|
Mynie is op 17 Januarie 1910, in Observatory, Kaapstad, gebore.
Hy is op 22 Junie 1940, met mejuffrou Doris Myburgh getroud en daar
is vier kinders uit die huwelik gebore.
Mynie was van kindsbeen af lief vir musiek en toe hy sestien jaar
oud was, het hy vioollesse by 'n mevrou Collins geneem. Hy het puik
gevorder en kort daarna het hy vir die eerste keer saam met ander
musikante opgetree. Hy vertel dat hy en 'n vriendin een aand by
'n Standergesin in Mowbray gaan kuier het. Daar was mense wat musiek
gemaak het en hy het 'n viool opgemerk wat niemand bespeel het nie.
Sy vriendin het aangehou dat hy saam met die ander moes speel. Hy
het ingewillig en die viool ingestem en saam met die ander spelers
ingeval. Dit het lekker gegaan en op hierdie besondere aand is Mynie
- een van ons bekendste vioolspelers - se belangstelling in verband
met ons tradisionele boeremusiek so geprikkel dat hy hom daarop
begin toespits het. Dit het al beter gegaan en kort daarna het hy
saam met die beste kunstenaars in die Kaap opgetree. Hy was 'n gesogte
musikant.
Hy vertel dat daar bykans nie 'n plek in die Kaap, Boland en kontrei
was waar hy nie gespeel het nie. Hy het ook dikwels saam met oom
Boy Solomon opgetree. Klasie Langeveld, die vader van die bekende
Langeveldbroers, het die kitaar gespeel asook die Victorbroers wat
verskillende instrumente kon speel.
Hy vertel dat hy in die dertigerjare 'n plaat gemaak het en dat
hy deur die volgende musikante bygestaan is: Okkie Kruger - konsertina,
Van der Vywer en Van Wyk - kitare. Hyself het viool gespeel. Die
een stuk se naam was die Trapsoetjies-vastrap maar die ander nommer
se naam kan hy nie meer onthou nie. Die opname is destyds na Engeland
gestuur waar die plate gewoonlik gemaak is, maar hy het nooit weer
iets daarvan gehoor nie.
Vanaf 1934 tot 1937 het sy orkes wat uit onderstaande lede bestaan
het, baie lewendige uitsendings oor die radio gehad:
| Sam Wernich |
: klavier |
| Sonny Ferreira |
: banjo |
| Nortje |
: kitaar |
| Tom Callie |
: klarinet |
| Sarel Bosman |
: bas, banjo en kitaar |
| Mynie |
: viool |
Hy het later saam met Phillipie de Bruin gespeel wat 'n baie goeie
konsertinaspeler was. Daarna het hy saam met Japie Laubscher opgetree
en hy onthou nog hoe die orkes saamgestel was:
| Japie |
: konsertina |
| Mynie |
: viool |
| Van Coller |
: tromme |
| Swanepoel |
: kitaar en banjo |
Hy het ook saam met die bekende kitaarspeler Jean du Plessis opgetree
en sê dat die orkes só daaruit gesien het:
| Jean |
: kitaar |
| Sy vrou Miempie |
: klavier |
| Joe Fourie |
: kitaar |
| Flippie Laker |
: trekklavier |
| Hettie Human |
: sang |
| Ferris Terblanch |
: klavier |
| Frikke Scholtz |
: konsertina |
| Mynie |
: viool |
Pieter van der Byl, alias Piet Pompies, het ook dikwels saam met
hulle opgetree wanneer hulle konserte of uitsendings gehad het.
Daarna het hy saam met die Welkom
Orkes gespeel en die manne se name kan op die foto in daardie
hoofstuk gesien word.
Gedurende 1960 het hy verskeie plate saam met Japie Laubscher gemaak
en die manne wat hulle bygestaan het, was:
| Japie |
: konsertina |
| Wally Wagner |
: kitaar en konsertina |
| Tiewe Fourie |
: banjo |
| Jannie Fourie |
: trekklavier |
| Joe Fourie |
: kitaar |
Gerald Wesson het ook later as kitaarspeler opgetree. Hy het ook
later saam met Piet Rossouw en sy orkes opgetree.
Mynie het nie net gespeel nie, maar was 'n ywerige komponis en
het vir ons die volgende nommertjies geskep:
Die Kafhok wals
Treksaag polka
Oom Willie Hoender
Overberg settees
Uitskop settees
Kyk in die pot
Eselkop settees
Mynie se kwadril
Kelkiewyn wals
Papendorp settees
Namakwaland kwadril
Ma slaap alweer
Lappiesdraai
Piet skiet die kat
Swart esel
Piet Valentyn se wals
Die Vinknes settees
Vleiland polka
Sophia Blom-dans
Pikkewyn wals
Wat se jy nou?
Swartklip Baandans
Langspeelplate deur Mynie gemaak, is:
Die Kafhok bokjol
Die Pikkewyn wals
Die Nuutste van Mynie Reyes
Oom Mynie onthou ook dat hy vanaf 1927 tot 1934 saam met ene meneer
Van der Merwe, 'n skoolhoof van Nassau te Mowbray, gespeel het.
Hulle het by verskillende plekke opgetree en het baie vir liefdadigheid
gespeel. Die orkes het uit die volgende lede bestaan:
| Meneer Van der Merwe |
: klarinet |
| Sy eggenote |
: klavier |
| Mynie |
: viool |
| Sam Adams |
: viool |
| Nico Snyman |
: viool |
| Willie Munnik |
: kitaar en banjo |
Oom Mynie se ook dat hulle in daardie jare dikwels tussen Kersfees
en Nuwejaar na Riversdal se omgewing gegaan het en sommer groot
fees gehou het. Die mense het dan daar saamgetrek met ossewaens
en perdekarre. Daar was altyd baie eetgoed en die heuningbier, vaaljapie
en witblits was ook nie te skaars nie! Daar was pret en die mense
het heerlik gedans, gelag en gesels. Almal was hartlik teenoor mekaar
en Oom Mynie sê dat dit van die aangenaamste tye van sy musiekloopbaan
was.
Gedurende 1980, 1982 en 1984 het Oom Mynie en sy orkes deelgeneem
aan die boeremusiekkompetisie wat op TV uitgesaai is. Hulle het
nou nie 'n finale plek behaal nie, maar in 1984 is 'n toekenning
deur die ATKV aan Oom Mynie gedoen vir sy "besondere bydrae
gelewer ter uitbouing van ons boeremusiekskat".
Net daarna het hy weer 'n transkripsieplaat vir die SAUK gemaak
met die naam Vet Vinkies.
Behalwe die viool kan Oom Mynie ook die mandolien, basviool, klavier
en viola bespeel. Hy het tot en met sy aftrede by die Suid-Afrikaanse
Spoorweë gewerk. Na sy aftrede het hy 'n tyd lank as 'n bode
by die Parlementshuis opgetree.
Oom Mynie, ons Klub dank u ook vir u besondere bydrae tot ons eksklusiewe
tradisionele boeremusiekskat. Mag u nog lank gespaar bly en ons
beste wense vergesel u op u pad vorentoe!
|