English
Version
Nuus Boere
musiek
Die
Klub
Biografie Leer
Speel
Handels
ware
Skakels Soek Kontak
Bewaar - Behou - Uitbou
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly
Orkeste
Musikante
Instansies
 
 
 
 

Johannes Petrus (Hannes)
van Eck

[7 Januarie 1911 - 1998]

 

Hannes is op 7 Januarie 1911, op Jongenslaagte in Aberdeen se wêreld gebore. In 1913 het sy ouers na die distrik Jansenville verhuis waar hulle op die plase Klein Wolwefontein, Tygerlaagte en Klein Brakrivier gewoon het.

Hannes het 'n laerskool op die plaas besoek waar hy die standerd 6-eksamen geslaag het. Daarna het hy sy matrieksertifikaat by die Hoërskool Jansenville behaal. Hy het daarna aan die Opleidingskollege van Graaff-Reinet gaan studeer waar hy in 1933 die POS-eksamen geslaag het. Gedurende sy loopbaan as onderwyser was hy aan die volgende primêre skole verbonde: Langrug, Lake Mentz, Toekomsrust en Waterford. Hy was ook vir jare skoolhoof.

Oom Hannes bespeel die boerekonsertina sedert 1918. Sy oorlede vader en sy broers Gideon en Petrus was almal konsertinaspelers. Sy broer Nicholas was 'n goeie mondfluitjiespeler. Oom Hannes, sy suster Elizabeth en sy broer Petrus was ook ewe tuis met die kitaar. Hierdie gesin kon sommer genotvolle musiek maak.

Volgens Oom Hannes was daar werklik baie goeie konsertinaspelers in Jansenville se distrik in daardie jare. Hy sê dat daar maklik twintig goeie spelers was, en hy onthou nog die name van die volgende: Petrus van Eck, Hendrik Pieterse, Jors Gouws, Kerneels Barnard, Hendrik van der Merwe en Jurgen Slabbert. Oom Hannes het baie by hierdie manne geleer.

Die boerekonsertinas het maar in die omgewing van R1-00 gekos en die Engelse-konsertinas was so 'n paar rand duurder. Oor die algemeen was die mense op die plase nie te welvarend nie en hulle kon nie maklik die Engelsekonsertina bekostig nie.

Oom Hannes het in 1936 sy eerste Engelsekonsertina gekoop, maar het dit later weer verkoop. In 1940 het hy egter weer een gekoop en toe ook sommer 'n orkessie op die been gebring. Met behulp van die orkes het hulle baie verskeidenheidskonserte aangebied en het hy so geld vir die skool ingesamel. In die loop van vyf en twintig jaar het hy R3 664 vir die skool ingesamel! Hulle kon noodsaaklikhede aankoop en selfs ook biblioteekboeke. In 1955 het hierdie orkes met verskeidenheidskonserte op dertien dorpe R500 vir die kerkboufonds ingesamel.

Na Oom Hannes se aftrede, het hy nog voortgegaan met die musiek, en hy tree nog dikwels op by funksies, onthale en konserte. Gedurende Julie 1979, het hy en sy orkes ook in die radioprogram, "Konsertinaklub", opgetree. Hy het die Engelse- en boerekonsertina om die beurt gespeel en dit was 'n pragtige program van egte tradisionele boeremusiek.

Hy vertel vir ons 'n paar pragtige staaltjies. Ongeveer vyf en sestig jaar gelede was hulle op 'n partytjie waar gedans is. Dit was nog misvloere en daar het 'n emmer water op 'n bankie gestaan waarmee die vloere kort-kort natgesprinkel was. 'n Windmaker kêrel het egter van die emmer vergeet en sy nooi so gedraai en geswaai dat haar rok aan die emmer se hingsel vasgehaak en dit omgeruk het! Die hele vloer was nat en al die dansers se skoene en kouse was ook onder skoot. Almal het gou ingespring en gehelp om die vloer droog te kry en die dansery het weer begin. Die windmaker ou het toe meer stemmig gedans!

