Oom Sakkie is op 13 Julie 1977, deur skrywer opgespoor te Endicott
in Oos-Transvaal. Hy was toe reeds drie en tagtig jaar oud,
maar steeds lewenslustig en redelik gesond.
Hy is op 18 April 1894, op Winburg gebore en het saam met sy
ouers op 'n baie jeugdige ouderdom na Schweizer Reneke se wêreld
verhuis. Sy vader, oom Gert van Wyk, se plaas se naam was Morkanie.
Oom Gert was 'n uitstaande vioolspeler, maar het ophou speel
toe twee van sy dogtertjies op 'n betreklik jeugdige ouderdom
oorlede is. Hy het daarna ook vir Sakkie en Gert, sy twee seuns,
verbied om enige dansmusiek te speel. Daar was 'n trapmusiek
in die huis en hulle kon net Halleluja- en ander geestelike
liedere daarop speel.
Oom Sakkie het 'n boerekonsertina aangeskaf en sy broer Gert
het 'n kitaar gekoop. Hulle moes in die veld op die plaas oefen.
Hulle het natuurlik 'n probleem gehad om die instrumente weg
te steek, maar het gou 'n plan beraam. Hulle het 'n groot paraffienblik
oopgesny en dit bo-op die instrumente onder 'n bos op 'n spruit
se wal omgekeer en selfs só die warm son en reen uitgehou.
Gelukkig vir die twee het hulle vader se oudste broer, oom Willem,
in die omgewing gebly. Hy het hulle vader grootgemaak en hulle
twee was baie geheg aan mekaar. Oom Willem het geweet dat Sakkie
en Gert gespeel het en as hy hulle besoek het, moes die twee
seuns speel. Hulle vader het dan gewoonlik geen kommentaar gelewer
nie en mettertyd het hy daaraan gewoond geraak en kon die twee
hulle musiek in die huis beoefen.
Gou was die twee broers beroemd en word later werklik legendariese
figure in die boeremusiekwêeld van daardie kontrei. Oom
Sakkie het die konsertina, klavier, trapmusiek en kitaar bespeel.
Oom Gert was 'n uitstaande kitaarspeler, maar net so tuis met
die klavier, traporrel, trekklavier en viool. Hulle het oral
op danse, bruilofte en konserte opgetree en het selfs op 'n
keer geld ingesamel vir die kerk op Amalia.
Dit word vertel dat oom Gert wonderlike musiek op 'n gewone
koffieketel kon uittower. Hy het glo in die tuit geblaas en
pragtige klanke daaruit verkry. Dit het geklink na 'n viool
en soms soos 'n saksofoon.
foto hier
Oom Sakkie was reeds 80 toe die foto tydens 'n opname van een
van sy plate, geneem is
Piet Bester senior, skrywer se vader, het ook dikwels saam
met hulle opgetree as kitaarspeler. Oom Sakkie vertel dat hulle
ook baie grappies gehad het. Hulle was ondeund, maar hy gebruik
die woord "goddeloos". Hy en Gert het op 'n stadium
stene gemaak van klei. Hulle was baie arm en kon nie werkmense
bekostig nie en het self die klei met hulle kaalvoete getrap.
So teen twaalfuur se kant het hulle huis toe gegaan om te eet
en moes voor ou tant Annie Coetzee, 'n ouderling se vrou, se
huis verbyloop. Hulle het geweet dat die ou tannie 'n klavier
en 'n traporrel in die sitkamer had. Net daar besluit hulle
om so 'n bietjie musiek te maak. Die voordeur van die huis was
oop en stilletjies loop hulle met hulle moddervoete en neem
voor die klavier en orreltjie plaas en begin speel. Die ou tante,
wat in die kombuis besig was, was gou op die toneel met 'n besemstok
in die hand en die twee moes vlug dat die modder letterlik so
spat!
Hoede af vir E.M.I. Brigadiers wat Oorn Sakkie op tagtigjarige
ouderdom oorreed het om twee langspelers te maak! Oom Sakkie
het saam met 'n ateljee-orkes opgetree in Sakkie, Sakkie met
Oom Sakkie en Outydse Boeremusiek. Die volgende puik nommers
van Oom Sakkie verskyn op hierdie plate: