
Jimmy Henning by die TBK jaarvergadering 5 November 1983
Jimmy is op 12 Augustus 1924,
in Potchefstroom gebore. Hy was nog baie jonk toe sy ouers na
Johannesburg verhuis het. Hy het in Johannesburg gewoon en gewerk
tot met sy afsterwe op 6 Oktober 1984.
Hy was eers werksaam by die Lyons Foundry, maar het in 1960 sy
eie vervoerbesigheid begin, naamlik Valley Transport. Hy het 'n
groot sukses van sy besigheid gemaak en was alom bekend.
Jimmy se vader was 'n goeie musikant en Jimmy het van kleins af
sy talente begin toon. Hy het in 'n baie goeie kitaar- en konsertinaspeler
ontwikkel. Hy was gou bekend in boeremusiekkringe en was goed
bekend met die volgende spelers:
| Silver de Lange |
Doreen en oom Alf van der
Watt |
| Faan Harris |
Louis Engelbrecht |
| Koos Barnard |
Fanie Bosch |
| Boet Steyn |
Hendrik Susan |
| Hansie van Loggerenberg |
Sam Petzer |
| Dawid de Lange |
Hans la Grange |
| Gerrie Bezuidenhout |
|
Sy boesemvriend vir baie jare was Hannes
Viljoen. Hulle was waarlik baie geheg aan mekaar en by Jimmy
se begrafnis kon Hannes (hy sal my verskoon) nie sy trane bedwing
nie.
Jimmy het 'n paar jaar gelede 'n langspeelplaat, Boeredans
met Jimmy Henning en sy konsertina, gemaak. Ek het bevoorreg
gevoel om toe hy my gevra het om hom tydens die opname met die
banjo te begelei. Jimmy het Hannes Viljoen feitlik op al sy jongste
langspeelplate met die kitaar begelei en het hom ook tydens uitsendings
bygestaan.
Jimmy was 'n nugter mens in
die ware sin van die woord. Hy was ook baie vriendelik en hulpvaarddig
en jy sou nooit sy huis verlaat sonder om eers tee te drink nie!
Hy was ook baie opgeruimd van geaardheid en sy hartlike lag het
enige byeenkoms sommer spontaan opgevrolik. Omdat hy so baie van
die ou musikante geken het en so hartstogtelik lief was vir ons
musiek, het hy my baie gehelp met inligting. Toe daar besluit
is om ons Klub te stig, was hy natuurlik die eerste mens wat genader
is. Hy het onmiddelik ingeval en saamgewerk en was dan ook 'n
amptelike stigterslid op die Klub se stigtingsvergadering.
Hy het ook vir Silver de Lange se graf opgespoor en uitgekoop.
Een van sy grootste ideale was dat 'n grafsteen vir Silver opgerig
moet word, maar ongelukkig was hy reeds oorlede toe die onthulling
van Silver se grafsteen plaasgevind het.
Vir die baie harde werk wat Jimmy vir die Klub gedoen het, is
ere-lidmaatskap van die Klub, na sy dood, aan sy eggenote toegeken.
Met sy dood het ek ook 'n groot vriend verloor. Gelukkig is een
van sy komposisies, Pieta se settees
na my vernoem en dit sal my ou dae met mooi herinnerings opvrolik.
Piet Bester