Bobby het sy eerste banjo met 'n lotery gewen. Hy het homself
geleer speel, maar sê ook sommer dadelik dat Silver
de Lange hom die meeste gehelp het. Hy word werklik liries
wanneer hy oor Silver begin, gesels. Hy sê dat hierdie
man vandagse konsertinaspelers ook onder die stof sou kon speel!
Hy deel verder mee dat Silver 'n perfeksionis was. As 'n kitaar
of banjo nie suiwer ingestel was nie kon hy baie moeilik word,
en as 'n speler verkeerde akkoorde speel, of tyd verloor, het
hy sommer sy konsertina toegevou en 'n draai gaan loop. Hy het
graag sy manne met raad en daad bygestaan, maar dan moes hulle
werklik probeer het om net hulle beste te lewer. Hy het nie
van brouwerk of 'n afskepery gehou nie. Net die beste was goed
genoeg vir hom. As hy lekker gespeel het, was sy oë altyd
toe en 'n groot glimlag het op sy gesig verskyn. Die manne het
dan geweet dat hy tevrede was met hulle begeleiding.
Hy en sy broer Gert was kundige mense en het ook 'n kitaar
eiehandig gebou, waarmee hulle lank gespeel het. Bobby, 'n meubelmaker
van beroep, het nog destyds die hout vir die kitaar vir hulle
gegee. Silver was nooit getroud nie en het met musieklesse sy
daaglikse brood verdien. Musiek was feitlik die alfa en omega
van sy lewenspatroon. Bobby het ook op sy dag saam met oorsese
orkeste gespeel, maar sê dan dadelik dat hy nog nooit
'n musikant soos Silver ontmoet het nie.
Alhoewel Bobby 'n vermoende man is, het hy tot 'n hoë ouderdom
as 'n meubelontwerper in Johannesburg gewerk. Hy was steeds
baie vaardig met die banjo en die trotse besitter van 'n Vega.
Hierdie soort banjo is van die beste wat 'n mens kan kry. Op
'n vraag of hy ooit daarvan ontslae sal raak, het hy geantwoord:
"Not for all the tea in China".
Hy sê dat hy vandag nog trots is op die feit dat Hans,
hulle het Silver so genoem, altyd vir hom gese het dat hy nog
eendag 'n "top musikant" met die banjo sou word! U
sal nog onthou dat daar 'n dispuut was oor die foto op die omslae
van die heropgeneemde plate van Silver. Sommige mense het beweer
dat dit nie sy foto is wat op die omslae verskyn nie. Ek het
die plaat aan Bobby gegee en die groot vraag gestel? Hy het
lank en stip na die foto gekyk, 'n veraf blik in sy oe gekry
en toe geantwoord: "Dis Silver, man, dis net hy! Sal ek
dan ooit daardie glimlag van hom kan vergeet?"
Bobby het natuurlik die ander spelers van daardie jare ook goed
geken. Hy sê dat hy baie maal saam met Faan Harris, Hans
Bodenstein en Boet Steyn opgetree het. Vir Chris Blignaut het
hy ook baie goed geken en het 'n hoe dunk van hom.