
Rèjean Viljoen is op 21 Maart 1987 in die Florida Clinic
in die weste van Johannesburg gebore en het die meeste van sy
lewe in die suide van Johannesburg en Alberton gewoon. Hy het
skool gegaan te Helpmekaar Hoërskool.
Daar is musikale gene in sy familie en hy is vir so lank as
hy kan onthou versot op boeremusiek. Sy oupa het ukulele en
mondfluit gespeel, sy oom kitaar, sy tannie traporrel en sy
oupa grootjie konsertina. Van kleins af wou hy 'n instrument
bespeel en in 2000 het sy ouers vir hom 'n kitaar gekoop. Marius
Botha, wat by Hansie Roodt geleer speel het, het voorkom dat
die kitaar stof vergader en ure spandeer om te verseker dat
Rèjean die kitaar bemeester.
In Junie van 2003 het hy na opnames van die ou TV Boeremusiekkompetisies
gekyk en eweskielik besluit dat hy wil konsertina speel. Sy
ma was nie te vinde vir die idee van nog 'n instrument nie.
Gelukkig het sy stiefpa, oom Marius Botha, met 'n slim plan
voorendag gekom. Hy sal die geld voorskied en hoef slegs terug
betaal te word as Rèjean die konsertina baasraak. As
Rèjean moed opgee is hy bereid om sy geld te verloor.
Vandag weet ons sy ma was genoodsaak om elke liewe sent terug
te betaal.
Hy het begin konsertina speel deur 20 lyntjies op 'n papier
te trek en kolletjies te maak daarop. Dit het baie lank gevat
maar hy drie nommertjies so geleer. Hy vertel dat 'n boekie
van Nic Potgieter hom baie gehelp het met harmonieë en
akkoorde. Hy het by die TBK aangesluit en vir Gert Jooste en
Stephaan van Zyl ontmoet. Hy het vinnig vriende gemaak en lekker
saam gespeel.

vlnr. Willem Jooste Jr, Rèjean Viljoen, Gerrit Jooste
TBK Byeenkoms Pretoria, 2003-08-23
[Foto kopiereg Séan Minnie]
Rèjean het vir Martin
Dorfling ontmoet en baie goeie vriende geword. Die twee
het besluit om 'n orkes te stig en so het Die
Sonop Boereorkes ontstaan.