Hannes is op 7 Januarie 1911, op Jongenslaagte in Aberdeen
se wêreld gebore. In 1913 het sy ouers na die distrik
Jansenville verhuis waar hulle op die plase Klein Wolwefontein,
Tygerlaagte en Klein Brakrivier gewoon het.
Hannes het 'n laerskool op die plaas besoek waar hy die standerd
6-eksamen geslaag het. Daarna het hy sy matrieksertifikaat by
die Hoërskool Jansenville behaal. Hy het daarna aan die
Opleidingskollege van Graaff-Reinet gaan studeer waar hy in
1933 die POS-eksamen geslaag het. Gedurende sy loopbaan as onderwyser
was hy aan die volgende primêre skole verbonde: Langrug,
Lake Mentz, Toekomsrust en Waterford. Hy was ook vir jare skoolhoof.
Oom Hannes bespeel die boerekonsertina sedert 1918. Sy oorlede
vader en sy broers Gideon en Petrus was almal konsertinaspelers.
Sy broer Nicholas was 'n goeie mondfluitjiespeler. Oom Hannes,
sy suster Elizabeth en sy broer Petrus was ook ewe tuis met
die kitaar. Hierdie gesin kon sommer genotvolle musiek maak.
Volgens Oom Hannes was daar werklik baie goeie konsertinaspelers
in Jansenville se distrik in daardie jare. Hy sê dat daar
maklik twintig goeie spelers was, en hy onthou nog die name
van die volgende: Petrus van Eck, Hendrik Pieterse, Jors Gouws,
Kerneels Barnard, Hendrik van der Merwe en Jurgen Slabbert.
Oom Hannes het baie by hierdie manne geleer.
Die boerekonsertinas het maar in die omgewing van R1-00 gekos
en die Engelse-konsertinas was so 'n paar rand duurder. Oor
die algemeen was die mense op die plase nie te welvarend nie
en hulle kon nie maklik die Engelsekonsertina bekostig nie.
Oom Hannes het in 1936 sy eerste Engelsekonsertina gekoop,
maar het dit later weer verkoop. In 1940 het hy egter weer een
gekoop en toe ook sommer 'n orkessie op die been gebring. Met
behulp van die orkes het hulle baie verskeidenheidskonserte
aangebied en het hy so geld vir die skool ingesamel. In die
loop van vyf en twintig jaar het hy R3 664 vir die skool ingesamel!
Hulle kon noodsaaklikhede aankoop en selfs ook biblioteekboeke.
In 1955 het hierdie orkes met verskeidenheidskonserte op dertien
dorpe R500 vir die kerkboufonds ingesamel.
Na Oom Hannes se aftrede, het hy nog voortgegaan met die musiek,
en hy tree nog dikwels op by funksies, onthale en konserte.
Gedurende Julie 1979, het hy en sy orkes ook in die radioprogram,
"Konsertinaklub", opgetree. Hy het die Engelse- en
boerekonsertina om die beurt gespeel en dit was 'n pragtige
program van egte tradisionele boeremusiek.
Hy vertel vir ons 'n paar pragtige staaltjies. Ongeveer vyf
en sestig jaar gelede was hulle op 'n partytjie waar gedans
is. Dit was nog misvloere en daar het 'n emmer water op 'n bankie
gestaan waarmee die vloere kort-kort natgesprinkel was. 'n Windmaker
kêrel het egter van die emmer vergeet en sy nooi so gedraai
en geswaai dat haar rok aan die emmer se hingsel vasgehaak en
dit omgeruk het! Die hele vloer was nat en al die dansers se
skoene en kouse was ook onder skoot. Almal het gou ingespring
en gehelp om die vloer droog te kry en die dansery het weer
begin. Die windmaker ou het toe meer stemmig gedans!
By 'n ander geleentheid was daar 'n sekere man wat gedink het
dat hy die boerekonsertina beter as al die ander kon speel.
Hy het egter so hard getrek en gedruk aan die instrumentjie
dat die skroewe aan die een kant losgetrek het en daar was eensklaps
geen musiek nie! Die konsertina is weer herstel en "breker"
het nie weer kans gekry om te speel nie!
Oom Hannes vertel ook dat kitare maar skaars was in daardie
dae en dat konsertina-spelers dikwels as soliste opgetree het.
Hulle en van die toehoorders het gewoonlik saamgesing as daar
gespeel word. Hy onthou ook van 'n kêrel wat so 'n pragtige
wit konsertina met 'n besondere mooi klank gehad het. Hierdie
konsertina het van die gewones verskil daarin dat dit vierkantig
en nie seskantig soos die gewones was nie. Hulle was altyd bly
wanneer die eienaar van hierdie instrument met 'n kussingsloop
oor die skouer daar aangestap gekom het, want dan het hulle
geweet hulle sou goeie musiek kon hoor! Hy het altyd die konsertina
in 'n kussingsloop gedra!
In Aberdeen se distrik was daar op 'n dag 'n baie groot troue.
'n Sekere ou wou graag die troue bywoon, maar sy skoene was
gedaan en hy het nie geld gehad om nuwes te koop nie. Hy bespreek
toe sy penarie met sy buurman wat hom goedgunstiglik 'n nuwe
paar vir die spesiale geleentheid leen. Die aand op die dans
het die ou met die nuwe skoene al te lekker te kere gegaan en
kort-kort, wanneer hy die draaie so windmaker vat, hard op die
vloer getrap. Dit was in daardie jare die gewoonte om hard op
die vloer te trap as die dans geniet word. (In Upington se wêreld
het die mense ook 'n manier gehad om om die draai, die een been
so effe te buig om sodoende meer swier aan die aksie te verleen.
Hierdie maniertjie is later die "Upington Dip" genoem.)
Die eienaar van die skoene was egter nie ingenome met sy maat
se behandeling van sy nuwe skoene nie. Later kan hy dit nie
meer hou nie en tot almal se verbasing se hy kliphard aan sy
vriend: "Ou kêrel, jy moet darem onthou dis my skoene
waarmee jy só hard trap! Dis darem nie reg nie! "
Die betrokke ou het hom baie geskaam en daarna stemmiger gedans.
Wanneer mense in daardie jare getrou het, of met Nuwejaar,
is daar gewoonlik met gewere en selfs met dinamiet geskiet!
Oom Hannes sê dat 'n volle skoot dinamiet net nege pennies
gekos het en jy kon dit sonder 'n lisensie sommer oor die winkel
se toonbank koop!
Hy sê 'n mooi kenmerk van hulle byeenkomste was dat daar
nooit sterk drank gebruik is nie. Tee en koffie was aan die
gaste voorsien en dan was die mense ook nooit suinig met die
eetgoedjies nie.
Behalwe ander spelers, speel Oom Hannes se twee dogters en
een skoonseun ook gereeld saam met hom. Hier volg ses van Oorn
Hannes se komposisies op die Engelse-konsertina: