
Pieter Johannes Bester is op 27 Februarie 1926 op Schweizer-Reneke
gebore, en hy het hier met sy laerskoolopleiding begin. Hy is
die derde seun van ses kinders, almal seuns, van Piet en Mart
Bester.
Sy ouers was baie musikaal en het pragtig saam gesing. Sy vader
was 'n goeie mondfluitjie- en kitaarspeler en het dikwels in sy
jong dae saam met die legendariese Sakkie en Gert van Wyk by funksies
opgetree. Albei sy oupas, Paul Bester en Jan Roodt, was uiters
musikaal en so ook van sy ander familielede.
Piet se kinderjare was in die arm-en-maerjare. Sy vader het destyds
by die Departement van Besproeiing en Lande gewerk en was onder
andere betrokke by die bou van die volgende damme en aanverwante
projekte: Hartebeespoortdam, Schweizer-Renekedam, Vaaldam en die
Vaalharts- besproeiingskema. Hy het later 'n perseel in Vaalharts
bekom waar hy en sy gesin na hulle vele omswerwinge baie gelukkig
gewoon en gewerk het. Sy ouers het na hulle aftrede op Warrenton
gaan woon, maar is kort daarna albei tragies in 'n motor ongeluk
oorlede.
Die grootword tydens die maerjare het die seuns in 'n hegte gesin
saamgebind, en hulle ware broederliefde en vriendelikheid maak
altyd 'n blywende indruk op buitestanders. Al die broers is redelik
musikaal en elkeen kan die een of ander instrument bespeel. Sy
broer Ben het al plaatopnames gemaak en sy orkes se musiek word
dikwels oor die lug gehoor.
Piet het van kleins af in musiek belanggestel en veral boeremusiek
het 'n groot indruk op hierdie klein, arm en oningewyde kêreltjie
gemaak. Sy ouboet Paul het intrumente aangeskaf en gou-gou kon
Piet die kitaar bespeel. Later het hy ook die banjo en konsertina
baasgeraak.

Piet Bester as seun met die kitaar
saam met sy broer Ben
Deesdae het hy die die mandolien en hawaiise kitaar onder die
knie gekry. Hy onthou ook nog die name van die manne van wie hy
destyds met die oog en oor "gesteel" het: eerstens sy
twee neefs, Hans en Willem Bester, dan Gideon van Rooyen, Johnnie
Swanepoel en Piet Faber.
In sy jondae het Piet baie op Vaalharts gespeel en ook groot pret
gehad. Die Volgende staaltjie kom uit dié geweste: hy,
sy neef Klaas en Giel Esterhuizen het een aand op 'n bruilof gespeel
waar hulle absoluut geen verversings gekry het nie. (In daardie
dae was spelers in daardie kontrei nooit eens vir dienste vergoed
nie.) Klaas het by dy verloofde, wat saam met hulle was, gekla
waarop sy toe aan hom sê dat sy 'n bottel drank in die klerekas
gesien het waar die dames hulle jasse en handsakke bêre.
Hulle het onmiddelik 'n plan beraam: die meisie moes die bottel
gaps en dit deur die venster vir hulle aangee! Alles het vlot
verloop en en gou-gou was die drie spelers by die waenhuis in
die maanskyn met hulle kosbare voggies! Omdat ou Giel die oudste
was, was dit vanselfsprekend aanvaar dat hy die eerste uit die
bottel moes drink want daar was natuurlik geen glase of bekers
nie. Hy het die prop afgehaal, die bottel omhoog gelig en dit
toe in sy keel omgekeer! Hy het onmiddelik begin verstik, begin
hoes en was sy asem vir 'n paar sekondes kwyt! Toe hy tot verhaal
kom, het hy die bottel weggeslinger en gesê dat hy sowaar
gif ingekry het! Hulle het hom dadelik na die waterkanaal geneem
waar hy sy mond uitgespoel en sy gesig gewas het. Na 'n paar minute
was hy darem kapabel om weer voort te gaan met die spelery!
'n Paar dae daarna het Piet die bruid se ma raakgeloop wat die
volgende kommertaar gelewer het: "Jy weet, daar was ook 'n
paar varke op die bruilof, want hulle het tot die medisyne wat
ek aangemaak het om my seer bene mee te smeer, uitgesuip."
