Sewes is op 26 Januarie 1903, in Schweizer
Reneke, in die Wes-Transvaal gebore. Hy het
Faan
Harris in 1930 aan die Rand ontmoet en dadelik is 'n hegte
vriendskap gesmee.
Sewes was 'n uitstaande kitaar- en banjospeler. Hy was lid
van die
Vier Transvalers en het vir Faan op al sy plate, wat hy
by His Master's Voice gemaak het, met die kitaar begelei. Sewes
het ook vir Chris Blignaut begelei tydens 'n paar opnames. In
die laat veertigerjare het Sewes sy eie orkes gehad en het gereeld
vanaf Tant Betta se Teekamer in Johannesburg aan radio-uitsendings
deelgeneem. Kunstenaars soos H. P. Hamman, Marie Chaden, Frederick
Burgers en baie ander het aan hierdie verskeidenheidskonserte
deelgeneem.
Sewes is in die fleur van sy lewe op 21 Maart 1949, oorlede.
Sy dogter, Corra is baie musikaal en bespeel self die konsertina.
Sy het al as gaskunstenaar tydens 'n Konsertina- klubuitsending
saam met Willie Fourie en sy orkes opgetree. Sy is met die bekende
Manie Bodenstein getroud. Sy het die voorreg gehad om baie van
die ou musikante deur middel van haar vader te ontmoet.
Sewes se vrou vertel die volgende verhaaltjie: Sewes het een
oujaarsdagaand saam met Faan en sy maats by 'n dans gaan speel.
Dit was natuurlik 'n "deur-druk-na-dag-toe" partytjie
en hulle het eers die volgende oggend teruggekom. Sy vrou was
net baie omgekrap omdat hulle so laat was en het die pad die
volgende oggend met arendsoë dopgehou. So teen agtuur het
sy skielik vrolike boeremusiek gehoor en gesien hoe Faan, Sewes
en twee maats die straat afkom en sommer so loop-loop musiek
maak! Sy het hulle die huis laat binnekom en met 'n slaanding
op hulle afgestorm terwyl sy hulle die leviete voorgelees het!
Hulle het so geskrik dat hulle dadelik die hasepad gekies het!
Hulle het egter almal later heerlik oor die "kwaai vrou"
se waarskuwing gelag.
Die musiekmaakgedagte het seker maar van oom Faan se kant af
gekom, want dit was ook sy modus operandi toe oom Boet Steyn
hom moes soek toe hy verdwaal het! Ja, Langenhoven se spreekwoord
is tog baie waar: "Vandag se moeilikhede is die grappe
van môre! "
Die volgende egte boeremusiek is deur Sewes vir ons nagelaat.
Hy het die melodie-kitaar gespeel.
Ou Sewes se setees
Boere mazurka |
AC 704 |
Sannie se vastrap
Ou Dan se wals |
AC 714 |
Ou Roelf se polka (hier
bespeel by die banjo)
Klerksdorp se wals |
AC 720 |
Kaapse wals
Booysens polka |
AC 745 |