Dit is 'n vraag wat kenners al vir jare laat kopkrap en kan nie
beantwoord word sonder 'n mate van polemiek nie. In kort, definieër
ons, Die Tradisionele Boeremusiekklub, dit as instrumentele volksmusiek
wat dateer uit die era toe die persone wat dit beoefen het internasionaal
bekend gestaan het as "Die Boere" van Suid-Afrika. Dit
is informele musiek wat op 'n kenmerkende manier gespeel word
en is hoofsaaklik bedoel as begeleiding vir sosiale danse.
Vir die doeleindes van hierdie gesprek word ander tipes Afrikaanse
musiek uit dieselfde periode, soos ballades, serenades asook musiek
gemik op 'n passiewe gehoor, uitgesluit.