Piet sluit in 1948 by die Suid-Afrikaanse Polisie aan en word
in Johannesburg gestasioneer. In 1951 word hy na die speurtak
oorgeplaas. Hy het op verkeie plekke diens verrig en was ook in
'n stadium aan die Moord- en Rooftak, Pretoria, verbonde waar
hy 'n hele paar keer deur landroshowe en ook deur die Hooggeregshof
aangeprys is vir uitstaande ondersoekwerk.
Piet se agtergrond as handhawer van wet en orde is die onderwerp
van baie staaltjies en ook gesekrtsery ten koste van hom. Op 'n
vraag oor hoe hy sy suksesvolle loopbaan as speurder begin het,
antwoord Piet: "Ek het eendag 'n vulpen in die straat opgetel
en toe hulle (die offisiere) nuwe speurders soek, besluithulle
dat as dié man 'n vulpen het, dan moet hy kan skryf, en
dit is goed genoeg om speurder te word!"
In 1981 word hy na Gazankulu se polisie gesekondeer waar hy opdrag
kry om 'n speurtak op die been te kry, wat hy ook uiters suksesvol
gedoen het. By aftrede het hy die rang luitenant-kolonel beklee.
Piet het altyd 'n gepaste antwoord of verklaring gereed; behalwe
een aand na ons die uitslag van die eerste kompetisie vir tradisionele
boereorkeste in die ateljee van die SAUK te Silverton aangehoor
het. Die wenners, Oudagorkes, Piet en ander gaste het ha die huis
van Dr. Ed Retief verkas om die oorwinning te vier. Terwyl die
maplotter-bure 'n potjie voorberie het, het Dr. Retied 'n gedeelte
van 'n voorraad mampoet uit die "oog" verwyder. Een
kas is egter netjies op sy plet gelaat, en toe die musikante begin
"gryp", het Piet homself neffens dié kas ingerig
en selfs sy kop daarteen gestut terwyl hy die banjo se snare meesterlik
laat sing.
Hy drink self niks sterker as 'n koeldrank nie en na die feesviereing
wou Ed van hom weet: "Oom Piet, sou jy sê dat jy op
jou dag'n goeie speurder was?" waarop hy "Ja!"
antwoord. Die verbasing op sy gesig en gebrek aan toevoegings
was merkbaar toe hy ingelig word: "Ek glo nie so nie, oom
Piet, want jy het die hele aand binne sentimeters vna die grootste
opslag mampoer in jou loopbaan gesit en speel sonder om onraad
te bemerk!"
Op 12 Maart 1981 was Piet Bester, in die kantore van die SAUK
in Johannesburg, een van die stigterslede van die Tradisonele
Boeremusiekklub van Suid-Afrika. Hy het die amp van sekretaris
beklee en was instrumenteel in die eerste projek van die klub
nl. om 'n grafsteen vir Faan Harris, die leier van die Vier Transvalers,
op te rig. In die jare 1987-1989 laat hy 10 uitgawes van die TBK
se lyfblad Vastrapper
die lig sien.
Hannes Viljoen (links)
en Piet Bester (regs) tydens die TBK AJV te Saamstaan vakansie oord,
5 Nov 1983
Vanweë sy intense belangstelling in boeremusiek het hy oral
in biblioteke en in museums navraag gedoen om meer daaroor te wete
te kom, maar hy kon feitlik geen inligting opspoor nie. Gevolglik
besluit hy om self navorsing te doen en sodoende versamel hy materiaal
wat lei tot die publikasie van sy eerste boek in 1987: Tradisionele
Boeremusiek - 'n Gedenkalbum.

Hy beself egter dat sy studie slegs die korsie van 'n baie uitgebreide
onderwerp aangeroer het, en hy begin dadelik met navorsing vir 'n
opvolg. In 1993 verskyn Boeremusiek
- 'n Tweede Gedenkalbum met verwysings na ongeveer 190 musikante
en 'n verdere 60 musikante word opgeteken in Boeremusiek
- 'n Derde Gedenkalbum wat verskyn in 2003.

