Hierdie uitmuntende musikant het sy eerste lesse in verband met
die speel van 'n boerekonsertina by sy oudste broer gekry. Nadat
hy dit behoorlik bemeester het, kon hy dit letterllk laat lag
en gesels.
Oom Kerrie is op 11 Maart 1891, op De Deur naby Vereeniging,
gebore. Hy vertel met smaak dat hy aan die beginjare sy broer
se konsertina gesteel het om daarmee te oefen. Sy broer het
dit te hore gekom en hom toe maar gehelp om dit behoorlik onder
die knie te kry. Hy was baie musikaal en het vinnig gevorder
en het, myns insiens tot een van ons land se beste boerekonsertinaspelers
ontwikkel.
Hy was ook lank op die diamantdelwerye in Lichtenburg se wêreld
en dis daar waar hy die bekende Hier
wil ek nie bly nie so pragtig begin speel het. Hy het
dit gewoonlik só gesing: "Hier wil ek nie bly nie,
want 'diamonds' kan ek nie kry nie".
Hy vertel ook dat sy broer Chrisjan Blik
Parys gekomponeer het. Hierdie liedjie het sy oorsprong
in Parys gehad. In die depressiejare het baie Blankes aan die
spoorlyn tussen Dover en Parys gewerk. (Hierdie Parys is natuurlik
in die goeie OVS geleë.) Hulle was almal baie arm en het
in klein sinkhuisies langs die spoor gewoon. Chrisjan het hierdie
sinkdorpie "Blik Parys" genoem. Oom Kerrie vertel
ook dat die mense in daardie jare, alhoewel baie arm, baie vriendelik,
mededeelsaam en plesierig was.
Die lekkerste partytjie waarop hy ooit gespeel het, was in
'n waenhuis in Losberg. Hy het man-alleen met die boerekonsertina
gespeel en die mense het só lekker gedans dat die stof
letterlik getrek het! Die stof moes kort-kort effens natgesprinkel
word en die ouer mense kon ook so 'n bietjie lafenis kry van
iets wat mampoer genoem is!
Oom Kerrie was natuurlik ewe tuis met die Engelsekonsertina.
Versamelaars wat van hierdie plate in hulle besit het, kan hulleself
baie gelukkig ag. Afgesien van die konsertinas kon hy ook die
banjo, kitaar, klavier, orrel en kornet bespeel.
Hy het geglo dat 'n boerekonsertina werklik eers tot sy reg
kom met die begeleiding van 'n trapmusiek. (Dis nou eintlik
die huisorreltjie of harmonium.) Dis 'n bekende feit dat hierdie
twee instrumente pragtig harmonieer.
Oom Kerrie se familie was baie musikaal. Sy broer Dolf het
saam met hom kitaar gespeel terwyl Chrisjan, soos reeds gesê,
ook 'n goeie konsertinaspeler was. Sy oudste suster Poppie,
kon die huisorreltjie laat dreun. Sy en 'n ander suster Kotie,
is later met twee Christie-broers getroud, óók
baie musikaal en uitblinkers met die viool. Hierdie groepie
het toe sommer 'n uithaler familie-orkes gevorm.
Ná Oom Kerrie se jong swerfjare, sluit hy in 1931 by
die stadsraad, Krugersdorp aan, waar hy tot sy aftrede getrou
werksaam was. Hy is in 1929 op betreklike gevorderde leeftyd
getroud. Hy en sy vrou Johanna, is die ouers van die baie bekende
kitaarspeler, Ricardo
Bornman. Interessant: Pa en seun se name word nie eners
gespel nie. Ricardo het die ou familiebybel opgespoor en toe
vasgestel dat die familienaam nie Regardo is nie, maar wel Ricardo.
Hy het toe sy naam só laat verander.
Oom Kerrie was reeds drie en sewentig jaar oud toe hy sy laaste
opnames gemaak het. Hier is 'n lys van sy bekendste nommertjies:
Hier wil
ek nie bly nie
Pietersburg-mazurka
Blik Parys
Lekker Hendrik-settees
Vrystaat Bo-wals
Wolwehoek-mazurka
Oom Frits se polka
Oom Tien se settees
Vrystaat Verlange - wals
Hier wil ek nie bly nie
Pietersburg-mazurka
Blik Parys
Lekker Hendrik-settees
Vrystaat Bo-wals |
Wolwehoek-mazurka
Oom Frits se polka
Oom Tien se settees
Vrystaat Verlange - wals
Oupa se wals
Bosbank-settees
Tot Dagbreek-settees
Ou Parys-polka
Bosbank-polka
Strand wals
Wolwehoek-settees
Misvoet-vastrap
Witvoet-polka
|
Hy is op 77-jarige ouderdom oorlede.