Hansie, soos hy alombekend is, is op 28 Desember 1908, in Potchefstroom
gebore. As jongman het hy by 'n begrafnisondernemer in Fordsburg,
Johannesburg, begin werk. Hy moes ook nagdiens verrig en het
gou besef dat hy vir hom 'n stokperdjie sou moes aanskaf, aangesien
dit maar eensaam en alleen kon word in so 'n plek! Hy het eendag
'n Swartman 'n konsertina sien speel en het nader gestaan. Die
Swarte het net een wysie op 'n ou boerekonsertina gespeel, maar
Hansie se belangstelling was geprikkel. Nadat die Swarte hom
so 'n bietjie gewys het, het hy sy eie konsertina gaan koop
en nie lank daarna nie, kon hy Sarie Marais vlot speel.
Hansie was ses en veertig jaar lank verbonde aan die Transvaalse
Administrasie en het sy hele dienstermyn by hospitale gewerk.
Hy het as bode by die destydse Algemene Hospitaal, Johannesburg,
begin en het in Pretoria afgetree as Administratiewe Beampte.
In 1935 is hy met Anna Jacoba Burger verloof en hulle is die
daaropvolgende jaar getroud. Hy het haar altyd sy ou "Flame"
genoem.
In 1935 het Hansie aan sy eerste direkte (lewendige) uitsending
oor die radio deelgeneem. Die program wat destyds in die ateljees
in Breestraat, Johannesburg, opgeneem en uitgesaai is, het ongeveer
'n uur geduur en die bekende Pieter de Waal was die aanbieder.
In 1937 het hy sy eerste plate gemaak en sy orkes was toe bekend
as die Lekker Kêrels. Een van Hansie se eerste plate se
naam was Aan die Flames-vastrap. Ons het altyd gewonder vanwaar
die eienaardige naam, en het lekker gelag toe hy vertel dat
hy dit eintlik aan sy ou "Flames" opgedra het!
Hierdie orkes, Die Lekker Kêrels, het uit die volgende
spelers bestaan:
| Hansie van Loggerenberg |
: Konsertina |
| Van Rensburg |
: Mandolien |
| Attie Mare |
: Banjo |
| Pretorius |
: Kitaar |
| Kleynhans |
: Kitaar |
Hierdie orkes was baie gewild en Hansie het baie boeremusiekkompetisies
gewen. In 1942 en 1949 het hy ook twee kompetisies gewen wat
deur die SAUK aangebied is. Dit spreek boekdele vir sy orkes,
want in daardie jare was boeremusiek op die kruin van die golf
en die kompetisie baie straf!
Later is die orkes na die Excelsior Radio- en Dansorkes herdoop.
Hansie was natuurlik ook goed bevriend met al die goeie spelers
van daardie jare en het vir Cissie en Willie Cooper - die bekende
komponiste - baie goed geken. Die volgende bekende sangers het
dikwels saarn met hom opgetree: Chris Blignaut, Dawid de Lange,
Bettie Brits, Freddie Fischer, Jurie Ferreira en Danie Pretorius.
Callie Burger, sy swaer, het ook soms saam met hom opgetree.
Hy was 'n bekende basvioolspeler, maar was ook vaardig met die
klavier, banjo en trekklavier. Terloops, hy het ook die volgende
plaat gemaak: Hoor die Uile in die Laan en Katushka Katryn.
Dis by Trek opgeneem en die reeksnommer is AC 762.
Baie van die musikante wat saam met Hansie opgetree het, het
later hulle eie orkeste gestig en beroemd geword. Hansie se
vrou het agt jaar lank die tromme in die orkes gespeel. Sy vertel
dat sy 'n paar maal bedank het, maar dat Hansie dit nooit wou
aanvaar nie. Op 'n dag het sy 'n blink gedagte gekry en haar
bedanking skriftelik ingedien! Hy moes toe maar die bedanking
gelate aanvaar!
Sy vertel dat dit baie bedrywige jare daardie was en dat hulle
party Saterdae tot vier maal op bruilofte moes speel! Die troues
is natuurlik so gereel dat die orkes kon optree, bv 10h00, 14h00,
18h00 en 20h00. Hulle moes ook later die orkes in twee groepe
verdeel. Hansie was die leier van die senior orkes en sy vrou
moes met die junior groep optree. Hulle het natuurlik van die
beste musikante tot hulle beskikking gehad, en manne soos Pieter
en Ollie van Wyk en Jimmy Mitton het hulle bygestaan. Die bekende
banjospeler, George Abrahams, het ook lank saam met hulle opgetree.
