Herman Carl (Harry) Bartz is op 19 Junie 1916, in Woodstock,
Kaapstad, gebore en was vir baie jare in diens van die poswese.
Sy vader was 'n polisiebeampte te Woodstock en sy moeder 'n
matrone by dieselfde polisiestasie. Hy speel konsertina en sy
leermeester was die legendariese Boy Solomon en Harry het oom
Boy Solomon van kleins af geken. Laasgenoemde was die bekendste
konsertinaspeler van daardie jare en die leier van die
Voortrekker Danskwartet.
Oom Boy het ongeveer in 1930 vir die klein Harry begin lesse
gee. Oom Boy was 'n baie streng leermeester en Harry sê
dat hy na 'n paar jaar se lesse eers vaardig genoeg met die
instrument geag is vir Oom Boy om hom te vra om saam met hom
by funksies op te tree. Hulle het met twee dubbel-aksie konsertinas
gelyktydig gespeel. Harry is vol lof vir Oom Boy en beskou hom
as een van die beste onsertinaspelers wat die land nog opgelewer
het Hy is ook dankbaar dat hy by so iemand kon leer, en speel
vandag nog van sy komposisies. Harry is 'n buitengewone goeie
speler en kenners dink baie van sy musiek
Gerty Fourie vertel dat gedurende die oorlogsjare (1939-1945)
het Harry en 'n vriend per motorfiets in die destydse sandstrate
van Goodwood gery om op 'n dans te gaan speel. Die motorfiets
het in die sand gegly en Harry, wat die passasier was, het hard
met moederaarde kennis gemaak. Sy wit broek het 'n lelike skeur
opgedoen en toe hulle by die dansplek opdaag het hy naarstigtelik
na haakspelde gesoek om sy broek weer draaglik te maak.
Harry het saam met Japie Laubscher skoolgegaan in Balfourstraat,
Woodstock. Hulle was ook jarelank groot vriende. Gedurende 1939
het Harry saam met Oom Boy en seuns in die Ons
Landers Orkes gespeel. Hy het al die musikante van Kaapstad
en omgewing ontmoet en vertel dat dit aangename jare was. Na
skool het Oom Harry by die stadsraad van Kaapstad gaan werk,
maar is later na die poskantoor waar hy tot sy aftrede in 1977
gewerk het. Oom Harry sê dat hy sy eerste dubbel-aksie
Lachenalkonsertina in 1930 gekry het. Sy vader het dit vir hom
by Oom Boy vir dertig ghienies gekoop. Dit was dieselfde konsertina
waarop hy leer speel het. Oom Boy het toe vir homself 'n ander
een by Morgan O'Kennedy gekoop. Nadat Harry die Ons Landers
Orkes verlaat het, het hy by die Welkom Orkes aangesluit en
saam met Mynie Reyes, Gene Prestwich en Joe en Louis Fourie
gespeel. Hulle het baie op danse gespeel en het ook baie lewendige
uitsendings oor die radio gehad. Daarna het Harry vir vyf en
twintig jaar nie gespeel nie.
Gedurende 1978 het hy en Mynie weer begin saamspeel en het
veral vir liefdadigheids-organisasies opgetree. In 1980 het
hulle ingeskryf vir die boeremusiekkompetisie wat die SATV aangebied
het. Hulle het nou wel nie die kompetisie gewen nie, maar het
baie briewe van bewonderaars en ook van waardering vir hulle
musiek, vanuit alle hoeke van die land ontvang. In 1981 het
hy en Mynie 'n langspeelplaat gemaak.
Die bekendste musikante saam met wie Harry opgetree het, was:
Frank Malan - viool, Mynie Reyes - viool, Christie Church -
viool, Koos Viljoen - kitaar, Jackie Naude - kitaar, en vele
ander. Hy het ook lewendige uitsendings saam met Nico Snyman,
Imker Hoogenhout en André de Villiers gedoen. Oom Harry
het gereeld in die radioprogram, "Konsertinaklub"
opgetree en komposisies van Oom Boy, soos die
Winter wals en Die Gesellige
wals gespeel. Ons bring graag hulde aan een van ons beste
maar ook van ons laaste groot dubbel-aksie konsertinaspelers
van die Kaap.
Hierdie man is feitlik al skakel tussen ons ryke verlede en
die hede wat hierdie soort konsertinaspel betref.