Daar is baie fasette van Piet se karakter waarmee 'n mens kennis
maak: musikant, komponis, humoris, storie verteller, wysgeer, skrywer,
lojale vriend, minsame mens, en soveel meer dat hy op elkeen wat
hom kontak het, 'n blywende indruk laat.
Corrie Badenhorst vertel dat hy en Nic le Roux, 'n kitaarspeler,
een aand in 1971 in Pietersburg reëlings getref het om die
"sogenaamde" konsertinaspeler te ontmoet en op die proef
te stel. Op sy beskeie manier het Piet eers sy gashere 'n kans gegee
om 'n paar nommers te speel voordat hy hulle met sy konsertinakuns
verras het. Dié bymekaarkomplek was dan ook die begin van
Piet se orkes, die Mopani's.
Alhoewel baie musikante oor die jare heen gekom en gegaan het,
is 'n hegte vriendskap tussen Piet en Corrie opgebou. Hulle het
baie aande saam in Piet se motorhuis gespook om nuwe nommers onder
die knie te kry. Piet se standaarde is hoog, en as hulle die keer
baie moes sukkel om 'n wysie reg te skaaf, het hy gedreig om sy
konsertina stukkend te sny!
Vanaf 1976 het sy orkes gereelde radio-uitsendings gedoen en een
transkripsieplaat gemaak. Hy het ook opnames vir ongeveer 14 langspeelplate
gemaak en sy styl met sowel pompie as die banjo is baie kenmerkend.
Hy is lid van SAMRO en die volgende is van sy bekendste komposisies:
Vaalharts Verlange
Vasvat, ou Hans
Boet Ben se vastrap - opgedra aan Ben Bester
Pietersburg se blommetjies
Spelonk Vastrap
Oom Faan se vastrap
Polla se settees
Ou Neels se wals
'n Deuntjie vir Danie - opgedra aan Danie Labuschagne
Ver in die ou Vrystaat
Neef Corrie se wals - opgedra aan Corrie Badenhorst
Soebat settees
Moenie Doenie - opgedra aand Danie Grey
Die wa bly staan in Taaibosspruit
Piet het die regsbeginsel dat die beskuldigde die voordeel van
die twyfel ontvang in sy lewensfilosofie ingeruim. So byvoorbeeld
gun hy elke musikant. 'n plekkie in die sone en gevolglik trag
hy om altyd iets positief in 'n ander man se musiek te hoor, eerder
as om hom af te kraak. Sy meesterlike aanslag op die banjo, gemoedelike
lewensuitkyk en altyd teenwoordige humor maak van Piet 'n gesogte
uitgenooide by alle boereorkeste waar hy dan gewoonlik die vlak
van musiek merkbaar aanhef. Die feit dat hy nooit die spel met
die sterk klanke van sy banjo probeer oorheers nie, reflekteer
Piet se beskeie karakter.
In Pietersburg is Piet se orkes gereeld betrokke by byeenkomste
vir liefdadigheid, en vanweë sy besondere rapport met die
"oumensies" tree hulle by ouetehuise op om die bejaardes
op te beur. Aan die ander kant van die ouderdomspektruk, het hy
die jeug aan die klanke van tradisionele boeremusiek voorgestel
deur lesings by skole aan te bied en musiekaande te reël.
Hy het ongeveer 50 vergrotings van boeremusikante se fotos aan
die Pietersburgse museum geskenk en in sy eie studeer- en musiekkamer
hang sowat 80 fotos van ou veterane van die boeremusiekwêreld.
Hy sê altyd dat hy tussen sy vriende en hulle musiek die
lekkerste kan werk en lewe, wat 'n moontlike verklaring vir sy
huis se naam, Piet se spelonk, bied.
Daar bestaan geen twyfel dat Piet Bester se lewenstaak aangedryf
is deur 'n onblusbare liefde en geesdrif vir tradisionele boeremusiek
en 'n intense belangstelling in alle aspekte van die Afrikaner
se volksmusiek nie. Die vrugte van sy arbeid sal dus moeilik geëwenaar
word.
Soos die spits van die ysberg, verteenwoordig die bostaande sketse
slegs uittreksels uit die vol en ryk lewe van 'n groot kampvegter
vir boeremusiek.
Dr. Ed Retief
|