Hulle vertel graag die volgende staaltjie: Hulle het gewoonlik
saans vir George by sy huis gaan oplaai wanneer hulle
iewers moes gaan speel. George se vrou se naam was Mary. George
was 'n baie beleefde en goedgemanierde mens en wanneer hulle
wegry, het hy altyd vir Mary gewuif en gesê: "Nag
Mary". Wanneer George nie by was nie het hulle gewoonlik
ondermekaar gespot en
gesê George sê vir sy vrou "nagmerrie"!
Hansie en sy orkes het baie by beroepsboksgevegte opgetree.
Hulle het gewoonlik die toeskouers vir ongeveer twee uur voor
die geveg met lekker ligte musiek, en veral boeremusiek, vermaak.
Ai, waar's die dae?
In die goeie ou dae moes Hansie een keer op Potchefstroom by
'n verskeidenheidskonsert gaan speel. Pieter de Waal was weer
die organiseerder en aanbieder en die program sou lewendig uitgesaai
word. Hansie en sy orkes het van Johannesburg gekom en moes
die hele pad in die rëen ry. Daardie jare was dit nog grondpaaie
en vir ente-ente moes een van die orkeslede voor die motor loop
om te sien of dit veilig was om te ry. As gevolg van hierdie
toestande het hulle bykans 'n uur laat by die konsert opgedaag.
Hulle kon
inderhaas net een of twee nommers speel voordat die tyd verstreke
was. Sy vrou het angstig by die huis voor die radio gesit en
wag en kon nie verstaan waarom die orkes nie speel nie. Haar
verligting was egter baie groot toe sy hulle darem aan die einde
van die
program gehoor het!
Hansie het die volgende 78-spoedplate gemaak:
Aan die Flames
Voorloper set. |
GE 236 |
Lekkerdraai
set.
Die Splinternuwe broek |
GE 240 |
Kom Terug my Liefling
Verlang wals (Saam met Danie Pretorius) |
GE 243 |
Ruklos Vastrap
(Anderkant is dit Jac v.d. Walt en Dan Bothma met die
Blou Rok) |
GE 259 |
Pieta Polka
As die Maan opkom oor die Berge
(Hierdie kant is dit W. Welgens met Jac v.d. Walt) |
GE 266 |
Loekie, Loekie, Loekie
Koos van Buffeldoorns |
GE 283 |
Minnie se verjaardag
Ver in Christiana |
GE 284 |
Soet Gedagtes (Veleta)
Die Lekker Kerels |
GE277 |
Jan van Riebeeck
Bokkie |
GE 509 |
By 'n Kampvuur
Herinnerings |
GE 525 |
My Skuitjie
Ploem ploem tralala |
GE 537 |
Klipdas Polka
Appeltjie |
GE 603 |
Voortrekker
wals
(Anderkant is Rooikrantz deur Imker Hoogenhout) |
GE 642 |
Ruklos Set.
Draai am |
JV 107 |
As die musiek in die voorkamer
raas
AI Iê die berge nog so blou (Saam met C. Blignaut) |
JV 109 |
Huistoe
Pale toe |
AC 715 |
Op Reis na die maan
Ali Bama |
AC 716 |
Hansie het ook 'n aantal Christelike plate gemaak en het daarin
as koorleier opgetree.
Hansie se ook dat hulle op 'n keer op Pietersburg gespeel het
waar 'n bewonderaar buitengewoon lank met hom gesels het. Die
man was naderhand baie vervelend en toe hy (die man) later anderpad
kyk het Hansie sy kans waargeneem om weg te loop. Toe die man
weer na sy held opkyk, kyk hy in die gesig van 'n ander speler,
Chris Terblanch. Hy kon die situasie nie begryp nie en se erg
verbaas: "My Gosh, how have you changed!"
Hansie kon natuurlik musiek lees. Hy was bevoorreg om lesse
by Michael de Villiers te neem. Die meeste van die ou Boeremusikante
en selfs nog baie hedendaagse spelers, was hierdie voorreg nie
beskore nie. Hansie het ook konsertinalesse aangebied en het
baie leerlinge gehad. Hy het die klawerbord van die konsertina
geteken en die musiek daarvan geskryf.
