
Eben is op 26 Augustus 1989 in die destydse Paardekraal Hospitaal
in Krugersdorp gebore. Hy is vanaf die ouderdom 3 maande deur
sy ouma en oupa bekendgestel aan die wêreld van boeremusiek
en word vandag steeds daardeur bekoor.
Na die afsterwe van sy geliefde oupa in 2005 het hy eers begin
met genealogie en 'n jaar later besluit hy om 'n konsertina
aan te skaf. Sy oom, Louis du Plessis is 'n bekende kitaarspeler
in die Krugersdorp-area en het hom adviseer om 'n 40-Klawer
Wheatstone aan te skaf. Op 6 Mei 2006 was hy by die Nasionale
Boeremusiekdag by die Voortrekker Monument in Pretoria en daar
het hy op die spoor van so 'n instrument gekom. Op 13 Mei 2006
is die konsertina by Mnr. Albert Heckler in Môregloed
aangekoop. Die oom het nog 'n boerekonsertina gehad wat sy broer,
Tiens Vorster, toe later gekoop het.
Oppad huistoe het hy met die eerste liedjie, Stille
Nag, Heilige Nag begin en teen die einde van die aand
dit vlot gespeel. Kort daarna het hy drie konsertina lesse van
Nic Potgieter bestel en heel eerste die Mampoerpolka
geleer. Daarna was daar geen keer nie.
Sowat vier maande later het Eben 'n Fender banjo gekoop en
binne ses maande weet hy waar sit elke hoofakkoord op die nek.
Sy rolmodel op die banjo is Andre Stander.
Aan die begin van 2007 sluit hy aan by die Monnas Boere-orkes
van die Hoërskool Monument in Krugersdorp as banjospeler.
As deel van hierdie orkes kry hy die geleentheid om bykans die
hele land noord van die Oranjerivier te sien.
In September 2007 sluit Eben by die TBK aan nadat hy vroeër
daarvan gelees het op Kalie de Jager se webtuiste. Nie lank
daarna nie het hy die Leierkitaarspeler van die Monnas
Orkes, Dylan
Emslie, bygestaan om 'n konsertina aan te skaf en hom met
die instrument touwys gemaak. Meer oor Dylan later.

Eben Vorster en Dylan Emslie
In Desember 2007 tydens 'n optrede by die Wesrand TBK saam
met sy broer en Dylan ontmoet hulle vir Rejean
Viljoen, Martin
Dorfling en Henri Jager wat hulle uitnooi om 'n orkes op
die been te bring. Dit was die Sonop
Boereorkes se eerste Sonopkoms.
Met die Sonop Boereorkes se tweede oefening nooi hulle vir
Stephaan van Zyl om te kom raad gee en saam te speel, en 'n
hegte vriendskap is gevorm. Nie lank daarna nie koop Eben sy
eerste Boer by hom en skryf sy gunstelingnommer, Oom
Fritz se Polka, op Bladmusiek.
Tans dra hy sy musiekkennis aan die jonger geslag oor deur
die Penkoppe
Boereorkes, 'n Laerskoolorkes, af te rig.