
oom Frans op 'n TBK funksie, Augustus 1984
[foto: kopiereg voorbehou - Séan Minnie]
Oom Frans Smit was op 76 jarige ouderdom, tot en met sy skielike
afsterwe aan 'n hartaanval, 'n aktiewe lid van die Oudag Boereorkes.
Hy sal onthou word as 'n meester met die ukelele en stoere kampvegter
vir ons kultuurgoedere waarvan tradisionele boeremusiek vir
hom sekerlik die belangrikste was.
Oom Frans het by almal respek afgedwing waar hy ookal opgetree
het en was deur almal as 'n ware heer beskou. Alhoewel hy 'n
uiters toegewyde speler was, was hy ook altyd die mees waardige
persoon op die funksie. Hy was vriendelik, opgeruimd en hulpvaardig
maar het hom nooit uitspattig of enigsins ligsinnig gedra nie.
Hy was werklik 'n voorbeeldige man en het net liefde en respek
vir almal, met wie hy ooit in aanraking was, afgedwing. Vyande
het hy seker nooit gehad of geken nie.

oom Frans en Danie Grey by 'n TBK funksie, Desember 1981
[foto: kopiereg voorbehou - Séan Minnie]
Voor oom Frans se aftrede was hy 'n klerk verbonde aan die
hoofkantoor van die S.A. vervoerdienste te Pretoria. Oom Frans
en sy geliefde eggenote, tant Lottie, het sedert 1948 op Derdepoort,
naby Pretoria, gewoon. Uit die huwelik is hul seun, Francois
gebore wat vandag steeds daar woon. Oom Frans was die bekende
konsertinaspeler en leier van die Oudag boereorkes, Stephaan
van Zyl, se oom. Tant Lottie en tannie Babs van Zyl, Stephaan
se moeder, is susters.

oom Frans en tant Lottie tydens 'n TBK funksie, Augustus 1984
[Foto: kopiereg voorbehou - Séan Minnie]