
Fritz is van Uitenhage in die Oos-Kaap afkomstig en het sy
skoolloopbaan in 2007 by HTS Daniël Pienaar voltooi. Hy
het in 2005 met een van sy vriende se kitaar kennis gemaak en
besluit om self een te koop. Hulle het saam begin leer en so
het hy die boeremusiek wêreld betree.
Sy oom, Dick Diedericks, is lid van Theo Slabbert se orkes
en sy ouma het vir hulle Daar
doer in die Noorsveld, een van hierdie orkes se CDs,
gegee. Hy het saam met die CD gesit en kitaar oefen toe die
gedagte by hom opkom om die konsertina te probeer. Na ongeveer
drie maande het hy uiteindelik 'n Wheatstone konsertina opgespoor
en daarvoor betaal met sy verdienste as deeltydse platejoggie
vir funksies en partytjies.
Fritz het sedert Maart 2007 gedurende sy vakansietye by Theo
Slabbert gaan kuier en hulle het baie goeie vriende geword.
Theo het hom aangemoedig en saamgeneem na die Koppiesol Boeremusieknaweek
te Vereeniging. As gaskunstenaar saam met Theo Slabbert en die
Noorsvelders was hy was maar bewerig om vir die eerste keer
voor 'n gehoor op te tree. Nadat hy sewe nommertjies vlot gespeel
het was die applous van die bykans vyfhonderd toeskouers genoeg
bewys dat sy debuut geslaagd was. Hy het geweet boeremusiek
is sy plek is en hier gaan hy bly!

Fritz tydens sy debuut
Eendag het Fritz in 'n tweedehandse winkel rondgesnuffel en
nog 'n konsertina opgespoor. Nadat oom Willie
van Wyk dit vir hom restoureer het, was die konsertina so
goed soos nuut. Hy het dit betyds terug ontvang sodat hy die
laaste dag van sy skoolloopbaan voor die hele skool kon optree.
Hierdie instrument is ook sy inspirasie vir 11 nuwe komposisies
op Japie
Laubscher se styl.
Fritz se ma het vir hom 'n banjo uit Saudi-Arabië saamgebring.
Ralie van den Heever het vir hom drie basiese drukke geleer
en vandaar was daar geen keer nie. Sy ikoon is Hugo Rotter en
Fritz het reeds twee komposisies op die Banjo agter sy naam.
Hy het in 2008 ook begin trekklavier leer speel en saam met
Theo Slabbert sy eerste laserskyf gemaak.
Hy speel tans in Kaapstad waar hy nou op die oomblik leer vir
'n klank ingenieur by die Cape Audio College. Fritz speel by
danse en het reeds aan 'n kompetisie deelgeneem en het drie
pryse gewen in die tradisioneel opkomende afdeling.
Kopiereg - Séan Minnie 2008