|
In 1983 het die Universiteit van Stellenbosch oudlede van Oom
Pietie se boerorkes op Stellenbosch saamgetrek om Oom Pietie se
101e geboortedag te herdenk. Die lede het hoofsaaklik uit die Boland
gekom, maar daar was 'n groot verskeidenheid mense wat van 1933
tot 1956 in sy orkes gespeel het. As 'n mens so oor die oudlede
gekyk het, het jy gemerk dat party se koppe bewe. Die jare het sommige
begin inhaal. Maar hulle was daar, getrou aan Oom Pietie tot lank
ná sy dood. Dit is die soort gesindheid wat hy by sy orkeslede
gewek het.
Petrus Jacobus le Roux is op 17 Oktober 1882 op Moorreesburg gebore,
maar het vroeg in sy lewe na Stellenbosch versit waar hy die res
van sy lewe gewoon het. Op Stellenbosch het hy 'n vennoot geword
in 'n algemene handelsaak. In hierdie werk het Oom Pietie se kunstenaarsin
te voorskyn getree. Ou inwoners van Stellenbosch praat nou nog van
die kunstige vensterversierings wat hy geskep het. Maar Oom Pietie
was van vroeg af 'n sieklike man en hy het in 1928 besluit om af
te tree.
Hy kon egter nie stilsit nie. In die jare 1929-1930 het die vrouetak
van die Nasionale Party op Stellenbosch navraag gedoen na 'n klein
orkessie om die party se byeenkomste op te kikker. Oom Pietie het
voorgestel dat dit 'n Boereorkes moet wees en het een op die been
gebring. Die orkes het uit twaalf lede bestaan, en dit het in 1933
met groter getalle gegroei tot die Stellenbosch-Boerokes.. Dit het
die hoofwerksaamheid van sy lewe geword. Oom Pietie het die rype
ouderdom van sewe en negentig jaar bereik. Hy is op 29 Januarie
1980 oorlede. Dit sê veel vir boeremusiek dat iemand wat op
die ouderdom van ses en veertig jaar weens swak gesondheid afgetree
het, na jarelange beoefening van boeremusiek toe so 'n hoe ouderdom
bereik het.
Die eerste groep wat gaan toer het, het in die moeilike jare 1933-34
opgetree. Na 'n besoek aan Porterville en Malmesbury kon hulle net
'n wins van 8c wys. Hierdie orkes het uit sewentien lede bestaan
met Oom Pietie ingesluit wat die saag gespeel het. In die orkes
was ook 'n konsertinaspeler, Fanie Cloete met sy boerekonsertina.
Oom Pietie het van die begin af vir die werwing van lede onder
die studente van Stellenbosch inbeweeg, maar sy orkes het nie net
uit studente bestaan nie. Dikwels is daar ook van ouer en ervare
musikante gebruik gemaak. Met die laaste toer in 1955-56 het 'n
hele paar onderwysers wat vroeër as studente in die orkes was,
die toer na die Noordweste meegemaak. En daar was ook teenwoordig
'n pensioenaris, oom Morgan O'Kennedy wat sy ses-ry Wheatstone,
spesiaal in Engeland vir hom vervaardig, laat brul het soos 'n orrel,
en skrywer hiervan wat toe al dosent aan die Universiteit van Stellenbosch
was. Oom Pietie het ook van talentvolle jong skoolseuns gebruik
gemaak. In sy eerste en tweede orkes was dit Bruckner de Villiers
eers met die banjo en later met die viool. Later het klein Albert
Koen konsertina gespeel en Abré Marais banjo en konsertina.
Hoewel daar 'n mate van keuring van orkeslede was, want 'n lid moes
minstens 'n instrument kon bespeel, het Oom Pietie man en muis in
sy orkes verwelkom. Party van die lede het net die grondbeginsels
van 'n instrument onder die knie gehad. So was daar kitaarspelers
wat net in G, C, F en D kon speel. Maar Oom Pietie het hom nie toegelê
op ingewikkelde musiek nie. Dit het hoofsaaklik gegaan oor eenvoudige
Boeremelodieë soos Sarie Marais,
Suikerbossie, Bobbejaan klim die Berg, 0 moenie huil nie, Coetzenburg,
ensovoort.
In die maande voor die orkes op toer gegaan het, is die spelers
afgerig en is daar 'n mate van variasie in die melodieë ingebring.
So byvoorbeeld, is Sarie Marais
as openings item in F eers as 'n wals gespeel, dan in 'n stadige
maat as 'n settees en uiteindelik in 'n vinnige ritme as 'n vastrap.
