Oom Nelie is op 20 November 1894, te Spitskop in die distrik
Ermelo, gebore. Meegaande foto is in 1974 geneem (Oom Nelie
was toe reeds tagtig jaar oud), toe hy aan 'n talentkompetisie
te Tshipise deelgeneem het.
Oorn Nelie het as jong seun vir sy oom, Kerneels Pienaar, in
die omgewing van Ermelo, Amsterdam en Piet Retief met skape
geboer. Dit was ook by Oom Kerneels dat hy die konsertina leer
speel het.
As die weiding gedurende die wintermaande te min geword het
vir die vee moes hy Swaziland toe trek. Hier het hy dan gewoonlik
tent opgeslaan en met genoeg biltong, beskuit, pap en skaapvleis
die winter deurgesien. Ons weet dat hierdie deel van die land
baie koud word in die winter, maar Oom Nelie het sy bloed warm
gehou met die sagte, melodieuse klanke van sy boerekonsertina.
Een jaar het sy wa by Sandrivier, naby Swaziland, vasgeval en
die donkies wou opsluit nie verder trek nie. Oom Nelie het op
dié tydstip heerlik in die wa gelê en konsertina
speel. Een van sy swart skaapwagters kom toe by hom en sê:
"Oubaas, jy is van die Satan". Hy het seker maar bedoel
dat die donkies nie wil trek as hulle sulke mooi musiek hoor
nie! Oom Nelie, 'n gemoedelike mens, het ewe nonchalant uit
die wa geklim en die donkies 'n paar rapse gegee waarop hulle
die wa maklik deur die drif getrek het!
As 'n jong man het hy met sy geliefde perd, "Wilmoed",
in die Duits-Wesoorlog geveg en gelukkig ongedeerd teruggekom.
In hierdie oorlogsjare het sy boerekonsertina hom vergesel en
hy kon, wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, sy makkers
met musiek vermaak. Sy konsertina het hy in sy saalsak vervoer.
(Vriende, ons boeremusiek het darem ver paaie geloop!) Oom Nelie
is later met Cornelia van Schalkwyk getroud en uit die huwelik
is drie kinders gebore. Hulle is Johannes, Marthina en Nico.
Laasgenoemde is natuurlik die welbekende konsertinaspeler en
orkesleier wat geen bekendstelling nodig het nie. Johannes,
die oudste seun, het self ook baie goed konsertina gespeel in
sy jong dae, en saam met sy neefs 'n goeie orkes gehad wat baie
by funksies opgetree het. Sy neefs, Kota, Piet, Lukas, Kerneels
en Jaap Naude het hom gewoonlik begelei.
Foto hier
Nelie se seun, Nico van Rensburg toe hy die boeremusiekkompetisie
van SATV in 1984 gewen het
Johannes se oudste seun Neelsie, en Nico se enigste seun Christo,
(albei is na hulle oupa vernoem) speel deesdae in groot orkeste.
Neelsie bespeel die tromme en Christo is sommer 'n uithaler
konsertinaspeler wat reeds in die boere-orkeskompetisie, wat
die TV aangebied het, opgetree het! So, die appels het nie te
ver van die ou groot boom geval nie!
Die musikante wat Oom Nelie gewoonlik begelei het, is soos
volg:
| At Rahl |
: Kitaar |
| Arthur Squire |
: Kitaar |
| John Geldenhuys |
: Traporrel |
Hulle het veral op troues, boeresportbyeenkomste en huispartytjies
opgetree. Oom Nelie was 'n welbekende musikant met 'n baie vriendelike
geaardheid, en kon maklik met mense omgaan. Hy het mense en
die lewe geken en kon hom maklik by omstandighede aanpas. Hy
was ook 'n uithaler skut en kon vleis goed bewerk. Sy geliefkoosde
gereg (wie kan raai?) was dan ook gebraaide skaapribbetjie en
pap! Koningskos vir ons Boere!
Hy was baie lief vir sy pyp en het gerook tot en met sy afsterwe
op 27 September 1977, te Newcastlehospitaal in Natal. Hy is
in die Zandfonteinbegraafplaas, Pretoria, langs sy eggenote,
te ruste gelê.
Oom Nelie het die boerekonsertina, die tweery Wheatstone en
die gewone Wheatstone bespeel. In die vroee sewentigerjare het
hy aan baie radio-uitsendings deelgeneem. Alhoewel toe reeds
bejaard, het hy hom tog goed van sy taak gekwyt en sy musiek
was puik.
Oom Nelie het ook 'n langspeelplaat, Oud maar nog nie koud
gemaak by Troubadour, met reeksnommer TRL A3122. Hy het ook
op die een kant van Die oue en die nuwe gespeel wat by MFP gemaak
is met reeksnommer SRSJ 7074. Op die anderkant is nommers van
sy seun Nico opgeneem.
Op hierdie twee plate het Oom Nelie die volgende nommers (moontlik
name en herinneringe uit sy jong dae) gespeel: