|
Faan Harris is in 1886 gebore en het vir baie jare in Krugersdorp
en op die Rand gewoon. Hy was 'n verwer van beroep en baie lief
vir die natuur.
Op Vrydag, 12 Julie 1985, het oom Piet Bester die voorreg gehad
om met oom Andries (Boet) Steyn, die vader van die beroemde Steyn-boksers,
in Randfontein te gesels.
Oom Boet het Oom Faan in 1936 op Krugersdorp ontmoet en hom baie
goed geken. Hieronder is hulle omstreeks 1946 saam by oom Boet se
1938-model Ford vragmotor op die markplein van Krugersdorp afgeneem.

Oom Boet Steyn (kitaar) en Faan Harris (konsertina)
Oom Boet Steyn het die volgende inligting en amusante staaltjies
verskaf: Faan se reaksie as iemand hom as 'oom' aangespreek het,
was - "Ek is nie jou oom nie, ek is nie jou Ma se broer nie!
Ek is ook nie 'meneer' nie, want ek het nie 'n 'tie' (das) nie.
My naam is Faan!
Hy sê Oom Faan was baie grappig en het 'n fyn humorsin gehad.
Hy kon maklik vir homself en sy gebrek lag. Oom Faan het glo altyd
met smaak vertel dat, toe hy alreeds baie oud was, 'n dame daar
in Krugersdorp, haar oor hom ontferm het. Soos hy dit self gestel
het "Vandat hy daar gaan woon het, was hy altyd 'n ware jintelman".
Hy is toegelaat om Donderdagaande uit te gaan om musiek te maak
en om sy vriende op te soek. Een so 'n Donderdagaand loop Oom Andries
hom in Krugersdorp raak. Oom Faan was glo so uitgelate soos 'n skoolseun,
en toe hy gevra is waarheen hy op pad is, het hy ewe vrolik geantwoord
dat op 'n aand soos die, hy ook met die glasoog kan sien!
Oom Faan het ook die naam van "Bicycle scope" vir bioskoop
gehad. Hy kon met alles en almal die draak steek. Oom Faan was baie
vlug van verstand en kon maklik 'n plan maak - soos dit dan ook
uit die volgende staaltjie blyk. Oom Faan het een aand Oom Andries
se konsertina geleen om op 'n dans te gaan speel. Aangesien 'n konsertina
persoonlike eiendom en baie kosbaar is vir 'n speler, het Oom Andries
vir hom gesê dat hy die konsertina direk na die dans moet
terugbring. Maar al wat kom is Oom Faan. Oom Andries is skoon sy
slaap kwyt, want hoe later dit word, hoe sekerder is hy dat hy sy
konsertina nie weer sal sien nie. So teen vieruur die oggend hoor
hy die weemoedige klanke van 'n konsertina in die verte. Haastig
is hy agter die klanke aan en daar kry hy Oom Faan waar hy in die
straat sit en speel! Gou se hy aan Andries dat sy plan gewerk het.
Op Andries se vraag watter plan antwoord hy dat hy verdwaal het
en toe maar die plan bedink het om te speel want dan sou hy (Andries)
hom hoor en na hom kom soek!
As 'n mens die komiese vir 'n oomblik vergeet, dwaal jou gedagtes
onwillekeurig . . . Ek het gedink aan die twee laaste verse van
C.M. van den Heever se gedig, "Die Konsertina In Die Nag".
Ek haal aan:
"Daar klaag eers sag, dan heimlik-mooi die hese
treurstemmetjie - verlangend soos 'n wese
na dae lankal weg, lankal nie meer:
die tone klim en draal en val dan weer
en op hulleef herinnering en swewe na kinderjare,
na kinderjare, rykste van die lewe,
na dae lankal dood - lankal nie meer
Nog ween die konsertinastem en bewe
die wysie, waarin verlange lewe
vol ou weemoed en herin'ringspyn.
Dit is weer still en in die stilte skryn
die groot verlange na die ewige sterre;
en luister! soos 'n stemmetjie van verre
klaag die ou spruitjie in donker - en verdwyn".
Konsertinamusiek is mooi. Een van ons jong klublede beskryf dit
soos volg; "Dis die mooiste mooi op aarde. Dis so mooi, dit
maak eintlik seer.. "
Hannes Viljoen vertel dat hy eendag vir Faan op 'n trein tussen
Johannesburg en Luipaardsvlei ontmoet het. Hy het hom dadelik herken
aan die geruite pet wat hy gewoonlik gedra het en ook aan die feit
dat hy net een oog gehad het. (Faan het sy een oog in 'n ongeluk
verloor.) Die twee het begin gesels en Faan het aan Hannes gevra
of hy die Hartseerwals ken.
