Hendrik, soos die hele Suid-Afrika hom geken het, is op 4 Mei
1903, in Pretoria gebore. Sy eerste skool was die Eendract Laerskool
en daarna het hy na die Jonge Seuns Hoër gegaan. Hy was 'n
uitstaande atleet en sy verspringrekord by hierdie skool was vir
jare onoortreflik. Dis ook in hierdie jare dat hy sy toekomstige
vrou, Mabel Middleton, ontmoet het. Hulle is in 1927 getroud en
twee seuns, Jan Clarence en Leon Pierre is uit die huwelik gebore.
Aanvanklik wou Hendrik 'n mediese dokter word en hy en 'n vriend
het besluit om, ná hulle skoolopleiding, na Holland te
gaan om hulle daar as geneeshere te bekwaam. Die vriend het
egter later kop uitgetrek en Hendrik het toe ook maar hierdie
ideaal van hom laat vaar.
Hy het musieklesse geneem, maar volgens hom, het hy nie baie
van Bach gehou nie. Later het 'n meneer Te Groen, die bestuurder
van 'n groot tabakmaatskappy, hom verder onderrig. Hy kon gevolglik
musiek lees en skryf en dit het baie tot sy meteoriese opgang
in die musiekwêreld bygedra.
Hy is kort hierna na Lourenco Marques vir 'n vakansie. Hy en
twee dames het een aand in 'n hotel gespeel en hulle was dadelik
so gewild dat Hendrik se vakansie in 'n paar jaar se verblyf
daar verander het.
Hendrik en Dan Bothma, die bekende pianis, was ook daarna vir
ongeveer drie-en-'n-half jaar in Bulawayo. Hulle het saamgespeel
en baie ondervinding opgedoen. Hendrik het 'n huurmotorbesigheid
begin en gou vyf motors besit. Ongelukkig was daar destyds ook
al "terroriste" en hy het vier van sy motors in 'n
week verloor as gevolg van ongelukke en
ander kwaadwillige dade.
In 1929 het hy teruggegaan na die familieplaas, Haarlem, daar
in Piet Retief se wêreld. Sy enigste motor se bande was
in so 'n swak toestand dat dit nie minder nie as vier en twintig
papwiele gedurende die rit opgedoen het!
Hendrik het 'n paar jaar lank geboer. In 1937 het Gideon Roos,
destyds van die SAUK, van sy talente bewus geword en hom gevra
om 'n boere-orkes te stig, wat hy dan ook gedoen het. Die bekende
Pieter de Waal het ook sy deel bygedra en het baie jare daarna
gewilde verskeidenheidskonserte saam met hierdie orkes aangebied.
Van sy eerste spelers was Sam Petzer en Les Kelly. Vir sy eerste
radio-uitsending het hy slegs vyf ghienies (R10,50) ontvang!
Daar was sewe lede in die orkes, en hy het vir vyf van hulle
elk een ghienie gegee en die sesde lid uit sy eie sak betaal.
Hyself moes natuurlik noodgedwonge verniet speel! (U sal nog
later merk dat hy baie vrygewig was.)
In 1938 het die Simboliese Ossewatrek plaasgevind en Hendrik
en sy orkes was op volle dreef en het pragtige opgang gemaak.
Hy het Jan Swart se Ossewa
en Danie Bosman se Boereseun
gevoelvol vertolk. Wie sal Chris Lessing, sy eerste sanger,
se vertolking van
die Ossewa ooit ligtelik
kan vergeet? Hierdie nommers was tereg die eerste Afrikaanse
treffers van ligte Afrikaanse musiek. Tedoops, Danie Bosman
het tien sjieling (R1,00) ontvang vir publikasieregte van sy
Boereseun. By die hoeksteenlegging
van die Voortrekkermonument het Hendrik en sy orkes ook opgetree.
Dit was 'n reuse-sukses en die "Afrikanerharte het weer
warm geklop" op maat van Jan Swart se Ossewa.
Hierna het Hendrik sy eerste konserttoer deur die land onderneem.
Dit was baie suksesvol en die mense het dit baie geniet, maar
ongelukkig het dit op'n finansieIe verlies uitgeloop.
Hy het hierna die eerste Afrikaanse klub, Die Werda Klub, in
Johannesburg gestig. Dit was weer eens 'n sukses. Afrikaners
in Johannesburg het 'n groot behoefte aan so 'n klub gehad en
kon nou weer op die beste dans en luistermusiek getrakteer word
vir net ses sjielings (60 sent) per Jaar.
Hendrik was 'n Afrikaner in murg en been en het baie vir liefdadigheid
gedoen. In daardie jare was daar werklik baie arm mense in die
land, veral ook in Johannesburg. Hy het op 'n keer 'n hele konserttoer
se profyt aan die Reddingsdaadbond gegee. Later was daar mense
wat beswaard geraak het deur hierdie skenking omdat die geld
dan kwansuis deur middel van danse ingesamel is! (Die geveinstes
sal maar altyd, net soos die armes, tussen ons wees.) Hy het
later 'n groot deel van sy profyt geskenk vir die bou van 'n
Afrikaanse teater in Johannesburg. Hy was werklik opmerklik
vrygewig.
Onder die Swartes het hy die bynaam van "mali javusi"
gekry. Dit beteken letterlik dat sy geld uit sy sak lek! Hy
het waarlik nie baie waarde aan geld geheg nie. As hy genoeg
gehad het, het hy die minderbevoorregtes nie vergeet nie. Hy
het baie geld sonder bewys of kontrak uitgeleen wat hy nooit
weer teruggekry het nie. Op 9 Augustus 1985, het oom Piet Bester
'n heerlike oggend saam met sy oudse seun, Jan Clarence, deurgebring.
Dit was 'n elewenis om deur al die koerantknipsels, fotos en
ander relevante stukke in verband met Hendrik se musiekloopbaan,
te blaai. Dit was aangenaam, interessant en insiggewend om knipsels
van Die Transvaler en
Vaderland van die laat
dertigerjare te bekyk en te sien hoeveel konserte en funksies
hy vir liefdadigheid aangebied het. Hy het selfs ook baie lof
van die Engelstalige koerante ontvang. Ek het onmiddellik tot
die besef gekom dat hierdie man werklik 'n ruim hart gehad het
en daadwerklik 'n leeue-aandeel in fondsinsameling vir liefdadigheid
in Johannesburg gehad het.
(Terloops, iemand kan gerus sy biografie skryf. Waarom daar
nog nie 'n rolprent oor sy lewe gemaak is nie bly net 'n raaisel,
want dit sal werklik 'n treffer wees. Hy was 'n man uit die
volk vir die volk. As die Amerikaners gaande kan raak oor hulle
Glen Miller, hoef ons darem nie ons hoede oor ons oë te
trek vir ons eie Hendrik nie!)
Hierdie orkes was werklik die eerste groot dansorkes in die
stad wat van boeremusiek tot moderne ligte Afrikaanse musiek
gespeel het. Hy het meestal van 'n klavier, trekklavier, viool,
elektriese kitaar, basviool en tromme gebruik gemaak. (Voordat
hierdie orkes
tot stand gekom het, was Hendrik seker een van die beste saksofoonspelers
in die land, maar hy het feitlik nooit daarvan gebruik gemaak
in die orkes nie.) Hy het natuurlik net die beste beskikbare
spelers gebruik en het altyd gepoog om 'n puik sanger te hê.
Hy het beslis geweet wat sy mense wou gehad het. Al die spelers,
net soos hyself, moes altyd in aanddrag wees tydens optredes
en die "Chief", soos hy onder hulle bekend was, het
toegesien dat die beeld en klank van die orkes onberispelik
was. Die orkes het so gewild geword dat honderde mense soms
by konserte of ander optredes, as gevolg van stampvol sale,
moes omdraai. Soms is die deure en vensters oopgemaak, sodat
die wat buite was, ook kon luister. In Suidwes-Afrika het dit
dikwels gebeur dat die mense na die konsert nie wou huis toe
gaan nie. Hulle het gewoonlik gesê dat hulle honderde
kilometers ver gery het om die byeenkoms by te woon en dat die
konsert met 'n dans afgesluit moes word! Hulle het ook dan dadelik
'n hoed omgestuur vir 'n kollekte vir die orkes. Alhoewel hulle
soms baie moeg was, moes hulle maar noodgedwonge met die reëlings
inval en speel. Menige keer het hierdie partytjies tot sonop
geduur. Dit was harde dae, want die volgende aand moes hulle
gewoonlik op 'n ander plek optree.
Hy het ook op sy dag vir die grootste dans in die land gespeel.
Volgens koerantberigte was daar meer as vyf duisend pare op
die dans wat by die Milnerpark skouterrein, tydens 'n Ryksuitstalling
van 1936, gehou is!
