Dirkie is op 14 April 1933 in Pretoria gebore, hy het van jongs
af belangstelling in musiek getoon en op sewentienjarige ouderdom
het hy die konsertina baasgeraak en tot een van Suid-Afrika
se beste spelers ontwikkel.
Dirkie het hom as elektrisiën bekwaam en het ook later
as verteenwoordiger gewerk. Hy was maar altyd in Johannesburg
en die Rand betrokke met musiek en het sodoende van die beste
musikante van ligte musiek ontmoet.
Hy was later leier van een van die beste dansorkeste in die
land. Om my bewering te staaf en soos ons almal weet - het Dirkie
Smit ook in 1982 die boereorkeswedstryd, wat die televisie aangebied
het, gewen. Dit, op sigself, is 'n buitengewone groot prestasie
aangesien so baie orkeste aan hierdie kompetisie deelgeneem
het.
Hy het ongeveer twintig langspeelplate gemaak en van sy bekendste
komposisies is Skoonspruit settees, Umhlanga, Struisbaai en
baie ander.
Aangesien Dirkie so 'n aangename en vriendelike geaardheid gehad
het, het sy spelers vir jare saam met hom opgetree. Dit is beslis
nie 'n prestasie waarmee meeste orkesleiers kan spog nie.
In die laaste jare het die volgende groot musikante gereeld
saam met hom opgetree: Basie Burger, Richard Vergottini, Glen
Kieswetter, Klem Carstens en Johan van Vuuren. In sy jongdae
het hy ook dikwels saam met Jurie Ferreira opgetree en ook baie
radio-uitsendings saam met hom gedoen.
As boeremusiekliefhebbers bymekaarkom, word hierdie man se naam
nooit vergeet nie, want hy het werklik 'n groot bydrae tot ons
boeremusiek gelewer. Ons liefhebbers was verbaas, verslae en
geskok toe ons van sy afsterwe op 16 Februarie 1987 verneem
het. Ons waardeer dit ook opreg dat die SAUK 'n pragtige huldeblyk
daarna uitgesaai het, want ons het werklik een van ons groot
seuns op hierdie kultuurakker verloor.