Toe Hannes bevestigend antwoord, het Faan gese: "Dis my eie
wals daardie en dit kom uit my hart uit." Hy het glo trots
op sy bors geklop. Hannes het hom weer later op 'n talentaand in
die stadsaal van Krugersdorp ontmoet. Hannes het daardie aand self
opgetree en het die Zoutpansberg
se settees gespeel. Toe hy klaar is, het Faan hom eenkant
geroep en opgemerk: "Jy ploeg met 'n ander se kalwers."
Hannes vertel verder dat hy die uitdunne van die kompetisie gewen
het maar nie aan die finaal deelgeneem het nie omdat hy skaam was
oor Faan se opmerking. Hannes het daar en dan besluit om self te
komponeer en kan vandag spog (wat hy nooit sal doen nie) met talle
pragtige konsertinastukke.
Oom Sakkie van Wyk 'n veteraan in boeremusiekkringe, vertel met
smaak hoe goed Faan 'n kitaar kon bespeel. Hy het hom een aand
op 'n partytjie ontmoet en was verbaas oor Faan se kundigheid met
hierdie instrument. Gerrie Bezuidenhout, 'n bekende speIer wat ons
ook al vooruitgegaan het, het ook in die begin van sy loopbaan saam
met Faan kitaar gespeel en baie by hom geleer. Faan het hom later
self toegelaat om op sy (Faan) se konsertina te speel. Dit was 'n
voorreg wat nie vir almal beskore was nie!
Faan Harris se buitengewone talente as meester konsertinaspeler,
orkesleier en komponis van onvergeetlike wysies, is nie alleenlik
beperk tot die tien 78-spoed plate wat hy as leier van Die
Vier Transvalers by His Master's Voice gemaak het nie.
Na dié orkes ontbind het, het oom Faan met verskeie ander
groepe musikante opnames gemaak. In meeste gevalle bestaan daar
weinig inligting oor enige ander orkeslede. Dit is slegs die duidelik
herkenbare styl van oom Faan wat ons in staat stel om hom te eien.
Die weglating van die musikante se name was doelbewus, aangesien
oom Faan nog onder kontrak by His Master's Voice was terwyl hy by
ander maatskappye plate gemaak het.
Die Vyf Voortrekkers se opnames is vermoedelik voor dié
van die Vier Transvalers gemaak. Faan Harris het die konsertina
bespeel en dit word vermoed dat Dan Scholtz (banjo) en Rupert Meyer
(kitaar) lede was. Die Vyf Voortrekkers het die volgende plate gemaak:
| Die
Vyf Voortrekkers |
O'er
die water wals
Boomstraat polka |
Gallotone
GE 200 / 465 |
|
Marosovia wals
Kimberlie se vastrap
|
Gallotone
GE 201 |
Shannon
wals
Witbrood polka |
Gallotone
GE 202 |
Tinker
polka
Kaapse bonton lansers |
Gallotone
GE 203 |
Droom
wals
Sprinkhaan mazurka |
Gallotone
GE 204 |
Vaalpens
settees
Soepvlees polka |
Gallotone
GE 205 |
Wyle oom Willie
Baucher het vertel dat hyself (kitaar), George Abrahams (banjo)
en Vic Wiehahn (kitaar) lede van die Transvaal musikante was. Faan
Harris het die konsertina gespeel en hierdie orkes het net een plaat
gemaak:
| Die
Transvaal musikante |
Pappegaai polka
Spanspek settees |
Trutone RA
53 |
Hy het ook die volgende plate gemaak en ons is baie gelukkig om
dit ook in ons versameling te hê:
| Faan Harris en
sy kêrels |
Saterdagaand settees |
Trutone
RA 82 |
Faan
Harris
en sy Boslansers |
Tienie en Jan
polka |
Decca
LM 149 |
Klokkie polka
Opskommel settees |
Decca SD 201 |
Suikerbossie vastrap
|
SD
205 |
| Buiteland polka |
SD 207 |
| Boom-de-ay-perdeby
polka |
? |
| Faan Harris orkes |
Waterval settees |
? |
Ten spyte van die groot verskeidenheid musikante wat saam met hom
musiek gemaak het, het oom Faan se uitmuntende spel en streng dissipline
ongeskonde gebly. Dit is ook bekend dat Faan 'n paar ander instrumentele
plate by Gallotone gemaak het, maar dat sy naam nie daarop verskyn
het nie.
| Die Singer dansorkes |
Vrolike voete vastrap |
Gallotone GE 462 |
| Gallotone konsertina orkes |
Pêrel se settees
Katrina settees |
Gallotone GE 470
Gallotone GE 471 |
Dit is ook onteenseglik bewys dat hy die konsertina gespeel het
tydens hierdie opnames wat met Dawid de Lange gemaak is:
| Dawid
de Lange met die Singer dansorkes |
Vaalhoed
Maak 'n doppie |
Gallotone GE 337 |
Heuningblom
settees
Anna se Man |
Gallotone
GE 347 |
Luister maar na die ooreenkomste tussen Anna
se Man en die Saterdagaand
settees. Dit word ook beweer dat hy saam met Dawid de Lange
gesing het tydens die opname van Maak 'n doppie. Met die speel van
die plaat kan 'n mens duidelik hoor dat iemand saam met Dawid sing.
