Hy is op 6 Desember 1925, gebore en sê dat hy van kleins
af lief was vir duiwe en musiek. Toe hy net ses jaar oud was,
het hy 'n paar van sy spogduiwe aan Piet Rademeyer verruil vir
'n ukulele. Hy het dit gou bemeester en daarna die traporrel,
kitaar en banjo baasgeraak. 'n Rukkie later het hy 'n boerekonsertina
in die hande gekry en die gort was behoorlik gaar! Hy het dit
in 'n jagtrap leer speel waarna hy 'n driery Wheatstone bekom
het.
Op 9-jarige ouderdom was dit reeds baie duidelik dat hierdie
jong seun 'n buitengewone musiektalent het. Hy het die moeilike
konsertina sommer vanself leer speel en kon enige deuntjie op
gehoor dadelik speel. Om hierdie "wonderkind" se talente
verder te illustreer, moet vertel word dat hy op 11-jarige ouderdom
aan sy eerste lewendige radio-uitsending deelgeneem het! Hy
was begelei deur twee van sy broers, Hendrik, banjo en Piet,
kitaar.
Fanie se moeder vertel dat die bekende Coopers, Cissie
en Willie, Fanie na sy eerste uitsending baie keer by die
huis kom haal het vir ander uitsendings in Pretoria en Johannesburg.
Een program waarin hy opgetree het, was die destydse "Kinderhoekie".
Sy ma was in die begin bekommerd oor die uithuisigheid maar
het later daaraan gewoond geraak. Sy sê Fanie het altyd
na die uitsendings teruggekom met sakke vol vrugte, lekkers
en sommer baie geld! Die Coopers het hom die "wonderseun"
genoem. Toe sy broers en vriende besef dat hy baie geld het,
het hulle gereeld by hom kom leen. Hy was nooit suinig nie en
almal het in sy sukses gedeel! Hy het ook mooi duiwe aangeskaf
en was veral lief vir tuimelaars. Fanie het sommer oornag gewild
geword, en het byna elke aand gespeel sodat hy soggens swaar
opgestaan het vir skool! Sy onderwyseres - wat nooit bewus was
van sy buitengewone musiektalent nie - het hom dikwels aangespreek
wanneer hy vaak en moeg voorgekom het. Jare later het hy op
hierdie onderwyseres se dogter se bruilof gespeel! Hierdie onderwyseres
- wat toe eers bewus geword het van sy prestasie - het hom om
verskoning gevra omdat sy hom altyd so baie in die klas uitgetrap
het.
foto hier
Fanie Bosch se moeder en Piet Bester tydens die onthulling
Faan Harris se grafsteen van
Fanie se dat hy nooit enige lesse of onderrig gehad het nie
en dat hy maar self moes sukkel om die konsertina te bemeester.
Met sy deursettingsvermoë en uitstaande talent, kon hy
egter ontwikkel in een van die beste konsertinaspelers wat die
land nog opgelewer het.
Fanie was nog in sy vroeë twintigs toe hy en 'n vriend,
Eddie Kriel, een Saterdagaand na 'n koffiehuiskonsert in Pretoria
gegaan het. Pieter de Waal het die program aangebied en Hendrik
Susan en sy orkes het die musiek verskaf. Later die aand het
Eddie vir Hendrik gevra of Fanie ook so 'n bietjie kon speel.
Hy was nie baie ingenome met die idee nie, maar stuur tog vir
Tienie Coetzer, die bekende banjospeler na Fanie met die boodskap
dat daar besluit is dat Fanie tog een nommertjie kon speel.
Fanie het bly aan Tienie gesê dat hy selfs met 'n halwe
nommertjie tevrede sou wees. Die orkeslede, wat toe reeds beroemd
was en regtig goeie musiek gespeel het, was nie juis oorgretig
om saam met die onbekende jong snuiter te speel nie. Op hulle
vraag wat hy gaan speel, antwoord hy Tico- Tico. Hulle was baie
verbaas dat iemand hierdie nommertjie, wat werklik vinnig en
uiters moeilik is, met 'n konsertina wou aandurf! Fanie begin
speel en die klomp ervare musikante besef onmiddellik dat hierdie
mannetjie 'n bekwame en briljante virtuoos is. Sy styl, tegniek
en inskakeling by die orkes was verfrissend. Hierdie optrede
het daartoe gelei dat Fanie die volgende Maandag sy eerste plaat
saam met Hendrik Susan en sy orkes gemaak het!
Fanie het destyds 'n drie-en-'n-half-ry konsertina gehad wat
nie presies dieselfde toonhoogte as Nico Carstens se trekklavier
gehad het nie. Tydens die opname van hierdie nommer het Nico
toe kitaar gespeel! Fanie onthou ook goed hoe hierdie orkes
saamgestel was: Jurie Ferreira, ook kitaar, Tienie Coetzer,
banjo en Eddie Wyngaardt (die bekende saagspeler), bas.
Fanie het kort na sy fabelagtige opgang in die musiekwereld
sy regterwysvinger se eerste twee litte met 'n besering verloor.
Hy het 'n steen agter 'n vragmotor, wat in die modder vasgesit
het, se agterwiel probeer regskuif toe dit begin loop het en
sy vinger beseer het. Die wond het septies geword en die eerste
twee litte van sy vinger moes afgesit word. Hy kon nooit weer
hierdie stompie op die konsertina gebruik nie. Om hierdie man
se durf, vaardigheid en kundigheid te illustreer, moet die volgende
vertel word: Terwyl hierdie geamputeerde vinger nog in gips
was, het hy 'n radio-uitsending saam met Fred Luyt gedoen! Dis
feitlik onmoontlik om 'n konsertina sonder die gebruik van 'n
wysvinger te speel, maar hy kry dit reg en boonop terwyl dit
in gips is! Dis die waarheid! Ek het 'n foto van die orkes tydens
hierdie uitsending gesien en die verbinde vinger is duidelik
sigbaar! Om alles te kroon, het hy nog die Seervinger
wals gekomponeer en daardie aand uitgesaai!
Fanie het natuurlik van jongs af sy eie orkes gehad. Hy het
ook tydens uitsendings van "Bog met Bloumaandag" en
"Sommer vir die pret", saam met Fred Luyt en Hendrik
Susan opgetree. Hy het ook op 'n stadium saam met Hendrik Susan
getoer en baie van ons mooi land gesien.
Hy het baie gekomponeer en baie plate by Gallotone, Trutone,
Columbia en Troubadour gemaak. Hy sê dat hy so baie gekomponeer
het dat hy later nie meer name vir die liedjies gehad het nie.
Hy het eers sy susters en daarna vriende vernoem. Later het
hy die telefoongids geneem en name daar uitgesoek. Hy het ongeveer
130 komposisies agter sy naam en die hoeveelheid 78-spoedplate
wat hy gemaak het, kan hy glad nie onthou nie.
Toe hy Fanie se wals
gemaak het, was Chris Blignaut ook in die ateljee. Toe die opname
begin, praat Chris onverwags: "Hoor vir Fanie hoe breek
hy hulle harte met 'n lekker ou wals." (Vroeër het
ek altyd gewonder wie op hierdie opname so praat.) Hy sê
ou Chris het altyd iets gesing waarvan 'n gedeelte van die woorde
so lui: