
Japie is op 3 Junie 1919, in Woodstock, Kaapstad, gebore. Op
veertienjarige ouderdom het hy by die poskantoor in Kaapstad,
begin werk en is later bevorder tot radiolisensie-inspekteur.
Hierdie pos het hy beklee tot en met sy aftrede. Japie se enigste
dogter, Gerda Willemse, het my baie gehelp met inligting oor
hierdie beroemde konsertinaspeler.
Toe Japie sestien was, het sy ouer broer Jacobus, vir hom 'n
tweedehandse boere-konsertina present gegee wat hy vir 'n daalder
(15c) by 'n kerkbasaar gekoop het! Japie was oorstelp van vreugde
en het sommer dadelik begin oefen. Hy het baie vertel dat hy
sy talent by sy vader en 'n oom, Klaas Tolletjies geërf
het. Japie, wat nooit musiek kon lees nie, het gou-gou die boerekonsertina
bemeester en toe begin dink aan 'n Engelse-konsertina. Die groot
struikelblok om 'n nuwe Engelsekonsertina in die hande te kry
was natuurlik die verskriklike hoë prys daarvan, naamlik
tien ghienies! (In vandag se taal is dit R21,00.) Japie het
'n pragtige een in 'n winkelvenster gesien en dae geloop en
planne beraam hoe om dit in die hande te kry. Eendag het hy
egter al sy moed bymekaar geskraap en na sy baas, meneer Joe
Taylor, gestap en hom van sy probleme en begeerte vertel. Meneer
Taylor was baie simpatiek en het, na aanhoor van Japie se storie,
hom onmiddellik die verlangde bedrag voorgeskiet! Japie was
letterlik in die wolke en vanaf daardie heuglike dag was daar
geen keer aan hom nie. Hy het dag en nag geoefen en gou sy eerste
orkes op die been gehad.
Japie het sy eie kenmerkende styl met die konsertina gehad
en daar is feitlik nie een boeremusiekliefhebber in die land
wat nie dadelik sal weet wanneer hy Japie se musiek hoor, dat
dit hý is wat daar speel nie. Dit is baie treffend as
'n konsertinaspeler sy eie styl ontwikkel en deur die jare daarby
hou. Ongelukkig kry ons vandag onder die jonger spelers die
neiging dat hulle graag iemand, wat hulle as puik beskou, wil
naboots. Hulle eie style ly daaronder, en sogenaamde "kenners"
van konsertinamusiek kan dan nie maklik die verskillende spelers
se musiek uitken nie. Ek stem met Langenhoven saam dat 'n na-aper
self nie eers 'n goeie aap is nie!
Japie se musiek het sommer van die begin af byval by die volk
gevind, want hy het nie net die ou tradisionele wysies gespeel
nie, maar ook ons tradisionele musiekskat verryk met honderde
van sy eie komposisies wat in dieselfde idioom gespeel is. Aan
die einde van hierdie hoofstuk gee ons 'n volledige lys van
al sy komposisies soos dit by SAMRO geregistreer is.
Een aand het Japie die dood letterlik met duime vrygespring.
Hy was op 'n voorstedelike trein vanaf sy tuiste na Nuweland
op pad om by 'n huispartytjie te gaan speel. Toe hy by Soutrivierstasie
reeds van die trein afgeklim het, val dit hom by dat hy sy flits
in die trein vergeet het. Dadelik klim hy terug om dit te gaan
haal, maar net toe trek die trein skielik vinnig weg. Die deur
van die trein waaraan hy vashou, swaai oop en daar hang Japie,
een hand stewig aan die trein en in die ander die konsertina
waaraan hy so moeilik afbetaal! Hy sien ook dat die perron onder
hom weggraak en dat hy teen die volgende perron, as hy sou aanhou
hang, doodgestamp sou word. Intussel snel die trein teen 'n
hoë spoed voort en daar bly net een keuse oor: Spring!
Langer tyd om te dink was daar nie, en hy spring toe maar! Half
bewusteloos en die ene pyn beland hy op die ballasklippe van
'n ander treinspoor. Skielik word hy, so tussen die pyne deur,
yskoud, want hy staar in die verblindende lig van 'n aankomende
trein vas! Met al die krag en moed wat hy kon bymekaar skraap,
slaag hy net betyds daarin om voor die trein weg te rol. Met
groot verligting sien hy hoe die trein oor die plek gaan waar
hy 'n sekonde gelede gelê het. Met 'n gebreekte kouerbeen
en ses gebreekte ribbes het hy skeef-skeef, maar baie dankbaar,
huis toe gesukkel. Vriende, glo dit as u wil, die konsertina
was ongeskonde en veilig in sy onbeseerde hand! Hierdie nagmerrie-ondervinding
het hom baie jare bygebly.
Japie het jare na hierdie voorval weer, as gevolg van sy konsertina,
'n terugslag gehad. Hy was een aand besig om opnames vir die
SAUK te maak toe 'n Engelse dame, wat met die opnames gehelp
het, aan hom sê dat hy teen 'n stadiger pas moes werk.
Hy het juis daardie besondere aand vier en twintig van sy eie
komposisies laat opneem. Vir iemand wat nie musiek lees nie
en net op sy geheue moet staat maak, is dit 'n geweldige moeilike
versoek. Japie het egter voortgegaan en klaargemaak, maar twee
weke lank was hy in die hospitaal as gevolg van "senuweespanning".
Om te illustreer hoe musikaal hierdie begaafde man was, moet
die volgende outentieke storie vertel word. Terwyl hy in die
hospitaal was, het die verpleegster hom een aand wakker gemaak
en gesê dat as sy musiek kon skryf, sy die mooiste musiek
op aarde nou sou kon neerskryf. 'n Verbaasde Japie wou toe van
haar weet wat sy nou eintlik bedoel. Sy vertel toe vir hom dat
hy in sy slaap die mooiste melodie gefluit het wat sy nog ooit
gehoor het! Japie was 'n vrugbare komponis van boeremusiek.
Hy het op een dag agt wysies gemaak! Hoe hy alles kon onthou,
sou net hy geweet het.
In die Eeufeesjaar van 1938 het hy as konsertinaspeler saam
met die stadsorkes van Kaapstad opgetree in die eerste Afrikaanse
opera, "Die Kleed van Tafelberg", van professor Clouts.
Hy sê hy het heerlik gespeel, want hy het 'n groot orkes
agter hom gehad! Japie se musiek was in elke Afrikaanse huis
gewild - vanaf sy geliefde Kaap tot in die verste uithoeke van
die land. As radioluisteraars sy kenwysie, Die ou Waenhuis,
gehoor het, het hulle geweet hulle kon hulle klaarmaak vir heerlike,
aangename, en van die beste tradisionele boeremusiek.
Japie het baie gereis as gevolg van sy werk en het dan die
plekke wat hy besoek het se name vir sy komposisies gebruik.
Japie was 'n meester van die boerekonsertina. Versamelaars wat
nog van sy plate het wat hy met die boerekonsertina gemaak het,
moet dit tog asseblief soos goud bewaar, want dit is uiters
waardevol.
Hy kon ook goed sing en was veral lief om te jodel. Volgens
sy dogter het hy ook 'n paar sangplate vir ons nagelaat. Hy
was ook 'n goeie kitaarspeler en het homself daarmee begelei
wanneer hy gesing het. Hy is ook soms "The yodelling postman"
genoem. Japie was lief vir sy volk en sy kultuur. Hy wou op
'n stadium ophou speel, maar in 'n brief aan SAMRO, waarin hy
as lid geregistreer het, sê hy die volgende: "Ek
wou ophou speel, maar toe kom die roepstem van my Afrikaanse
volk en Boerenasie wat vandag nog my musiek nodig het, en dis
ter wille van hulle, dat ek besluit het om voort te gaan".
Toe Japie verneem dat ons eertydse geliefde Staatspresident,
adv C.R. Swart, baie van boeremusiek hou, het hy 'n hele stel
van sy plate, in 'n pragtige omslag, aan hierdie groot seun
van ons volk oorhandig. Nodeloos om te sê dat dit vir
albei 'n onvergeetlike dag was. Ons bedank meneer J.H. Visser
van Milnerton vir die pragtige foto van hierdie geleentheid
en vir die afskrif van 'n brief wat Oom Blackie aan hom geskryf
het.

Foto geneem tydens oorhandiging van 'n stel
plate aan
Staatspresident C.R. Swart deur Japie Laubscher

Ja, ons Boere kan maklik stry, maar as dit by boeremusiek kom,
praat almal dieselfde taal! Japie was 'n baie netjiese mens
en het in 'n ewe netjiese huis in Milnerton gewoon. Hierdie
huis het die treffende naam "Al-Te-Bly" gehad! Ek
weet sommer dadelik wie aan hierdie besondere naam gedink het!
Hy was ook 'n gelowige mens en het altyd saans voor hy gaan
slaap het eers uit die Bybel gelees en gebid. Hy was lid van
die NG Kerk en sy plek was Sondae nooit leeg nie.
Tiewie Fourie, die beroemde banjospeler, het bykans dertig
jaar saam met Japie opgetree. Hulle was boesemvriende. Tiewie
beskou Japie as 'n ware heer. Ook Mynie Reyes, Harry Bartz en
baie ander musikante van die Kaap praat net met die grootste
lof van Japie.
Dis baie interessant om te weet wie die Ysterplaat Kêrels
was wat Japie op sy eerste plate begelei het. Japie het natuurlik
die konsertina gespeel, en die res van die orkes was:
| Louis Fourie |
: basviool |
| Oom Jaap en tant Sus Opperman |
: kitaar |
| Tiewie Fourie |
: kitaar, banjo en basviool |
Ander spelers wat later saam met hom opgetree het, was:
| Jean du Plessis |
: kitaar |
| Jannie Fourie |
: trekklavier |
| Henry Nieuwoudt |
: tromme |
| Syd Wearn |
: saksofoon |
| Ronnie Viljoen |
: saksofoon |
| Charlie Hamilton |
: saksofoon |
| Jannie Combrinck |
: basvioo |
| Joey Fourie |
: kitaar |
| Wally Wagner |
: kitaar en konsertina |
| Ronnie Theron |
: trekklavier |
| Fritz Schelhase |
: trekklavier |
| Tienie Versveld |
: trekklavier |
| Basie Beyers |
: mandolien |
| Mynie Reyes |
: viool |
| Loutjie de Jager |
: basviool |
| Dougie Botes |
: trekklavier |
Japie was baie gewild en het op baie plekke opgetree. Danie
van Eeden van die SAUK het ook met hom kennis gemaak en dit
het in 'n hegte vriendskap ontwikkel wat jare geduur het. Japie
het baie uitsendings vir die SAUK gedoen en dikwels, na so 'n
uitsending, het Danie sommer by Japie oornag. Japie se gasvryheid
het hy seer sekerlik van sy ouers geërf, want hulle huis
was altyd vir almal oop.
Japie het ongeveer een en twintig van die 78-spoedplate (solo
sewes ingesluit) en sewe en dertig langspeelplate gemaak. Hier
volg 'n lys van sy komposisies soos by SAMRO aangeteken:
|
Aaitsa
Aan die brand
Ada sê
Agter die Bult
Al te bly
Aldam
Alla wQreld
Annadas
Annaleen
Appelliefie
Arrie nee
Asseblieftog
Attie se polka
Bettie s6
Bleshoender settees
Blikbord settees
Blou oog Sanna
Bloubergstrand
Boebpens
Boerekonsert
Boeretroos
Boeskop
Boesmanland
Bokveld settees
Bokveld berg
Die Boland
Bont hond
Bontrok polka
Boplaas
Botswana
Brompie
Bruinoog
Bruisende waters
By die dam
By die treurende wilger
By die waterval
Chris en Jan
Daantjie Dik dood
Daar val die aap
Dakmossie settees
Dankie Sankie
Dassie draai
Deurmekaar
Diep in my hart
Dik Dawid settees
Dink aan my
Dis twaalfuur
Doringkloof
Dorptoe
Dou voor dag
Driehoek
Droerivier
Eensaam wals
Eina eina
Ek sê
Ek staar na die verte
Elandsvlei
Fonteintjie settees
Geluk met die nuwejaar
Gemsbok
Gerda
Gertjie my Gertjie
Glimlag
Groenevelde
Hanekraai om die draai
Hansie Kapansie
Hennie se wals
Heuning maan
Hoe lyk die settees
Hoe lyk dit
Hoe nou
Hoe ry die trein
Hoedjiesbaai
Hou so
Houwhoek
Huismoles
Huisrivier polka
Ida kwadriel
In die groen vallei
In die ou spookhuis
Jaap se polka
Jacob Regop
Jampa se polka
Jan Doppies
Japie kappit uit
Japie se draai
Japie se vastrap
Jela se kwadriel
Jolla se polka
Jongman wals
Jotta se polka
Jou Flerrie
Jou vabond
Julia se polka
Kadoesbroe k
Kamiesberg settees
Karlientjie
Karroobos polka
Katberg se settees
Katryn en Adoons
Kersfontein
Kielie my
Klanke uit die kranse
Klipgat
Klonkie
Koek Koek Kwela
Koekemakranka
Koekenaap se vlakte
Koeloekie wals
Kom terug na my
Korangvlei
Kosie my rosie
Kraai bos
Kwikstertjie
Kyk diep in my oe
Laat nag wals
Langjan Salie
Die Langpad
Langasem
Langeberg wals
Lange jare
Langpad polka
Langs bruisende waters
Die Lantern polka
Leeubekkie wals
Lekker dans
Lekker, lekker
Lekker ou dae
Lekker settees
Lekker so
Lelik maar lieflik
Lentelug
Letticia wals
Liddoring polka
Die Lief Roos wals
Liefde en verlange
Die liefkoos wals
Liefling
Liefling my liefling
Liefling van die Bosveld
Liefling van my
Die ligvoet polka
Littelos
Loskop polka
Louwtjie se vastrap
Maanlig vaarwel
Maansie se wals
Madaliefie wals
Magoebaskloof
Makouvlei se dinge
Meiringspoort
Middernag settees
Mieliebol
Miena se wals
Misvloer vastrap
Mooidraai
Mossel bank
Murmelende waters
My Angelier
My Blom
My' Mamma het 'n hondjie
Na links na regs
Namakwaland settees
Nag Nonna
|
Neef Hendrik
Nicolette
Nou toe nou
N uwejaarswals
O Fonteintjie
O Gonna
O la la
Olifantsberg
Omdraai
Onder die ou Akkerboom
Oom Siempie se polka
Ou Akkerboom wals
Ouboet se settees
Ou Bok jong blaar
Ou Bos
Ou Dik Dawid
Ou Gonna
Ou Kaapland
Ou Kaapse dans
Ou Rooipiet
Ou Sampie
Ou Tant Nonna
Ou Vaal Jan
Ou Waenhuis
Oulike Jongnooi
Ouma sê
Oupa Jan
Oupa se polka
Outyd se baandans
Outydse Kwadril
Padlangs
Pan kop
Papbroek
Pappagaaiberg
Patrys
Pat rysberg
Piekkanienie
Piet Patrys
Piet Verdriet
Pikkewyntjie
Plat Bokkies
Platdoring settees
Poetoepap polka
Die Poppiedik wals
Poppie se polka
Poustert polka
Die President wals
Reflections
Riempiesvlei
Rietbok
Rietvlei
Roman wals
Rondom Talie
Rooikrans se dans
Rooipiet
Rooiwiel settees
Rooiwiel wals
Rooidak wals
Rooiwerf
Rooiwyn polka
Ruk ruk
Ruk ruk silwerstroompie
Rustige nag
Die Saamstaan settees
Salomie wals
Sandfontein wals
Sandveld settees
Sannies spruit
Schoemanskloof
Sederberg
Silwerstroompie
Silwerblare
Sit sit
Skilpad
Snorkfontein
Soet waters
Sonstraal settees
Sonnekus polka
Soontoe
Soutkloof polka
Spoorweg settees
Springbok settees
Spruitdrift
Spruitfontein
Stadig stadig
Stella wals
Sterwende seun
Stille trane
StiIte
Stompneusbaai
Strandoord
Strikdas polka
Strooidak wals
Struisbaai vastrap
Stywe liefie
Stywe lyne polka
Suisende nagwind
Susanna se wals
Swaai en draai
Swaeltjie
Sweetdruppels
Tafelberg
Tammeletjie
Tamatieland
Tam boe kies
Tant Polla se Polka
Te Laat
Toekies
Toontjies skop
Tot Dagbreek
Totsiens Marie
Trane
Tranedal
Troebel waters
Troudag wals
Truda
Twaalfuur
Tweelingwals
Vaal bos
Vaalwater polka
Valsbaai se vastrap
Varkevlei settees
Velddrif roep
Ver in die verte
Vergeet my niet
Verlang jy, ek kom
Verlange
Verlangende hart
Verlief verloof getroud
Verlore vlakte
Vinnig swaai
Vir oulaas
Vlakfontein wals
Vleifontein
Voelvlei
Voelvoet
Von kelende ogies
Vrolike Gert
Vuurvlam
Vygiestrand se wals
Waarheen nou
Die Wadrif
Wakkerbly
Wallie se polka
Wallie se settees
Wapad
Warmrivier
Wat nou
Wat sê jy nou
Waterkloof
Wees my maat
Wees vrolik
Welkom wals
Die Weskus
Wilde als
Wimpie polka
Winburg polka
Winternag polka
Wip oor die klip
Wip wip
Wit esel
Witklip polka
Yserfontein vastrap
Zimba
|
Japie het baie dikwels vir liefdadigheid opgetree en van die
beste kunstenaars gebruik om hom by te staan. By een só
'n geleentheid het die bekende Cecilia Wessels in dieselfde
program opgetree. Japie se bydraes was so gewild dat hy daardie
besondere aand vyf maal teruggeroep is deur die juigende gehoor!
Op 6 April 1981, het Japie ons ontval. Ons Boere het een van
ons gewildste konsertinaspelers verloor, maar gelukkig het hy
vir ons 'n onskatbare erfenis nagelaat.
As ons na sy aantal plate en komposisies kyk, besef jy onmiddellik
wat hy werklik vir ons kultuur gedoen het. Japie, ons salueer
jou!