In Oos- Londen, by 'n koffiehuiskonsert, moes sewe honderd mense
een aand omdraai omdat hulle nie plek in die saal kon kry nie!
Die belangstelling was so groot dat selfs die verkeer in die
straat voor die betrokke gebou, tot stilstand gekom het.
Gedurende die oorlogsjare was dit moeilik om per motor te reis,
want daar was 'n beperking op brandstof en motorbande. Hendrik
het egter die hele land deurreis en vertel dat goedgesinde mense
hulle altyd tegemoet gekom het met brandstof en bande. Dit was
natuurlik daardie jare 'n ernstige oortreding om brandstof van
een voertuig na 'n ander een oor te tap, maar dis tog gedoen!
Hy sê dat selfs predikante en polisie hom op hierdie manier
gehelp het! (Hierdie "oortreding" het gelukkig al
lankal verjaar.) Een Sondagoggend was hulle amper op heterdaad
betrap toe hulle petrol wou oortap! Die orkes het by 'n ryk
boer in die Vrystaat oornag en die anderdagmore - terwyl hulle
besig was met die pleeg van die "oortreding" - het
'n polisieman met sy motorfiets en syspan daar opgedaag! Hy
het blykbaar ondersoek ingestel omdat hierdie orkes darem te
veel ry met die toegestane kwota brandstof. Die gasvrou het
dadelik onraad vermoed en kopgehou. Sy het die polisieman die
huis ingenooi en hom dadelik 'n paar lekker "gemmerbiere"
ingejaag. Hy het so lekker gekuier dat hy die doel van sy besoek
skoon vergeet het!
Hendrik het al op 23-jarige leeftyd begin grys word langs die
slape. Nie baie jare later nie was hy heeltemal grys en dit
het baie bygedra tot sy imponerende en vriendelike persoonlikheid.
Hy het ook 'n groot aandeel daarin gehad dat baie komponiste
soos Danie
Bosman, Tommy Roering, Jan Pohl, Anton de Waal en vele ander,
bekend en beroemd geword het. Sy lewensfilosofie was: "Doen
aan ander mense soos jy graag wil hê hulle moet aan jou
doen". Die Afrikaanse liedjies het begin skaars raak en
Hendrik het sommer self begin komponeer. Dit word vertel dat
hy Ons lag, sing en dans
'n paar minute voor 'n optrede gekomponeer het! Baie mense was
onder die indruk dat hy slegs Huisie
in die berge gekomponeer het, maar ek het die voorreg
gehad om die volgende oorspronklike musiek van hom, wat ook
in sy handskrif is, in my eie hande vas te hou: Kom
laat ons dans, Hier moet ons skei, en ons weet ook dat
hy die volgende nommers gekomponeer het: Huisie
in die berge, Vrolikheid op note, In die vroeë oggend
en Ruspan se settees.
Dit is baie interessant om te weet dat die Huisie in die berge
wel bestaan. Op die plaas Haarlem was 'n taamlike gerieflike
huis wat Engelse gedurende die oorlog afgebrand het. Die arme
Boere moes daarna hulle stal in 'n woning omskep en dis nou
eintlik die plek
(Huisie in die berge) waar Hendrik sy vreugdevollekinderjare,
tussen voëlgesang, deurgebring het. Dis hierdie woning
- soos op die foto - wat deur hom in sy moedertaal besing word.
(Veel later het hulle darem weer 'n gerieflike woning opgerig.)
Hy was 'n ware patriot en lief vir sy mense en land. Hy en ons
geliefde Staatspresident van weleer, Sy Edele C.R. Swart, was
goeie vriende en het altyd 'n geleentheid geskep om mekaar te
siene te kry. Ten spyte van sy sukses, was Hendrik steeds lief
vir die grond
en het in 1941 weer begin boer. Hy was egter steeds in die nuus,
en opskrifte soos die volgende was volop in die koerante: "Koning
van boeremusiek se strykstok bou 'n plaas". Hendrik het
egter nie uitgetree nie, maar van sy plaas af, wat hy as hoofkwartier
gebruik
het, rondgery om sy musiekverpligtinge na te kom. As aan hom
gevra is waarvoor hy die liefste was, het hy gewoonlik geantwoord:
"My vrou, my musiek en my aspersies." (Op 'n
stadium het hy agt morge aspersies gehad.)
Hoe ry die Boere was
natuurlik sy kenwyse. Vandag nog, as ons ouer geslag hierdie
wysie hoor, dink ons onwillekeurig aan hierdie begaafde musikant
wat soveel genot en plesier aan ons Afrikaners verskaf het,
juis in 'n tyd, toe ons dit so bitter nodig gehad het.
Hendrik het een aand groot skade in die Vrystaat gehad. Tydens
die pouse van 'n konsert het iemand sy viool op die verhoog
stukkend getrap. (Ek wed dit was een van sy spelers maar hierdie
skuldige sou seker nooit sy "mistrap" erken het nie!)
Daar moes skielik 'n plan beraam word om 'n ander viool in die
hande te kry. Daar is van die verhoog afgekondig van die skade
en om 'n ander viool gevra om te leen om voort te gaan met die
konsert. 'n Boer het sy viool gaan haal en Hendrik het dit gebruik.
Hulle het later die aand by die boer gaan tee drink en hy het
toe die viool aan Hendrik verkoop vir £25 (R50,00) wat
'n baie hoë prys vir 'n tweedehandse viool in daardie dae
was. Hierdie viool het egter al die jare daarna in Hendrik se
besit gebly en hy het dit as 'n ware kleinood bewaar. Vandag
is dit nog in Leon, sy jongste seun, se besit.
Alhoewel Hendrik hom nooit aktief met die politiek bemoei het
nie, was hy tog, soos reeds gese, 'n stoere Afrikaner. Hy is
selfs op 'n stadium genader om hom verkiesbaar te stel as LV,
maar was nie daarvoor te vinde nie. Hy was destyds so populêr
dat hy baie maklik nog in die parlement kon beland het! Hy was
ook genader om by die Leër as musikant aan te sluit. 'n
Kolonelsrang is hom aangebied en hy sou moes sorg vir die vermaak
van die troepe. Hy het egter ook hierdie aanbod van die hand
gewys.
Gedurende hierdie oorlogsjare moes alle byeenkomste gewoonlik
met God save the King
afgesluit word. Hy het dit gedoen, maar onmiddellik daarna Kent
gij dat volk gespeel. Die speel van laasgenoemde het
hom eendag in die moeilikheid gehad! Hy is deur 'n speurder
ondervra en het benoude oomblikke beleef. Die saak is gelukkig
nie verder gevoer nie.
Tydens die koninklike besoek van 1947 het hy en sy orkes ook
voor hulle opgetree op Standerton. Die Koning het selfs 'n paar
woorde met hom gepraat en hom genooi om Engeland met sy orkes
te besoek, maar hy het nooit gegaan nie.
W.H. Coetzer, die bekende skilder, het sy klub baie besoek en
het toestemming gehad om van sy skilderye en etse daar op te
hang vir reklamedoeleindes. Hy het later van hierdie waardevolle
stukke aan Hendrik geskenk wat vandag nog in Jan se besit is.
Die bekende oom Ben Schoeman - hy was vir jare 'n minister -
het ook dikwels in sy jong dae hierdie eksklusiewe klub besoek.
Jimmy Boonzaier - hy was ook 'n bekende skilder - was ook lid
van hierdie beroemde orkes. Sy werke is vandag baie gesog en
peperduur. Hy het selfs ook die bekende Outa
in die langpad geskilder wat vandag in Nico Carstens
se besit is. Hierdie plek was dus 'n gewilde bymekaarkomplek
vir Johannesburg se Afrikaners. Terwyl ons van Jimmy Boonzaier
praat, mag ons nie nalaat nie om te meld dat hy hom nie snaaks
gehou het nie maar dat hy werklik skreeu-snaaks was! Hy was
'n bekende verhoogpersoonlikheid en propvol talent. Wie van
ons ouer grade sal ooit sy Kersvet
en confetti,Tamatiesous en Kerriekos, Sikkedoema, Ma, kom kyk
vir Lena en vele ander van sy treffers kan vergeet? Bennie
Raubenheimer het gepoog om hom in 'n TV-program te laat optree,
maar hy is ongelukkig oorlede voordat dit gefinaliseer kon word.
So 'n program sou selfs deur die "beterweters" geniet
gewees het! Jimmy is natuurlik die komponis van die pragtige
Karoowindjie. 'n Hollandse sanger, Marcel Laves, het ook op
'n stadium saam met die orkes opgetree. Hy het gewoonlik snaakse
Hollandse klere aangetrek en het tydens konserte met sy klompe
op die verhoog gedans. John Vonos, 'n ander sanger, was nie
juis met die Hollander se manewales beïndruk nie. Toe die
ander orkeslede grappenderwys aan hom vra waarom hy nie ook
so ronddans as hy sing nie, het hy in sy kenmerkende swaar aksent
geantwoord: "When I singh, I singh, I not play!" Hulle
het baie met hom die draak gesteek en eendag toe hy dit nie
meer van woede kon hou nie, snou hy hulle toe: "I now feel
to kill." Daarna is hy met rus gelaat!
Na Hendrik se eerste hartaanval, wat baie ernstig was, moes
sy seun Jan, die orkes vir ses maande oorneem. Sale was vol
bespreek en die toerprogram moes gehandhaaf word. Jan vertel
dat hy niks van musiek weet nie en dat dit vir hom 'n onvergeetlike
ervaring was om met hierdie groepie uitgesoekte musikante te
werk en saam te lewe. Hy moes, soos die gebruik was, aan die
begin van die program die orkeslede aan die gehoor voorstel.
Die orkes het gewoonlik begin speel en daarna het die gordyne
oopgegaan. Jan het dan na die mikrofoon gestap - terwyl die
orkes sagter speel - en dan die manne een vir een voorgestel.
Hy se dat alles die eerste drie aande vlot verloop het maar
dat hy die vierde aand teëspoed opgedoen het. Toe hy die
spelers moes voorstel, het sy geheue hom totaal in die steek
gelaat! Hy sê hy weet nou nog nie of dit die bekende en
"verdomde verhoogvrees" is wat hom daardie aand beetgekry
het nie, maar sy verstand wou net nie in rat kom nie. Na 'n
paar hulpelose gebare het Taffy Kikillus sy penarie opgemerk
en tot sy redding gekom! Hy het dadelik agter Jan gaan stelling
inneem en aan die toeskouers gewys dat Jan se kop draai en terselfdertyd
die name van die orkeslede aan hom gefluister. Die mense het
hierdie "bekendstelling" baie snaaks gevind en die
hele saal het gedreun van die gelag. Hierdie "manier"
van voorstelling was so suksesvol dat dit vir die res van die
toer gebruik was.
Jan vertel ook dat Jac van der Walt, een van hulle eerste banjospelers,
'n baie snaakse manier van praat gehad het. Alhoewel hy reeds
gevorderd in jare was, het hy nooit die see gesien nie. Op 'n
besoek eenkeer aan die Kaap, kry Jac toe geleentheid om uiteindelik
die see te sien. Vir die eerste paar sekondes was hy sprakeloos
en merk toe op: "Kan dit waar is?"
Daar het baie musikante en sangers saam met Hendrik opgetree.
In Mimi Coertse se beginjare was hy ook haar begeleier! Vroeg
in die dertigerjare het Hendrik sy eerste plate gemaak. Hy en
Dan Bothma, die pianis, het In
die helder maanlig en Minnie,
my Liefling
op Columbia AE 554 vasgelê. Dawid de Lange het ook 'n
paar nommers saam met hierdie orkes gesing wat op plaat opgeneem
is: Gertjie is die bruid,
GE 366 en Op 'n braaivleisaand,
GE 367.
Die volgende musikante het saam met hierdie beroemde orkes
opgetree:
Sam Petzer
Les Kelly
Chris Lessing
Piet Meyers
Ems van Rooyen
Tienie Coetzer
Theo Kapp
Taffy Kikillus
Bennie Raubenheimer
Amout van der Merwe
Freddie Luyt
Jimmy Boonzaier
Sergio da Mattia
Eddie Wyngaardt
Flippie van Vuuren
Chris du Toit
Jurie Ferreira |
Paul Robinson
Lucille Ackermann
John Vonos
Marcel Laves
Louis Lotter
Fanie Bosch
Manie Bodenstein
Neels Steyn
Duffy Ravenscroft
Jimmy Rayson
Al Debbo
Dulcie van der Merwe
Nic Potgieter
Jac van der Walt
Willie Welgens
Rassie Erasmus
Nico Carstens |
en nog andere. Die meeste van hulle leef vandag nog en almal
van hulle het groot sukses in die ligte musiekwereld behaal.
Hendrik het altyd gesê dat Taffy sy grootste vonds ooit
was.
Hy en sy orkes het ook in vyf Afrikaanse rolprente opgetree:
"Kom saam vanaand", "Hier's ons weer", "Altyd
in my drome", "Alles sal regkom" en "'n
Plan is 'n boerdery".
Alhoewel Hendrik Susan ook ligte Afrikaanse musiek gespeel het,
het hy tog nooit neergesien op boeremusiek nie. Hyhet baie FAK
liedjies en ander boeremusiek op plaat vasgelê wat 'n
onomstootlike bewys is dat hy nooit, en ek herhaal nooit, op
boeremusiek neergesien het nie. Hy is op 26 April 1963, oorlede
en is in Piet Retief, naby sy huisie in die berge, ter ruste
gelê.
Hoe lyk dit, Boere, kan ons nie 'n borsbeeld vir hierdie groot
seun van ons eie volksmusiek oprig nie?
Hier volg 'n volledige lys van 78-spoedplate wat hy by Gallotone
gemaak het tot in Desember, 1951. Die reeksnommers word nie
in 'n numeriese volgorde weergee nie:
Stille Diep Rivier
Pragtig mooi en lieflik |
GE 495 |
Boereseun
Getrou aan jou |
GE 553 |
Altyd
Ek wonder wie soen haar vanaand |
GE 482 |
Die Wapad
Die Swaeltjie |
GE 480 |
Die Spook van Dawie Rosekrantz
Hou vir my |
GE 459 |
Fluit 'n vrolike deuntjie
Chibaba Chibaba |
GE 457 |
Die bruilof lied
My wilde rosies |
GE 450 |
Nou is die uur
Saggies klink so 'n melodie |
GE 447 |
Jy, jy, jy
Nou, nou, nou |
GE 518 |
Graskop
Warmwikkel |
GE 514 |
Die waterpan drafstap
Trekklavier |
GE 510 |
Hier moet ons skei
Laat ons dans |
GE 443 |
Ver in die wereld Kitty/Wat
maak oom Kalie
daar?
Waar kry jy daardie hoed/Daar kom die wa |
GE 442 |
Ons is almal vriende
Vanaand gaan die volkies |
GE 440 |
Jan Pierewiet
Tant Mina kook stroop |
GE 439 |
Suikerbossie
Wanneer kom ons troudag? |
GE 438 |
Hier's ek weer
Ver oor die see |
GE 437 |
Perdeby
Bobbejaan klim die berg |
GE 436 |
Susan se wisseldans Nr.
1
Susan se wisseldans Nr. 2 |
GE 381 |
O,kom na my
Droombeminde |
GE 426 |
Hoe ry die boere
Daar's 'n hoender |
GE 425 |
Die Windmeul draai
In die Vaal rivier se water |
GE 350 |
Die Tukkel Settees (Konsertina
W. Bauscher)
Die Welkom wals |
GE 507 |
Tant San van Christiana
(Konsertina Neels Steyn)
Die Suikerbrand |
GE 506 |
Die Bootjie na Kammaland
Kom Saam vanaand |
GE 503 |
Rooidagbreek
Op 'n Braaivleisaand |
GE 502 |
Draai Draai Draai
Die Mannetjie |
GE 501 |
Jan, Jan, Jan
Rosie-setees |
GE 494 |
Jy moet weet
In my droomskuitjie |
GE 487 |
Fanie se vastrap
Vyf minute meer |
GE 485 |
Oslo wals
Piet en Hendrik se wals |
GE 479 |
Zuurberg vastrap
Perel se settees (Hierdie kant is deur die Gallotone
Konsertina Orkes) |
GE 470 |
Die Kolonie Wals
Die suikerriet |
GE 469 |
Ons lag, sing en dans
Kliprivier polka |
GE 458 |
Boegoeberg se dam
Die hand vol vere |
GE 448 |
Januarie, Februarie, Maart
Alibama |
GE 430 |
Kaapse draai
My Skat |
GE 418 |
Oom Bossie van die Bosveld
Op'n Braaivleisaand |
GE 367 |
Daar onder in die Kaap
Gertjie is die bruid |
GE 366 |
Die ossewa
Huisie in die berge |
GE 339 |
Met sy laaste langspeelplaat, Hendrik
Susan groet julle weer, het hy afskeid geneem van sy
geliefde musiekwêreld.
Ons dank aan sy kleinseun, C.H. (Boney) Susan vir die korreksie
dat Hendrik se volle name Cornelis Henricus (nie Hendrikus)
is. Hy en sy neef het beide hul oupa se name gekry.