Op die 29e en 30e Januarie 1977 het skrywer die
eer gehad om met Bokkie Brandt te gesels. Hy was lid van die eens
beroemde Singer Hawaiïse Orkes wat saam met die Jacobs Susters
terug na Waterberg en ander treffers van weleer gemaak het. Bokkie
het die Hawaiïse kitaar bespeel. Hy het vertel dat hy Faan
'n paar maal ontmoet het en dat hy verbaas was om te hoor hoe Faan
Drowsy Waters en ander Hawaiïse
nommers gevoelvol en foutloos op die konsertina kon speel. Hy was
voorwaar 'n groot musikant. Manie Bodenstein en Tiny Mey het Faan
ook geken en het ook dikwels saam met hom opgetree by vermaaklikheidsplekke.
Faan was baie gesteld op die korrekte ritme van sy wysies. As 'n
kitaarspeler nie sy sout werd was nie het hy hom sommer summier
in die pad gesteek! As 'n mens na sy begeleiding op sy plate luister,
besef jy dadelik dat hy daarin geslaag het om unieke singende effekte
te verkry met sy twee kitare en tjello.
Oom Laurie du Preez, op die foto hiernaas, het baie as kitaarspeler
saam met Faan opgetree. Die betrokke kitaar wat hy gebruik het,
is deur Oom Faan destyds spesiaal vir hom uitgesoek toe hy een wou
koop.
Laurie du Preez (kitaar) en Stephaan van Zyl (konsertina)
[foto kopiereg voorbehou - 1981]
Hierdie einste kitaar is vandag in die besit van Willem Jooste
Jr. en kan in die foto van die Lekker Kêrels Boereorkes
hieronder gesien word.

vlnr: Willem Jooste, Marinda Jooste, Gerrit Jooste, Gert Jooste,
Willem Jooste Jr. Tinus Barnard
[Foto Kopiereg voorbehou - Séan Minnie, 2003]
Volgens Hannes Ernst, het ene Schubel Ernst vir Faan leer speel.
Hy het eers kitaar gespeel en daarna die konsertina bemeester.
Hannes vertel dat Faan en 'n vriend jare gelede by hulle aan huis
was en dat hy en die vriend 'n kamer moes deel. Nadat hulle gaan
lê het en die kers doodgeblaas is, het Faan 'n koerant opgeneem
en gemaak of hy daarin lees. Toe sy vriend vra hoe hy in die donker
kon sien, het hy geantwoord: "Ek lees met my glasoog."
Sakkie Joubert was baie saam met Faan gewees en het glo die naam
van die Klokkie polka aan
die besondere nommer gegee. Hy het altyd gese dat as Faan hierdie
stuk speel hy klokkies kon hoor en daarom is dit dan die Klokkies
polka genoem. Faan het glo ook die volgende storie vertel. Of dit
waar is sal ons nie kan sê nie. Ons weet egter dat hy baie
in Louis Trichardt se wêreld gekom het. Hy vertel dat hy en
Sakkie op 'n dag by 'n plaas verbyloop. Hulle sien toe 'n hele klomp
mense onder die bome by die huis sit. Die mense het almal eienaardige
wink-bewegings met hulle arms en hande gemaak. Faan se toe aan Sakkie
dat die mense vir hulle wink en hulle gaan toe nader. Gou het hulle
egter besef dat die mense besig was om kaboemielies te eet! Of hulle
saamgeëet het, weet ons ook nie!
Faan was ook baie goed bevriend met Freek Stopfort (leier van die
Vyf Takhare) en het baie by hom aan huis gaan speel. Faan Harris
se bydrae tot ons boeremusiekskat kan nie gemeet word nie en sy
naam sal in die annale van ons boeremusiekgeskiedenis en -erfenis
nooit vergeet kan word nie.
Hy is in 1886 gebore en is op 64-jarige ouderdom in Krugersdorp
oorlede. Op 20 Maart 1950, is hy in die Sterkfonteinbegraafplaas,
Krugersdorp, begrawe. Die oprigting
van 'n gedenksteen op Faan Harris se graf is een van die grootste
mylpale en oogmerke wat die Tradisionele Boeremusiekklub bereik
het. Die inskrywing weerspieël waarlik die waardeering wat
aan Faan Harris geheg word: "Baie dankie vir jou besondere
bydrae tot ons tradisionele Boeremusiek "
Laurie du Preez (links) en Piet Bester (regs) by die grafsteen vir
Faan Harris
[Foto kopiereg voorbehou]
|