Sam is op 21 Junie 1901, in Oos-Londen gebore. Hy kom uit 'n
uiters musikale familie. Vyf broers was almal musikante en twee
susters was albei orreliste!
Op 7-jarige ouderdom het Sam kennis gemaak met die konsertina
en kitaar. Dit was gou duidelik dat hy ook baie musikaal was,
want hy het gou-gou hierdie instrumente baasgeraak.
Sam se seun, Jack, was so gaaf om my behulpsaam te wees met
inligting oor sy vader en het ook die pragtige foto, wat hyself
geneem het, geleen vir hierdie album. Ons dank aan hom vir vriendelike
samewerking.
Sam is met Ann getroud en sewe kinders is uit die huwelik gebore.

Hy vertel dat Sam al in 1925 in Oos-Londen so 'n goeie orkes
had dat hy genooi was om op 'n onthaal, wat vir die Hertog van
Windsor gereël is, op te tree. Sy orkes se naam was destyds
The Red Hungarians. Jack weet nie waar hulle aan die besonderse
naam gekom het nie.
Sam, 'n stoffeerder van beroep, verhuis in 1934 na Johannesburg.
Hy het steeds musiek gemaak en het in 1938 een van Hendrik Susan
se eerste konsertinaspelers geword. Hy was natuurlik 'n veelsydige
speler wat ook die volgende instrumente kon bespeel: trekklavier,
kitaar, orrel, klavier, basviool, saksofoon, traporrel, mondfluitjie
en banjo. Gedurende die beginjare by Hendrik Susan was die geld
maar skaars. Sam het baie aan Jack vertel dat hulle soms planne
moes maak om geld vir brandstof in die hande te kry. So was
hulle byvoorbeeld genoodsaak om van die minder belangrike instrumente
te verpand om in Standerton te kon gaan speel. Met hulle terugkoms
in die stad, is die instrumente weer by die pandjieswinkel afgehaal!
Soms het hulle per trein na plattelandse dorpe gereis en dan
gewoonlik musiek vir die ander passasiers gemaak. Dit moes 'n
baie vrolike en gesellige treinrit vir die ander reisigers gewees
het! Die ouer lesers sal weet hoe gewild hierdie manne in daardie
jare was.
Sam het in 1943 sy eie orkes gestig en hulle was dadelik gewild.
Hy het sommer baie 78-spoedplate gemaak en ook heelwat gekomponeer.
Die volgende bekende spelers was op een of ander stadium lede
van sy beroemde orkes: