English
Version
Nuus Boere
musiek
Die
Klub
Biografie Leer
Speel
Handels
ware
Skakels Soek Kontak
Bewaar - Behou - Uitbou
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly
Orkeste
Musikante
Instansies
 
 
 
 

Dirk Gerhardus (Dirkie) Smit

[14 April 1933 - 16 Februarie 1987]


Dirkie is op 14 April 1933 in Pretoria gebore, hy het van jongs af belangstelling in musiek getoon en op sewentienjarige ouderdom het hy die konsertina baasgeraak en tot een van Suid-Afrika se beste spelers ontwikkel.

Dirkie het hom as elektrisiën bekwaam en het ook later as verteenwoordiger gewerk. Hy was maar altyd in Johannesburg en die Rand betrokke met musiek en het sodoende van die beste musikante van ligte musiek ontmoet.


Dirkie Smit as konsertinaspeler

Hy was later leier van een van die beste dansorkeste in die land. Om my bewering te staaf en soos ons almal weet - het Dirkie Smit ook in 1982 die boereorkeswedstryd, wat die televisie aangebied het, gewen. Dit, op sigself, is 'n buitengewone groot prestasie aangesien so baie orkeste aan hierdie kompetisie deelgeneem het.

Hy het ongeveer twintig langspeelplate gemaak en van sy bekendste komposisies is Skoonspruit settees, Umhlanga, Struisbaai en baie ander.

Aangesien Dirkie so 'n aangename en vriendelike geaardheid gehad het, het sy spelers vir jare saam met hom opgetree. Dit is beslis nie 'n prestasie waarmee meeste orkesleiers kan spog nie.


Dirkie Smit as basvioolspeler

In die laaste jare het die volgende groot musikante gereeld saam met hom opgetree: Basie Burger, Richard Vergottini, Glen Kieswetter, Klem Carstens en Johan van Vuuren. In sy jongdae het hy ook dikwels saam met Jurie Ferreira opgetree en ook baie radio-uitsendings saam met hom gedoen.


Dirkie Smit as kitaarspeler

As boeremusiekliefhebbers bymekaarkom, word hierdie man se naam nooit vergeet nie, want hy het werklik 'n groot bydrae tot ons boeremusiek gelewer. Ons liefhebbers was verbaas, verslae en geskok toe ons van sy afsterwe op 16 Februarie 1987 verneem het. Ons waardeer dit ook opreg dat die SAUK 'n pragtige huldeblyk daarna uitgesaai het, want ons het werklik een van ons groot seuns op hierdie kultuurakker verloor.