
Dirk Johannes Uys is gebore op 6 Januarie 1924 in die Hennenman
distrik. Sy moeder was baie musikaal en het die klavier en traporrel
bespeel. Dirk het op 5-jarige ouderdom die mondfluitjie baasgeraak.
Op 6 jaar het hy 'n boerekonsertina persent gekry en binne drie
dae is die eerste wysie gespeel! Die liedjie was die bekende
Engelse Adelaide, wat deur Chris Blignaut as My Lenie
Louw vertaal en gesing is. Van toe af het Dirk se konsertina
dae begin. Op ongeveer 13-jarige ouderdom het Dirk 'n viool
as geskenk gekry, asook 'n trekklavier van sy pa. Hy het deeglike
onderrig met die viool ontvang en vir baie jare was die viool
en konsertina van sy geliefkooste instrumente. Hy het ook onderrig
in klavier ontvang alhoewel dié nooit 'n gunsteling instrument
vir Dirk geword het nie. Hy het wel die klavier gebruik om (met
uitsluiting van sy konsertina nommer) heelwat ligte Afrikaanse
wysies te komponeer.
Op 17-jarige ouderdom het Dirk 'n drie-ry Wheatstone konsertina
as geskenk van 'n welaf oom gekry, wie ook 'n goeie konsertina
speler was. Dirk het vir bykans twintig jaar in sy eie sowel
as ander dansorkeste gespeel.
Vanaf 1950 het hy heelwat radio-uitsendings gedoen met o.m.
Pieter de Waal (van Koffiehuis-faam) en later ook met Flippie
van Vuuren in Johannesburg. Dirk en sy orkes het dikwels uitgesaai
vanaf die Odeion by die UOVS met regiseurs Danie Erasmus, Theo
Erasmus, Willem Botha en andere.
Dirk word verplig om die musiekwêreld totsiens te roep
in Oktober 1982 as 'n ernstige berierte aanval sy regterhand
verlam. Hy kon vir ses jaar lank geen instrumente bespeel nie.
Na dié tydperk het hy huiwerig, nederig en met die genade
van Bo, weer die konsertina begin speel en op die tradisionele
styl gekonsentreer.
Dirk het vroeër vier langspeelplate gemaak, almal in die
moderne styl, nl. Stereo Konsertina, Lekker Swaai,
Raakvat en Hokaai. Aan die begin van 1994 het
sy huidige orkes tot stand gekom om, behalwe vir die liefde
van die saak, ook om te help om tradisionele Boeremusiek te
bevorder.
Dirk is geseën met die gawe om nuwe wysies te kan komponeer
en sy laaste laserskyf, Net vir jou, is almal skeppings
van sy eie. Dit is aan huis van Dawid Fourie te Baainsvlei,
Bloemfontein opgeneem op 5 Januarie 1996. Hy was al 72 jaar
oud toe die opnames gemaak is. Vandag besit ons egter heelwat
musiek wat hy en sy orkes daarna opgeneem het. Hy en sy orkes
het vir jare by die TBK funksies in Bloemfontein en elders gespeel.
Met die opening van Radio Rosestad (vroëer Radio Vryheid)
in 1993, het Jasper Vlok en Andre Groenewald die program "Die
goeie ou dae" begin. Oom Dirkie het vir ten minste 5 jaar
die snitte geluister en ingekleur met sy kommentaar.
Dirk beskou dit as 'n heerlike voorreg om Boeremusiek te maak,
en sê dat hy dit graag doen om sy volksgenote se harte
te verbly.
Die lede van sy orkes bestaan uit:
| Dirk Uys |
Konsertina |
| Dawid Fourie |
Klavier en Traporrel |
| Braam van Wyk |
Kitaar |
| Leslie Kunneke |
Banjo |
| Scottie Scot |
Kitaar |
| Jan Pretorius |
Baskitaar |
| Christo Fourie |
KItaar |
Dirk Uys is oorlede te Bloemfontein op 15 Julie 2005 en word
oorleef deur sy vrou Katie, kinders en kleinkinders.