|
Ek wil graag aan die begin van hierdie hoofstuk vir meneer
J.H. Visser van Milnerton bedank vir die navorsing wat hy gedoen
het in verband met Oom Jan Visser. Hy het tot by die NG Kerk
se argiewe gaan navrae doen en selfs vasgestel waar en wanneer
Oom Jan gebore en gedoop is! Baie dankie.
Oom Jan is op 22 Julie 1883 gebore in die distrik Piketberg,
en is op 6 Maart 1884, te Witte Drift (die huidige Redelinghuys,
naby Aurora, distrik Piketberg) gedoop.
Oom Jan was aan die begin van sy loopbaan eers 'n winkelklerk
te Porterville, maar het daarna na die Paarl verhuis waar hy
hom as wamaker en grofsmid bekwaam het. In daardie jare was
hierdie bedryf baie sterk in die Paarl en van die beste waens
en perdekarre is destyds daar vervaardig.
Mnr H. relling vertel dat Oom Jan ongever 1933 na Stellenbosch
verhuis het waar hy oom Pietie le Roux van die Stellenbosch-Boerorkes
ontmoet het. Oom Jan was op daardie stadium 'n baie goeie en
gewilde konsertinaspeler en Oom Pietie het hom sommer gou ingespan
en hy het saam met hierdie orkes gespeel van 1934 af tot 1948.
Dit word ook vertel dat Oom Jan 'n goeie kitaarspeler was.
Volgens inligting het Oom Jan met die boerekonsertina begin
en later die Engelsekonsertina bemeester. Skynbaar het hy geen
leermeesters gehad nie.
Mnr N.P. Rossouw van die plaas Rusoord, Morreesburg vertel
dat hy Oom Jan van 1938 tot 1948 goed geken het. Hy self was
ook 'n goeie konsertinaspeler. Gedurende 1938 was daar 'n groot
Eisteddfod te Stellenbosch en hy en Oom Jan het as konsertinaspelers
teen mekaar te staan gekom. Hy vertel dat Oom Jan gewen het!
Dr Willem le Roux, die seun van oom Pietie le Roux, he took
vir Oom Jan geken. Hy sê dat Oom Jan nie meer baie gespeel
het toe hy Oom Pietie ontmoet het nie, maar toe hy eers weer
met hierdie groot orkes te doen gekry het, het hy sommer onmiddelik
weer begin oefen. Hy het so hard gewerk dat sy vrou, Tant Mollie,
later begin kla het. (Baie konsertinaspelers kry met hierdie
problem te doene!)
Meneer Jan Truter van Stellenbosch deel mee dat hy Oom Jan
ook goed geken het. Oom Jan was destyds al redelik oud en het
nie meer baie gespeel nie. Oom Jan het 'n eienaardige gewoonte
gehad om 'n King George-aartappelmoer in sy broek se agtersak
te dra vir rumatiek. Hy het vas geglo dat dit hom verligting
gegee het.
Meneer Franco Maritz van Somerset-wes sê dat hy bevoorreg
was om 'n tyd lank by Oom Jan en Tant Mollie te kon inwoon.
Daar was heelwat studente wat saam met Oom Jan gespeel het en
kan nog die volgende name onthou: Lourens Visser, Pieter du
Toit, Frikkie Brand en Danie Solomon. Hulle kenwysie was gewoonlik
Daar vlieg 'n voëltjie oor die German West. Hy kon nie
die ander woorde onhou nie. Oom Jan het gewoonlik die konsertina
in die een hand gehou en dan stadig laat afsak terwyl hy die
klawers met die een hand vinnig gedruk het. Hy het hierdie proses
so 'n paar maal herhaal en dan, op hierdie eienaardige manier,
temas vir nuwe komposisies gekry! Volgens meneer Maritz het
Oom Jan baie gekomponeer, maar ongelukkig is dit nooit op plaat
of band opgeneem nie.
Oom Jan en Tant Mollie se huis was ook altyd die bymekaarkomplek
van studente wat lief was vir boeremusiek en van die groot musiekmakers
van daardie tyd.
Meneer van Aarde van Retiefstraat, Belville vertel dat hy as
haarkapper baie Oom Jan se hare gesny het. Volgens hom was Oom
Jan 'n ware heer, maar tog altyd vol grappe. Hy was alom bekend
en bemind.
Die Visseregpaar het vier kinders gehad naamlik: Frederick
Johannes, Hester Hendrika, Johannes Frederick, Henry Owen Wiggens
(Tant Mollie se nooiensvan was Wiggens).
Ongelukkig het hierdie begaafde musikant net twee 78-spoedplate
gemaak. Hierdie vier nommers bly egter immergroen en selfs vandag
word hulle dikwels oor die eter gehoor wanneer jonger kunstenaars
dit uitvoer:
| Lentekoors |
DE 174 |
| Gala Polka |
|
| Stellenbosch Verlange (wals) |
DE 175 |
| Kommando Polka |
|
Die TBK het wel opnames van ander onbekende nommers deur hierdie
groot musikant in die hande gekry en hulle word nou saam met
die ander in bewaring gehou.
Oom Jan was slegs deur twee kitaarspelers begelei wat ook die
sangdele op sommige snitte behartig het. Hulle was B.H. Rossouw
en Chris (Vossie) Vosloo
|