Die Randse Vriendekring is in daardie jare gestig en radiouitsendings
is maandeliks vanaf hierdie byeenkomste lewendig aangebied.
Bekende kunstenaars soos Al Debbo, Jim Muller, Frederik Burgers,
Chris Blignaut en vele ander het daaraan deelgeneem.
Op 'n stadium het Hansie die magtiging van die SAUK gehad om
voornemende kunstenaars se aanleg te toets, oudisies te reel
en 'n aanbeveling te maak. As hy byvoorbeeld iemand goedgekeur
het, kon die persoon by die konsert optree en aan die lewendige
uitsending deelneem. Op 'n keer het hy aan 'n manspersoon toestemming
gegee om 'n sangnommer by die konsert te lewer. Dit was ook
'n direkte uitsending en die man het ewe lustig begin sing:
"Ek sien 'n skilpad in die pad, ek tel hom op en sit hom
neer"!!! Daar was natuurlik ook baie lelike woorde vir
hierdie liedjie en Hansie was verlig toe die man net die woorde
"ek tel hom op" gesing het "en ek sit hom neer"
want vir die laaste reël was daar destyds baie kru woorde!
Hy se hy sidder nou nog as hy aan die gevolge dink sou die persoon
die lelike woord wel oor die lug gesing het!
Een aand moes hy een van sy lede (die naam sal maar liewer
verswyg word) voor die mikrofoon wegstamp, want hierdie ou het
eweskielik met die vreeslikste akkoorde losgetrek waarmee die
ander lede nie kon saamspeel nie. Hierdie akkoorde was nooit
vooraf geoefen nie en as die ou daarmee sou voortgaan sou die
uitsending pateties misluk het! Dis onnodig om te se dat die
ou spelers letterlik hare op hulle tande moes gehad het tydens
die lewendige uitsendings. As 'n snaar sou breek, moes die betrokke
musikant eenvoudig maar net voortgaan asof niks gebeur het nie!
Hy het ook op 'n stadium vir ses maande saam met Chris Blignaut
deur die land getoer en konserte aangebied. Hy se ou Chris was
altyd baie nuuskierig oor hoeveel mense die konserte sou bywoon
en het altyd deur 'n gaatjie in die gordyn geloer (as daar nie
een was nie het hy een gemaak!) om te sien hoeveel mense inkom.
Hy het dan aan Hansie gese: "Hier kom drie-en-ses"
of hier kom nou weer "drie vyfsjielingse ingestap",
ens.
Hansie en sy gesin het dikwels op Stilbaai vakansie gaan hou
en hier het hy gehoor hoe Bokkie
deur die Kleurlinge gesing is. Hy het dit opgeteken en verwerk.
Dit was later 'n groot treffer en word vandag nog dikwels gehoor.
Dieselfde het met Alibama
gebeur. Dit was net so gewild en het later Hansie se kenwysie
geword.
Hansie en Jan Pohl was groot vriende, die twee gesinne het dikwels
saam gaan vakansie hou in die Suide. Hansie het baie van Jan
se komposisies uitgesaai en op plaat pgeneem. Hansie en sy orkes
was vir meer as drie dekades op die voorgrond en het voorwaar
'n vrugbare tydperk in die ligte musiekwereld gehad. In 1957
het hy na Pretoria verhuis en nog soms daar opgetree. Hy het
egter in 1967 verlamming aan die een kant van sy liggaam opgedoen.
Sy regterhand is so aangetas dat hy sedertdien nooit meer sy
geliefde konsertina kon bespeel nie.
Hansie se goeie vrou het deur die jare plakboeke van sy musiekloopbaan
gehou en dit was vir oom Piet Bester 'n aangename ondervinding
om deur hierdie knipsels en foto's te blaai. Ons almal se gedagtes
het ver teruggegaan en ons het gewonder wat in Hansie se gedagtes
omgaan want ons kon aan sy vriendelike blou oë sien dat
hy ook gepeins het . . .
Die Van Loggerenbergkinders is almal musikaal en Hennie is
deesdae seker net so bekend soos sy vader. Hy is aan die SAUK
verbonde en ons hoor hom dikwels oor die radio en televisie.
Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat Hansie ons op
15 Julie 1986, in Pretoria ontval het. Ons het 'n groot man
op ons terrein verloor, maar het ryk geërf aan waardevolle
kultuurgoedere. Hansie, ons bring hulde aan jou en salueer jou
nagedagtenis!