
Willie is op 10 Julie 1918, in die distrik Swartruggens gebore.
Op 20-jarige ouderdom het hy met die konsertina begin en sê
dat Attie Dercksen hom so 'n bietjie touwys gemaak het. Later
het hy ook die kitaar, orrel en klavier bemeester, maar hom
meesal op die konsertina toegelê.
Willie het ook 'n hele paar komposisies agter sy naam: Piet
se banjo, Piet Grootman, Erfdeel settees, Welkom wals.
Hy het slegs 78-spoedplate gemaak en tydens sy eerste opnames
is hy deur die volgende welbekende persone begelei:
| Willie Welgens |
: Kitaar |
| George Abrahams |
: Banjo |
| Dave Truter |
: Klarinet |
| Danny du Toit |
: Basviool |
| Dawid de Lange |
: Sanger |
Daarna het die volgende persone hom meesal begelei:
| Tiny Mey |
: Trekklavier |
| Jan Breedt |
: Kitaar |
| George Abrahams |
: Banjo |
| Vic Wiehahn |
: Basviool (wat hyself gemaak het) |
| Stan Murray |
: Kitaar |
| Jack Dowle |
: Orrel |
Willie vertel dat hulle ongeveer 1944 of '45 in Primrose op
'n bruilof gespeel het. Dit was 'n Saterdag en hulle moes dieselfde
aand 'n lewendige uitsending doen by die SAUK in Johannesburg
tussen 21h30 en 22h00. Hulle was gelukkig betyds by die ateljee
waar 'n dametjie reeds besig was om die mikrofone vir die verskillende
instrumente op te stel. Sy het aan Willie gevra of iemand gaan
sing en op die ingewing van die oomblik sê hy ja, hy gaan
sing. 'n Mikrofoon is toe vir hom opgestel. Daar was glad nie
'n sangnommer op hulle program nie en nie een van hulle het
ooit tevore 'n sang-oudisie geslaag nie!
Toe die oomblik aanbreek, is daar met die program begin en
hulle speel sommer windmaker, want hulle het mos 'n gawe oefening
by die bruilof gehad! Terwyl hulle besig was met Sonop van C.
en W. Cooper, besluit Willie dis tyd om te sing en stap na die
mikrofoon toe en begin ewe lustig sing. Hy sê vir hom
het dit baie mooi geklink en hy was baie trots dat hy daarin
kon slaag om ook oor die radio te sing!
'n Paar dae na die uitsending het Tiny Mey, wat die leier van
die orkes was, 'n brief van die SAUK ontvang waarin hy in kennis
gestel is dat sy kontrak vir toekomstige uitsendings gekanseller
is. Die rede was dat die "sanger" - soos Willie dit
self gestel het - "onbekwaam was!" Tiny sê dat
hy eers baie jare na dié voorval weer toegelaat is om
aan radio-uitsendings deel te neem. Willie is baie spyt dat
hy Tiny so 'n groot onreg aangedoen het, maar tog het hulle,
ten spyte van die voorval, groot vriende gebly. Tiny is 'n baie
groot man, en 'n mens kan sien dat hy ook 'n groot hart het.
Onlangs het hy weer Willie as 'n gaskuns-tenaar gebruik toe
hy in 'n program van "Konsertinaklub" opgetree het!
Willie het baie lank in Frank Mey, Tiny se vader, se orkes
gespeel. Daar was ook 'n paar baie bekendes in daardie orkes:
| Frank Mey |
: Tromme |
| Anna Mey (Frank se vrou) |
: Banjo |
| Seun Coetzee |
: Banjo |
| Danie Strauss |
: Hawaiïese kitaar |
| Danie Barnard |
: Kitaar |
| Boet Coetzee |
: Klavier |
Willie vertel dat hierdie orkes in die veertigerjare die tweede
plek in 'n boereorkeskomp-etisie aan die Oos-Rand ingepalm het.
In 'n soortgelyke kompetisie in Pretoria het hulle die vierde
of vyfde plek ingeneem. In laasgenoemde kompetisie het vyf en
twintig orkeste deelgeneem.
Willie het die volgende spelers baie goed geken: Faan Harris,
Pietie Prinsloo, Willie Welgens, J.P. Bodenstein en Fanie Bosch.
Ons het die volgende plate van hom nog in bewaring:
Piet Grootman
Elke Dag
|
GE 472 Gallotone |
Die Tukkel settees
Die Welkom wals |
GE 507 |
(Tydens bogenoemde opnames het Hendrik Susan se orkes hom
begelei.)
Middernag
Ons Jool saam |
GE 508 |
Flippe se vastrap
Oela se Bokke |
AC 905 Trek |
Piet se Banjo
|
GE 462 |
Willie kom laat
Waatlemoen Fees
|
AC 915 |
Willie was en is nog steeds 'n uitstaande konsertinaspeler
en kan met die bestes van sy tyd vergelyk word. Dit is jammer
dat hy nie meer aktief is nie. Willie, alhoewel ons weet dat
die jare nie stilstaan nie moet jy nooit vergeet nie, hoe ouer
die wyn, hoe beter die smaak!