Oom Pietie het daarvan gehou om in die orkes van konsertinaspelers
gebruik te maak. Gedurende 'n konsert is hulle ook vir konsertinasolos
gebruik. 'n Hele aantal uitstekende konsertinaspelers was lede van
sy orkes, o.a. oom Jan Visser wat met sy pragtige Stellenbosse Verlange
voete aan die roer gesit het, oom Gert Marais, Klaas Russouw, oom
Morgan O'Kennedy en Piet Geldenhuys. Nou ja, so 'n orkes het 'n
groot verskiedenheid instrumente gehad soos 'n klavier, kitare,
banjo's, ukeleles, baskitaar, viole, trekklaviere, kornet wat deur
Con Hofmeyr onvergeetlik gehanteer is, mondfluitjies en die saag.
Hoewel die groot orkes die hoofdis van die aand was, het Oom Pietie
daarvan gehou om 'n goedbeplande verskeidenheidskonsert aan te bied
waarin studentehumor 'n belangrike rol gespeel het. Hier kan genoem
word Oom Kaspaas en Nefie waarin Oom Kaspaas so 'n kort solo op
die konsertina speel. Nou ja, dit was so dat 'n goeie konsertinaspeler
nie altyd 'n goeie Oom Kaspaas kon uitmaak nie. Dan is een van die
studente gevat en 'n stukkie op die konsertina geleer om die rol
te vervul. Een van die onvergeetlike Oom Kaspaase was Sakkie van
Biljon, nou professor aan die Universiteit van Stellenbosch, wat
so 'n skommelstuk op die konsertina vervolmaak het. Die konsert
is ook afgewissel met sangsolos. Sangers soos Willie en Josua Serfontein
het opgetree. Skrywer hiervan het met die toer van 1956 'n paar
Schubert-liedere gesing. Dan was daar vioolsolos, konsertinasolos,
saagsolos, ens. Een van die uitstaande kenmerke van die orkes was
die jeugdige entoesiasme en vreugde wat te voorskyn getree het.
Oom Pietie met sy vrou tant Hester, het streng dissipline op toere
gehandhaaf en dit het nie altyd maklik gegaan met 'n hele handvollewenslustige
studente nie. Daar is geen drank op toer toegelaat nie en die mans
en die meisies is veral op treine goed van mekaar geskei. Ten spyte
daarvan het heelwat orkeslede hulle wederhelftes op toer ontmoet.
Oom Pietie was 'n uitstekende organiseerder. En daar is baie organisasiewerk
aan 'n toer. Aanvanklik het Oom Pietie self al die organisering
gedoen. Later het hy van sy sekretaresse gebruik gemaak. Dikwels
is die hele roete per motor vooraf afgelê om seker
te maak van 'n saal en losies vir die toerlede. En 'n saal was nie
altyd beskikbaar nie. Dan moes 'n ander plan gemaak word, soos op
Lambertsbaai waar in 'n visskuur konsert gehou is met 'n verhoog
gebou van kiste met vis - en die reuk was die aand nie te waffers
nie. So het Oom Pietie en sy orkes groot dele van Kaapland deurkruis,
die Vrystaat, Transvaal en Natal besoek en 'n hele paar keer in
Suidwes 'n draai gaan gooi. By spesiale geleenthede was die orkes
in aanvraag. Hoogtepunt het die eeufeesjaar van die Ossewatrek van
1938, die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en die Van
Riebeeckfees van 1952 gevorm. Wat so mooi was van die orkes, is
dat ook klein plekkies nie verbygegaan is nie.
Nadat die laaste toer in 1956 onderneem is, het daar by verskeie
geleenthede reünies plaasgevind. So is daar 'n orkes van oudlede
op die been gebring vir die Uniefees van 1960. En dit was duidelik
dat Oom Pietie en sy orkes niks van hul vaardigheid verloor het
nie. In 1966 met die 100-jarigefees van die Universiteit van Stellenbosch
was dit weer so. Dit staan my helder voor die gees hoe die aand
in 1966 in 'n stampvol stadsaal, prof Con de Villiers op die einde
op die been gekom en met sy growwe stem uitgeroep het: "Bravo!"
Dit was die laaste optrede van die orkes.
Wat is met die geld wat ingesamel is, gedoen? Op selfopofferende
wyse het Oom Pietie groot bedrae vir goeie sake soos die Reddingsdaadbond,
Voortrekkermonumentfonds, die Universiteit van Stellenbosch en ander
laat toekom. 'n Bedrag van oor die Rl00 000 is uiteindelik ingesamel.
In terme van die waarde van geld vandag is dit 'n aansienlike som.
Maar het dit net gegaan oor die insameling van geld vir 'n goeie
saak? Nee, beslis nie. Dit het vir Oom Pietie gegaan oor die aanwakkering
van 'n gevoel vir ons volksmusiek by ons mense. Talle studente wat
vandag belangrike poste beklee, het geleer om hulle eie musiek te
waardeer en te geniet. Verder het tienduisende mense oor ons hele
land konserte bygewoon en in vervoering gekom oor melodieë
wat in sommige kringe verag is. Dit is Oom Pietie se kosbare erfenis
vir die Afrikanervolk.
|
|