Op 6 Augustus 1985 het Professor Charles Fensham in 'n brief
aan Piet
Bester hierdie biografiese inligting oor homself aangebied:
Dit mag jou interesseer om te weet dat ons 'n boere-orkes
op Stellenbosch het wat steeds aan die speel is. Dit is 'n klompie
jare gelede deur mev Marie Opperman, prof Dirk Opperman, die
digter se vrou, gestig. Dirk het voor sy siekte daarin die teekisdrom
gespeel en ek die konsertina. Ons noem dit die Bosorkes. Dit
is sommer 'n lekkerspeel-orkes wat hom toelê op tradisionele
musiek. Geen moderne "boeremusiek" word gespeel nie.
Die huidige lede is:
| prof Charles Fensham (Leier) |
: konsertina |
| mev Christine Celliers
|
: Klavier |
| prof Andrè
Rabie |
: Trekklavier |
| prof Bernhard Combrinck |
: Mandolien |
| mnr Jan Bouwer |
: Teekisdrom |
| mev Susan van der Walt |
: Kitaar |
| Fanie van Wyk |
: Kitaar |
| Edward Archer |
: Kitaar |
| John Holtzhausen |
: Kitaar |
Ons tree net op as ons deur instansies uitgenooi word, soos
by studente-byeenkomste, saamtrekke van senior burgers, Voortrekkersaamtrekke,
skoolfunksies, volksfeeste en onlangs self by 'n rofstoeibyeenkoms.
Ek het my konsertina by 'n oom in Koppies se wêreld op
'n tweery boerekonsertina geleer. Hoewel ek nou 'n drie-en-drie-kwartry
Wheatstone het, hou ek vas aan die ou sty1 van die tweery met
'n aantal variasies. Maar ek speel nog gereeld op 'n boerekonsertina.
In oom Pietie le Roux se orkes het ek kitaar gespeel en aan
solosang deelgeneem. As student aan UP het ek aan Voorslag behoort
en daar by geleentheid konsertina en kitaar gespeel en gesing.
Verdere besonderhede: Ek is op 13 Oktober 1925, in Heilbron,
O.V.S. gebore, het op Koppies grootgeword. Toe het ek aan UP
gestudeer, later aan US en nog later aan John Hopkins Universiteit
in die VSA. Vanaf 1951 is ek dosent aan US en het in 1962 professor
in Semitiese Tale hier geword.
Ek kan net noem dat my vader, Charles James Fensham, boerekonsertina
bespeel het, maar is te vroeg oorlede om enige invloed op my
te kon uitoefen. Ek het egter sy boerekonsertina geërf,
'n Schöler of soos die Boermense gesê het "'n
Saterdagaandjie". Ek weet nie of jy die uitdrukking ken
nie, maar die oumense het ges2 so 'n konsertina kon net vir
een Saterdagaand se dans hou. As dit twaalfuur word, het die
konsertinaspeler hom met geweld geruk en mooi netjies in twee
geskeur. As jongman het ek dit 'n slag probeer, maar gelukkig
nie geslaag nie. Miskien was my arms te swak. Toe ek op hoërskool
was, het ek 'n tweery Wheatstone gekry waarop ek heerlik gespeel
het, maar toe ek vir predikant gaan studeer, het my ma die speelding
stilletjies verkoop omdat sy gemeen het sulke musiek pas darem
nie by 'n predikant nie. Toe ek op Stellenbosch gekom en 'n
slag oopmond vir oom Jan Visser geluister het, het ek weer 'n
konsertina aangeskaf.
Tussen hakies, oom Jan Visser was 'n man wat die wonderlikste
goed uit 'n tweery kon haal. En die oubaas was by geleentheid
ook lid van Oom Pietie se orkes. Van Oom Pietie se konsertinaspelers
het ek net vir Oom Jan, oom Gert Marais en Klaas Rossouw geken.
Daar was ook oom Morgan O'Kennedy, maar die oubaas het 'n sesry
Wheatstone gehad, spesiaal vir hom laat maak waarop hy goed
soos The Last Rose of Summer
gespeel het.
In die Bosorkes het prof Dawie de Villiers, dekaan van die
Teologiese Fakulteit alhier viool per geleentheid gespeel tot
sy aftrede. En prof Combrinck hierbo genoem, is 'n teologiese
professor.
Geteken: Charles Fensham