Willie, soos hy alombekend was, is op 20 September
1918, in Brakpan gebore. As kleuter het sy musiektalent al begin
deurskemer. Op die ouderdom van ses het hy al sy eerste openbare
optrede met 'n mondfluitjie op 'n skoolkonsert gehad! Kort hierna
het hy die kitaar bemeester en een van ons grootste konsertinaspelers
van weleer was op pad om beroemd te word.
Kort hierna het Willie met die konsertina begin en dit was
gou duidelik dat hy 'n gebore konsertinaspeler was. Op 18-jarige
ouderdom het hy sy eerste plaat, naamlik die beroemde treffer
Suikerbossie, gemaak.
Hierdie plaat was van meet af 'n groot sukses en later het Willie
sy orkes na hierdie gewilde plaat vernoem, naamlik die Welgens
Suikerbossie Orkes. In 'n program, "Baanbrekers van Boeremusiek",
wat die SAUK op 6 Januarie 1969, uitgesaai het, het Willie gesê
dat die opname van Suikerbossie
vir hom die grootste opwinding in sy musiekloopbaan was. Hy
vertel toe die opname Willie Welgens vir hulle teruggespeel
is (daardie dae was dit nog op wasplate opgeneem), het hy 'n
onbeskryflike gevoel gekry . . . Dit was vir hom mooi, lekker,
aangenaam en opwindend. In sy herinneringe was dit altyd een
van die hoogtepunte van sy lewe.
Formele musiekopleiding het hy nooit gehad nie. Toe hy vir
Hendrik Susan begin speel het, het hy 'n paar kitaarlesse by
Rupert Meyer gekry en ook geleer om musiek te lees. Dit het
hom later baie gehelp in sy musiekloopbaan.
Naas die konsertina kon hy die volgende instrumente bespeel:
kitaar, mondfluitjie, basviool, banjo, klavier en trekklavier.
Na die maak van sy eerste plaat, het hy by Gallo (Afr.) in hulle
kitaarfabriek begin werk wat aan die ateljees in Troystraat
gegrens het. Hy was dus ook byderhand as begeleier vir verskillende
orkeste en sangers. Hy het Dawid de Lange dikwels begelei wat
op daardie stadium baie plate gemaak het. Willie het ook soms
saam met Hansie van Loggerenberg gespeel, maar dit was hoofsaaklik
op danse.
In 1938 het Willie by Hendrik Susan se orkes aangesluit. Hulle
het 'n kontrak opgestel wat mevrou Welgens later aan Hans la
Grange gegee het. Sy het nooit weer iets van hierdie kontrak
gehoor nie, want Hans het gesê dat hy dit vir sy museum
gaan hou. Saam met Hendrik het hulle die land deurreis en vir
lang tydperke in Kaapstad gebly waar hulle koffiehuiskonserte
en radio-uitsendings aangebied het. Hulle het ook baie geld
vir die Reddingsdaadbond ingesamel.
Ons dank mevrou Babs Welgens vir al hierdie inligting. Sy vertel
verder dat sy destyds in Kaapstad gewerk het toe die orkes daar
doenig was. Sy het in 'n losieshuis in Oranjestraat gewoon en
Willie het ook daar kom bly. Hulle het bevriend geraak en is
10 Julie 1943, getroud. So 'n jaar of twee daarna het Willie
die swerwersbestaan vaarwel toegeroep alhoewel hy nog dikwels
saam met Hendrik opgetree het as die geleentheid hom voorgedoen
het of as Hendrik hom nodig gehad het. Mevrou Welgens sê
dat Hendrik altyd soos 'n ware heer opgetree het. Sy praat met
groot lof van hom. Hierna het Willie net vryskutwerk gedoen.
Hy het lank saam met Freddie Fischer gespeel en omtrent tien
jaar lank ook by die Rosemarie Dansklub.
In 1945 het hy konsertina vir Freddie gespeel toe die SAUK
'n boeremusiekwedstryd oor die radio aangebied het. Hulle orkes,
naamlik nommer 13, se uitsending was op 23 April en hulle het
met die louere weggestap! Die wenorkes het toe weer daarna oor
die radio opgetree en daar is drie transkripsie-opnames van
hulle musiek gemaak. Mevrou Welgens het nog hierdie opnames
in haar besit en is beslis dat dit van haar waardevolste besittings
is. Net na hierdie kompetisie het Gerrie Bezuidenhout, wat destyds
by Meteor Plate gewerk het, Willie kom spreek en hom gevra om
'n langspeelplaat daar te maak. Hy het ingewillig en so gebeur
dit dat hy altesaam vier langspeelplate by daardie maatskappy
maak.
Willie het teenoor sy vrou erken dat dit nie lekker was om
die langspeelplate by Meteor te maak nie, want elkeen het sy
eie mikrofoon en oorfone gehad en kan hy nie "lekker gees
vang" nie. In die ou dae het die hele orkes blykbaar om
een mikrofoon gespeel. Vandag het elke speler sy eie mikrofoon
tydens opnames en hulle sit vêr van mekaar sodat die mikrofoon
nie die ander instrumente se klanke kan opvang nie. Elke speler
het dan ook oorfone waarmee na die ander orkeslede se musiek
luister word. Soms is hulle afgehok in klankdigte ateljees en
kan nie eens al die ander spelers sien nie!
Willie het baie van die ou musikante geken, waaronder: Hendrik
Susan, Freddie Luyt, Freddie Fischer, Jimmy Boonzaier, Eddie
Wyngaardt, Tienie Coetzer, Nico Carstens, Sam Petzer, Willie
Bauscher, Neels Steyn, Louis Lotter, Jannie Nel, Corrie Nortje,
Fanie Bosch, Hansie van Loggerenberg en baie ander.
Mevrou Welgens het my 'n bladsy uit 'n notaboek gewys waarop
Willie aangeteken het wie hom op die 78-spoedplate begelei het.
Hulle was:
| Willie Welgens |
: Konsertina |
| Dan Truter |
: Klarinet |
| George Abrahams |
: Banjo |
Die kitaar- en basvioolspelers het baie gewissel, maar van die
volgende spelers het hom op die een of ander van hierdie plate
begelei:
Arnout van der Merwe,
Eddie Wyngaardt,
ene Smit (sy voornaam het hom ontgaan) |
: Kitaar |
Wilhelm Roets,
Gert Naude,
Rup Meyer,
Tienie Coetzer en
Stan Murray |
: Basviool |
Dawid de Lange was natuurlik die sanger. Op sy laaste langspeelplaat
was die orkeslede:
| Willie Welgens |
: Konsertina |
| Dan Truter |
: Klarinet |
| George Abrahams |
: Banjo |
| Dries Lombaard |
: Kitaar |
| Regan Pinnoy |
: Basviool |
Van Willie se bekendste komposisies, wat ook in sy eie handskrif
opgeteken is, is: