Johannes Petrus (Silver) de Lange was die leier van die Vyf
Dagbrekers. Hy is op 14 Julie 1904, gebore en is op 18 Desember
1956, oorlede. Daar word beweer en algemeen aanvaar dat hy sy
bynaam verdien het as gevolg van die skoon en suiwer klanke
wat hy uit die konsertina kon tower.
Die Klub kon aanvanklik nie 'n foto van hierdie man in die
hande kry nie, maar Danie Labuschagne het dit tog reggekry!
Sommige mense wat beweer het dat hulle Silver goed geken het,
het gesê dat die man op die foto hiernaas, nie hy is nie.
Danie het na baie moeite tog Silver se familie opgespoor wat
bevestig het dat dit wel 'n foto van hom is. Ons is dus baie
ingenome met die feit dat ons hierdie foto nou kan bewaar vir
die nageslag. Agterna was daar weer bewerings dat dit nie Silver
op die foto is nie.

Silver de Lange is regs op die foto langs die Artillerie vlag
[Foto Kopiereg voorbehou]
Behalwe die orkeslede wat die Vyf Dagbrekers gevorm het, het
Blackie Swart (kitaar) en Harry Garbers (banjo) ook by tye saam
met hom gespeel.
Gemeet aan die hedendaagse standaarde en volgens die huidige
eksponente van boeremusiek, was Silver een van die beste spelers
van die pioniergroep. Ons wil nie, en dis ook nie ons taak om
hierdie orkeste teen mekaar op te weeg nie, ons wil maar net
graag hierdie man se besondere talente probeer beklemtoon. Om
verder hierdie bewerings te staaf, kan daar met alle eerlikheid
gesê word dat die meeste van die hedendaagse spelers nog
steeds kleitrap om sy komposisies foutloos te speel!
As 'n mens na die titels van hierdie groot man se werke kyk,
kom jy dadelik tot die gevolgtrekking dat daar iewers in sy
lewe, moontlik liefdeslewe, iets moes gebeur het wat hom baie
moes beïnvloed het. Mymer gerus maar oor die volgende titels: