld. Een van die drie het gelukkig na sy ouerhuis
gegaan en toe het die soektog na Frank en sy maat begin. Hulle
is in Durban op 'n skip opgespoor waar hulle besig was om die
vloere te skrop! Hulle was van voornemens om op die skip te werk
om sodoende romantiese plekke in die buiteland te gaan besigtig.
Hulle is summier huis toe geneem en Frank is na Boshof se hoërskool
gestuur wat in daardie tyd bekend was vir die streng dissipline
wat daar gehandhaaf is. Hy het die matriekeksamen geslaag en sy
vader het hom Wits toe gestuur waar hy hom as 'n ingenieur sou
bekwaam. Na ses maande het hy egter aan sy vader gese dat hy niks
daar geleer het nie behalwe hoe om die ukulele te bespeel! Sy
vader het hom toe in sy winkel laat werk en gou het hy 'n groepie
bymekaargemaak en hulle het musiek in die dorp verskaf. Hy het
ook byklanke verskaf in die plaaslike bioskoop. Hy was baie musikaal
en het die banjo maklik bemeester en daarna het hy die klavier
begin speel.
Vroeg in die dertigerjare - as gevolg van die depressie - het
hy 'n betrekking by die Landbank in Pretoria aanvaar. Hy was nog
gedurig doenig met die banjo en hier het hy ook vir Hooneberg
en Meyer ontmoet. Hulle het toe pragtige plate gemaak.
In Pretoria het Frank se vriende hom Dan genoem en hy het hierdie
naam behou tot en met sy afsterwe op 17 September 1978. In Pretoria
het Dan in verskillende orkeste gespeel maar het vir jare in 'n
"rhythm band" gespeel. (Die orkes was onder leiding
van Mnr. Plato Michael wie se besigheid "Michael se plaatopnamediens"
die grootste gros van die ou 78-spoed plate vir ons herwin het.)
Hy het toe ook die saksofoon bemeester en kon dit baie goed speel.
Volgens Vera kon hy feitlik enige instrument bespeel behalwe die
viool. In 1939 is hy na Potchefstroom verplaas. Hy het nog gespeel
maar ook 'n fotografiese besigheid begin. Hy was baie lief vir
fotografie, swem, visvang, pluimbal en motorresies. Hy was goedgemanierd,
vriendelik, vollewenslus en 'n groot optimis wat altyd hoe ideale
gekoester het.
In 1945 het hy weer na Pretoria teruggekeer waar hy sy eie fotografiese
besigheid geopen het. Hy het toe weer by die bekende "Michael's
Rhythm Band" aangesluit. Vanaf 1958 het hy by verskeie eiendomsagente
in Pretoria gewerk.
Vera se dat hulle 'n ou foto van die Baanbrekers gehad het wat
by 'n ossewa gesit het, maar dat sy ongelukkig die foto nêrens
kan opspoor nie.
Hier volg 'n lys van hulle plate:
Sannie gee my brood - settees
Vat jou goed - polka |
Columbia AE 509 |
Vaalrivier-wals
Ek het jou lief-polka |
Columbia AE 510 |
Portugees-wals
Reisiesbaan-setties |
Columbia AE 511 |
Soetlief-wals
Jamkoek-polka |
Columbia AE 512 |
Donker maan-wals
Perdewa-polka |
Columbia AE 517 |
Bietjie Bees - mazurka
Roksak - medley |
Columbia AE 518 |
Daar langs die
grootpad - barn dans
Die mooi blom (sonder konsertina) |
Columbia AE
546 |
Die baanbrekers-wals
Piccanin - barn dans |
Columbia AE 562 |
Aand Mymeringe - wals
0 my ma - polka |
Columbia AE 572 |
Onder die Afrikaanse maan
- wals
Pietersburg-setties |
Columbia AE 575 |
Hier is ek weer
Jopie-setties |
Columbia AE 576 |
Hoe blink is die maan -
wals
Pollie |
Columbia AE 577 |
Bruid se setties
Mooi rivier-polka |
Columbia AE 578 |
Die Veleta
(Op die keersy is 'n ander orkes) |
Columbia AE 598 |
Vra vir jou ma
Die Aandblom-vastrap |
Columbia AE 607 |
Ek is ma se enigste kind
- wals
Kielie-polka |
Columbia AE 608 |
Daar kom Tant Alie - sonder
U
Taaibos-polka |
Columbia AE 615 |