By 'n ander geleentheid was daar 'n sekere man wat gedink het dat hy die boerekonsertina beter as al die ander kon speel. Hy het egter so hard getrek en gedruk aan die instrumentjie dat die skroewe aan die een kant losgetrek het en daar was eensklaps geen musiek nie! Die konsertina is weer herstel en "breker" het nie weer kans gekry om te speel nie!

Oom Hannes vertel ook dat kitare maar skaars was in daardie dae en dat konsertina-spelers dikwels as soliste opgetree het. Hulle en van die toehoorders het gewoonlik saamgesing as daar gespeel word. Hy onthou ook van 'n kêrel wat so 'n pragtige wit konsertina met 'n besondere mooi klank gehad het. Hierdie konsertina het van die gewones verskil daarin dat dit vierkantig en nie seskantig soos die gewones was nie. Hulle was altyd bly wanneer die eienaar van hierdie instrument met 'n kussingsloop oor die skouer daar aangestap gekom het, want dan het hulle geweet hulle sou goeie musiek kon hoor! Hy het altyd die konsertina in 'n kussingsloop gedra!

In Aberdeen se distrik was daar op 'n dag 'n baie groot troue. 'n Sekere ou wou graag die troue bywoon, maar sy skoene was gedaan en hy het nie geld gehad om nuwes te koop nie. Hy bespreek toe sy penarie met sy buurman wat hom goedgunstiglik 'n nuwe paar vir die spesiale geleentheid leen. Die aand op die dans het die ou met die nuwe skoene al te lekker te kere gegaan en kort-kort, wanneer hy die draaie so windmaker vat, hard op die vloer getrap. Dit was in daardie jare die gewoonte om hard op die vloer te trap as die dans geniet word. (In Upington se wêreld het die mense ook 'n manier gehad om om die draai, die een been so effe te buig om sodoende meer swier aan die aksie te verleen. Hierdie maniertjie is later die "Upington Dip" genoem.) Die eienaar van die skoene was egter nie ingenome met sy maat se behandeling van sy nuwe skoene nie. Later kan hy dit nie meer hou nie en tot almal se verbasing se hy kliphard aan sy vriend: "Ou kêrel, jy moet darem onthou dis my skoene waarmee jy só hard trap! Dis darem nie reg nie! " Die betrokke ou het hom baie geskaam en daarna stemmiger gedans.

Wanneer mense in daardie jare getrou het, of met Nuwejaar, is daar gewoonlik met gewere en selfs met dinamiet geskiet! Oom Hannes sê dat 'n volle skoot dinamiet net nege pennies gekos het en jy kon dit sonder 'n lisensie sommer oor die winkel se toonbank koop!

Hy sê 'n mooi kenmerk van hulle byeenkomste was dat daar nooit sterk drank gebruik is nie. Tee en koffie was aan die gaste voorsien en dan was die mense ook nooit suinig met die eetgoedjies nie.

Behalwe ander spelers, speel Oom Hannes se twee dogters en een skoonseun ook gereeld saam met hom. Hier volg ses van Oorn Hannes se komposisies op die Engelse-konsertina:

Die Noorsveld wals
Die Wapad settees
Die Wikkel mazurka
Die Sonop wals
Die Voordag wals (opgedra aan sy eggenote)
Die Op en Wakker settees

Hy sê dat die volgende nommers al oor die honderd jaar oud is, want sy oorlede vader en ander ou mense het dit weer by hulle ouers gehoor:

Ou Jors se settees
Oorn Piet se settees
Ou Hendrik se polka
Tant Martjie se polka
Ou Peet se settees
Die Noorsveld settees
Kerneels se settees
Ou Arnols se wals

Oom Piet se settees
Ou Hans se settees
Die Vra wals
Die Voordag wals
Nog 'n polka van ou Hendrik
Ou Hendrik se settees
Ou lzak se polka


Hannes speel vandag nog al hierdie wysies op 'n meesterlike wyse.

Die Tradisionele Boeremusiekklub het hierdie groot gees vereer met Ere-lidmaatskap gedurende 'n plegtige funksie op 8 Februarie 1997.